Ek was nooit ‘n goeie skaatser/skïer nie. Om die waarheid te sê, ek was glad nie een nie. Puppy, lyk dit my, was goed hiermee.
My baie goeie vriendin het al in haar laerskooldae rolskaatse gehad en het dit tog te graag gebruik. Sulke oulike skaatsies waarvan jy die grootte kon verander soos wat haar voete gegroei het. Ek het nie eers probeer nie.
Later jare het skaatsplanke in die mode gekom, maar om een of ander rede het ons vir ons kinders ‘snakeboards’ gekoop. Dit was soos ‘n skaatsplank, maar jy moes jou voete heen en weer beweeg om die toestel aan die beweeg te kry en dan het dit soos ‘n slang gekronkel. Ons kinders was baie vaardig daarmee en het ure, maande, jare se vermaak daarmee gehad. As ander kinders daar kom kuier het, was die snakeboards beslis een van die grootste aantrekkingskrag. Maar ek? Nee dankie!
Ons skoolkinders het so een of twee keer as ons met ‘n skoolgroep in die Kaap was, by Goodwood se ysbaan gaan skaats. Nee wat! Ek het nie eers probeer nie, ek was net te bang dat iemand oor my vingers ry met so ‘n skaats en hoe gaan ek dan kan musiek maak?
Een keer is ek en my man Mauritius toe. Soos ons gewoonlik doen, het ons vooraf besluit dat ons ons vrese by die huis los. Daarom sou ek ook probeer ski. Genade! Ons kry ons vooraf les by die man, ek luister aandagtig, en uiteindelik is hy met ons water toe. Ons gaan nou ski. Ek is REG vir die ding!
Daardie dag suip, nie drink nie, ek Mauritius se see leeg. Daar was nie ‘n manier dat ek selfs net een keer regop kon kom nie. Op die ou end het die ou my sommer so aan die skitou teruggesleep. My man het tog te lekker geski.
Tydens ons Europese wintertoer ‘n paar jaar gelede, wou ek en my seun saam op ‘n slee die berge af. Hy sou die slee beheer, ek ry agterop. Ons oefen op die klein oefenbaantjie en ja, ek is reg. Ons vat dit stadig. Met die eerste draai vat hy per ongeluk die skibaan links in plaas van reguit op die sleebaan. Ek gil dat die berge eggo: “Stop! STOP! Jy gaan ons verongeluk! Dis verkeerde baan!” Ek slaan my twee voete in die sneeu in en bring die slee tot stilstand. By nadere ondersoek besef seun toe dat hy verkeerde baan geneem het. Hy vra besorg: “Ma, is ma seker ma wil dit doen?” “Nee”, sê ek. Net daar klim ek af en hy gaan ruil sy slee in vir ‘n ekstra vinnige een en weg is hy. Hy vertel dat daardie skuinstetjie ‘n babatjie was teenoor wat later gevolg het. En die volgende dag nadat die sneeu gesmelt het in die sneeu en weer geys het, was dit seepglad en lewensgevaarlik. Nee wat, die trein werk baie beter!
Skoonseun kon ski. Hy het ons en vir hom ‘n hele dag besig gehou en ek kry nounog die genoegdoening daarvan as ek daaraan dink.


En ek? Ek bly op vaste grond met my voete.

Toortsie
Ons het rolskaatse gehad as kinders. Moes teerpad toe gaan om te skaats want ons het net gronpaaie gehad. Gevaarlike speletjie. Ek het jou Ierse hekelwerk nie ingegaan nie maar wel dit gegoogle en het self heelwat van die hekelwerk op my dag gedoen. Ek hou daarvan om dit te doen.
LikeLiked by 1 person
Dit is eintlik nie ‘n blog wat ek wou opsit nie. Ek wou sekere skakels toets, maar dit het nie gewerk nie. Het weer afgehaal. Toe ek dit begin skryf het, het ek ‘n klomp oragtige skakels opgesit. Dit lyk my daardie oatrone is intussen afgehaal.
LikeLike
Okay, ek sien, dit het vir darem iets gegee om op te soek.
LikeLiked by 1 person
Ek deel jou pyn. My voete gaan ook ander rigting as skaatse.
LikeLiked by 1 person
My lyf werk beslis nie saam met ‘n bewegende wêreld onder my nie.
LikeLike