‘n Besonderse persoon – Gaaf de Wet

In opdrag van Scrapydo.

As ek moet dink aan ‘n besonderse persoon om oor te skryf, is my heel eerste gedagte my pa, maar oor hom het ek al meermale geskryf. Hy was so ‘n wonderlike, liewe mens, ‘n allemansvriend. Of aan tannie Mags. Of my ouma Lenie. Vandag wil ek egter skryf oor my broer, Gaaf.

Gaaf was my oudste broer, sewe jaar ouer as ek. Hy was ‘n vredemaker. Omdat hy soveel ouer as ek was, was hy soos ‘n regte ouboet, ‘n beskermer. Nou moet ek darem dadelik bysê, ek het dieselfde beskerming my hele lewe lank van my ander broer ook geniet, behalwe dat ons op skool mekaar maar lekker kon opvryf, soos broers en susters mos maar maak.

Ons was mal oor Gaaf. My kinders was mal oor hom. As hy by ons kom kuier het, sou hy niks daarvan dink om gou die kinders in die bakkie te laai en na die plaaswinkel 6 km verder te ry om vir hulle lekkers te koop nie.

Toe ons in die wildtuin getoer het, ek was in standerd drie, hy dus in matriek, het hy daagliks vir my gevra om dieselfde olifantgrappie oor en oor te vertel en keer op keer het hy ‘nie geweet’ wat die antwoord was nie. 🙂

Gaaf was ‘n waaghals, maar ook maar lekker bang, nes ek. Een keer moes hy gaan lusernsaad haal in die Klein Karoo. In daardie jare was dit ‘n beheerde produk en was dit erg teen die wet om dit by ‘n boer te koop. Op pad soontoe, terwyl sy bakkie nog leeg was, stop die polisie hom in ‘n padblokkade. Hy was wit geskrik. Hulle vra hom waarheen hy op pad is en hy sê, doodeerlik en doodverskrik dat hy regtig nie weet nie! En hy het nie geweet nie!

Gaaf het baie ‘sports’ gemaak en ons het baie lekker gedagtes aan hom. Pretgedagtes. Byvoorbeeld, kort ná sy dood neem ek my dogter die oggend skool toe. Daar was padwerke. My dogter sê op ‘n stadium dat ek te ná aan die oranje keëls in die pad ry en hulle nog gaan raakry. Waarop ek antwoord dat ek darem nog nooit een raakgery het nie en dat dit heeltemal moontlik is, maar as sy dit nou vir oom Gaaf sou sê, hy onmiddellik tussen die keëls sou deurvleg. Lekker lag sy en sê, ja, dit is presies net so. Ook net om te demonstreer hoe lief my kinders vir hom was. My dogter wou nie sommer saam met enige een ry nie en as ek haar om een of ander rede nie by die skool kon optel op ‘n Vrydag nie, sou sy sonder skroom vra dat ek vir oom Gaaf moet vra om haar te kom haal.

So ‘n vrolike liewe mens wat hy was, beteken dit nie dat hy altyd maanskyn en rose gehad het nie. Die lewe was goed vir hom, maar het hom ook lelik gehap. Soms was hy self vir die happe verantwoordelik, maar baie keer was hy ‘n slagoffer daarvan. Soms deur sy eie toedoen, baie keer nie.

Op ‘n stadium het hy nie meer kans gesien vir sy omstandighede nie en het hy sy hand aan sy lewe probeer slaan. Hy het gif gedrink. Hy was vir baie lank daarna in ‘n koma, het by die dood omgedraai, en het oorleef. Hy was aanvanklik totaal verlam en sy organe moes een vir een weer leer om te werk. Dáár het my respek en liefde vir hom net meer geword, want hy het voluit gewerk daaraan om weer mens te word. Op die end kon hy loop en selfs fietsry, maar hy het maar met ongemak byvoorbeeld trappe geklim. Hy het sy hart totaal vir die Here gegee en Sy pad begin loop, ‘n totale ommeswaai in sy geloofslewe gehad.

Op ‘n nuwejaarsdag het my neef vir hom gaan kuier en het hom dood aangetref, twee weke nadat sy lieflingdogter in ‘n ongeluk oorlede is. Hy is dood aan natuurlike oorsake, maar ek dink hy het hom dood getreur, dat sy nie heeltemaal gesonde liggaam net nie die skok kon hanteer nie.

Gaaf, dit was wonderlik om jou te ken. Dit was wonderlik om jou sussie te wees. Dankie vir al die vreugde wat jy vir ons gebring het, ook vir al die stoutigheid en pret. Ek glo met my hele hart dat die hemel nie meer dieselfde plek is vandat jy daar is nie en ek sien uit na die dag wat ek vir jou weer sal sien.

Jou ‘oudste’ sussie, soos jy altyd gesê het, waarop ek geantwoord het, jou ‘mooiste, liefste, beste, dierbaarste, wonderlikste’ sussie, want ek was sy enigste sussie.

Toortsie

9 thoughts on “‘n Besonderse persoon – Gaaf de Wet

  1. Jou beskrywing van jou broer laat my maar net weereens besef hoeveel impak ons woorde op ons lewens het. Elke dag is die positiewe oor hom uitgespreek “GAAF” is dit nie wonderlik nie! Ons woorde het krag en wat by ons mond uitgaan het impak!

    Liked by 2 people

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s