Boompies vir Rebusfontein

Genade! So ‘n bedrywigheid het ek lank laas op Rebusfontein gesien! Die arme boerseun met die baie name, regtig baie name soos boerseuns behoort te hê, ek noem hom sommer Boeta, werk hom kapot! Want sien, hy kan ons blykbaar net vir drie weke help, dan moet hy terug.

Die Goue Vroue, of Towerinne, nes jy wil, hulle kry ook al hoe meer name, ‘n teken van adellikheid, sien, se koppe werk oortyd om sy vaardighede te benut voor hy weer moet vertrek. Hy plant die mooiste blommetjies by Seegogga, vir my moet ‘n watertenk ingesit word, Trommeltjies het ‘n hoenderhok nodig, Woordnoot voel dat die meent opgeknap moet word, VirgoC se karavaan het ‘n pap wiel, so gaan dit heeldag aan. Scrapy het ook heelwat hulp nodig om haar karavaan weer reg te ruk na die lang tyd van wegwees.

Toe kry Appeltjie ‘n plan. Dis Kersfees en Rebusfontein moet versier word. Hier moet kersbome kom. Regtes. Net daar word Markus Bismarck Piet Paul Klaas van Staden, oftewel Boeta, opgekommandeer om sy byl te bring en net soos die sewe dwergies van ouds is die hele lotjie toe in gelid na die dennebos net buite Rebusfontein. Boeta vooraan met sy byl, die Goue Vroue in ‘n ry agterna, al babbelende, planmakende. Elkeen het haar eie idee van hoe haar boom moet lyk en watter tak of boompie Bismarck vir haar moet afsaag. Una praat aanmekaar, want sy het baie idees vir haar boompie.

Frannie soek ‘n lang, hoë boompie om by haar toringhuisie te pas. Seegogga hou van ‘n meer kunstige een, hoe dit ookal lyk. Positief is so opgewonde, want sy het pragtige rooi en groen houers gehekel waarin die boompies moet staan. Ek is natuurlik net so bly oor die pragtig gehekelde houers, want ek het vir my boompie ‘n klomp piepkleine kersversierinkies gehekel, so my boompie moet sommer baie takke hê. More is more, julle weet. Christa hou van ‘n minimalistiese boom en het baie mooi vir Markus gewys watter een sy verkies. Hy moes sommer net daar ‘n klompie van die onnodige blare afskraap en onnodige takke afsny.

Toe elkeen uiteindelik tevrede is met haar boompie, is ons terug. Hierdie keer natuurlik minder maklik, want elkeen moes haar eie boompie dra. Dit is ‘n gekreun en gesteun, maar wie gee om? Kersfees is hier en ons is opgewonde. Aalsie met haar entoesiasme kry dadelik ‘n plan om ons op te beur en val in met Jingle Bells en al die ander vrolike kersliedjies. Dadelik val ons ander in en sing saam, julle moes ons net hoor! Jingle Bells, Jingle Bells, Jingle Bells Rock.

So al singende, stap ons terug, gaan sit ons boompies elkeen op sy plek en net daar roep Sonell ons en sê, “komaan Goue Vroue, ons is nou so in die gees van Kersfees en dit was ‘n lang dag. Kom almal meent toe. Toortsie, bring jou kitaar saam.” En daar, op die meent het ons vir nog lank sommer net lekker gesit, regte Kersliedere gesing, ‘n vuurtjie gemaak en tot laatnag gesels. Môre kan ons die boompies versier.

Toortsie

25 thoughts on “Boompies vir Rebusfontein

  1. Lekker ou lekker. Dit klink na n fees wat besig is om te gebeur. Baie bly om so baie al daar te sien. Ek hoop om jul binnekort te vergas met n besoekie. Duimgooi werk nie vir my nie. Vliegtuie vlieg nie reguit nie en ook nie met passasiers nie. My kop het al n kaal kol soos ek gekrap het om n plan te maak. Geniet jul kuier.

    Like

Gesels saam, asseblief!