Mens

Ag, maar dis lekker om weer mens te voel! Wat is die slaap? ‘n Wondersoete ding.

Nadat ek vir ‘n paar dae net gerus het – geslaap, geëet, gelees en met my huismense gesels het, het die lewe weer begin terugvloei in my lyf. Ek gaan stap langs die see, wat ‘n voorreg, kyk die baie bote wat verbykom – op hierdie oomblik, sonder om my kop of oë te draai, sien ek drie bote, bid vir hulle, borduur, brei, kyk The Crown, sjoe!, wat ‘n plesier, doen selfs soms, net soms, my rugoefeninge. Spandeer tyd met my God.

Ek voel weer mens. Nog nie soveel mens om weer soos ‘n hopballetjie op steroïede te wees nie, maar mens, en dit is ‘n lekker gevoel. Ek doen die minimum, veral wat huiswerk aanbetref. Was net skottelgoed, niks meer nie, ek het mos borde en hoef daarom mos nie van die vloer af te eet nie, of hoe?

Terwyl ek gister so langs die see stap en op ‘n bankie sit en toelaat dat die branders sommer my siel skoonwas, kan ek nie anders as om te dink hoeveel keer hierdie selfde branders al my hart en siel moes skoonwas nie. Hoeveel hartseer ek al hier langs die strand kon wegwas. Wegwerk. Verwerk. Ek onthou dat my pa altyd gesê het dat, as die lewe hom te kwaai gedruk het, hy Koppie Alleen toe gery het en sommer net na die see gekyk het en hy weer moed gehad het. Die see. Ek wonder hoeveel mense al nuwe moed en nuwe krag gekry het van so na die see staar. Ek het dit op ‘n gereelde basis nodig. Ek het nodig om die see te hoor. Te sien. En ek is dankbaar vir elke keer wat ek die voorreg het om dit te kan doen. Dankbaar dat ek na genoeg aan die see woon om hiernatoe te kom as die behoefte daar is. Die see het ‘n manier om jou rustig te maak. Heel te maak. Skoon te maak.

Ek is nog nie weer heeltemal spiekeries nie, maar gee kans, ek sal daar kom. Dit is natuurlik ook nie dat dit sleg gaan met my nie, ek is net nog lus vir ‘n bietjie rus. ‘n Hele bietjie. Intussen, geniet dit waar julle ookal is.

Toortsie

19 thoughts on “Mens

  1. Toortsie, ek is een van daai mense wat voel hoe die negatiewe energie uit my vloei as ek kyk na die branders, die ewige kom en gaan van al daai massa water sit en kyk. Die krag van ‘n brander wat teen ‘n rots slaan, dit stukkend slaan, die kus verander. Daarteenoor voel ek klein.
    Lekker vakansie hou. Ons sal tog kom hello sê.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!