Krom stokke

Hierdie is vir my ‘n uiters persoonlike skrywe. Dit is my persoonlike mening wat ek op niemand wil afdwing nie, maar wat ek gedring voel om te skryf. Ek neem niemand kwalik wat van my verskil nie. Tog het ek die kommentare vir hierdie bloginskrywing afgesit, ook om persoonlike redes.

Dit gaan oor my kerk.

Ek is my lewe lank lid van die NG Kerk, net soos my ouers en ek glo, hulle ouers ook. Dit is die kerk waarin ek grootgeword het. Die kerk wat ek ken. Nee, ek stem nie saam met alles wat hulle sê nie, ook nie met besluite wat hulle in die ou dae geneem het wat ons almal beïnvloed nie, maar sou ek hulle verlaat, waarheen sou ek tog gaan? Elke kerk het sekerlik maar sy foute.

Iemand het nou die dag, sonder dat hy dit besef het, profeties met my gepraat. Hy het twee goed gesê: “God gebruik krom stokke om reguit houe te slaan” en “Moenie daar weggaan nie, want dit is nodig dat jy God se lig daar skyn.”

Dadelik is ek dankbaar dat God ook vir my, ‘n uiters krom stok, kan en wil gebruik om Sy Woord uit te dra, om vir ander mense te bemoedig, ondersteun, te help om dit wat hulle pla, met Sy hulp uit te sorteer. Want ek is ‘n krom stok. En omdat ék ‘n krom stok is, hoe kan ek my dan probeer beter hou as ander krom stokke?

En die lig in die kerk. Ek is so dankbaar vir soveel Christene wat hulle lig in ons kerk skyn. Nie net ek nie. En ek is dankbaar vir goeie dominees wat nog goeie preke lewer, preke wat my laat dink, preke wat my laat optree. Ligdraers wat omgee vir ander mense.

Maar ek is ook bekommerd.

Ek is bekommerd dat ons die Bybel verdraai, God se Woord verdraai vir humanistiese redes. Ek is bekommerd as ons al hoe meer bladsye uit die Bybel uitskeur, soos Louis Malherbe gesê het, oor al hoe meer onderwerpe nie meer preek nie omdat dit mense ongemaklik maak. Ek is bekommerd daaroor as daar iets is wat God regdeur die hele Bybel sê, verdraai en sê dat Bybelvertalers dit nou al vir hoeveel duisend jaar verkeerd verstaan. Ek is bekommerd as die waarheid nie meer een honderd persent gepreek mag word nie, wanneer daar eerder stilgebly moet word oor sekere goed al is dit die waarheid.

Die kerk is vir my nog altyd die plek waar ek God se woord suiwer moet hoor. Ja, ons almal is die liggaam van Christus, Christus woon in ons, maar my kerk is my geestelike ma by wie ek raad en wysheid moet kry. God is ‘n God van waarheid, Hy ís Waarheid, Hy is Lig, Hy is Lewe. Hy is liefde, maar ook ‘n God van geregtigheid, juis daarom is Jesus gekruisig. Want Hy HAAT sonde.

Vir my is God se waarheid op die ou end al wat tel. Ek maak baie foute. Ek is soms seker liefdeloos in ander se oë. Ek sondig steeds baie. Maar die heel belangrikste ding in my hele lewe is om Sy Woord te lees, te oordink, te ondersoek, Sy Waarheid te vind en myself al hoe meer te reinig. Ek sal nooit 100% sonder sonde en sonder foute wees nie, maar ek probeer. Ek probeer om nie Sy woord te verdraai ter wille van mense nie.

Daarmee oordeel ek nie mense nie, skryf ek hulle nie af nie, stuur ek hulle nie hel toe nie. Geensins. Ek het ander lief met hulle foute en al soos ek bid hulle ook vir my liefhet. En ek het my kerk lief, my geestelike ma. Maar ek is bekommerd oor haar, my geestelike ma. Baie bekommerd. En raak al hoe meer bekommerd. Mag God ons kerk seën.

Ek glo:

Apostoliese Geloofsbelydenis

Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde. En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here; wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria; wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het; wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode; wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader, van waar Hy sal kom om te oordeel die wat nog lewe en die wat reeds gesterf het. Ek glo in die Heilige Gees. Ek glo aan ʼn heilige, algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges; die vergewing van sondes; die opstanding van die vlees en ʼn ewige lewe.

Uit: Die Handboek vir die Erediens van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, 1988

En ek glo elke woord in hierdie ou Franciskaanse seën:

Mag die Here jou seën met ongemak oor maklike antwoorde, halwe waarhede en oppervlakkige verhoudings sodat jy uit die diepte van jou hart kan leef. Mag die Here jou seën met woede oor onreg, onderdrukking en die uitbuiting van mense sodat jy kan werk vir geregtigheid, vryheid en vrede. Mag die Here jou seën met trane om te stort vir mense wat pyn, verwerping, honger en oorlog ervaar sodat jy ‘n hand kan uitreik en hulle pyn in blydskap kan verander. En mag God jou seën met genoeg dwaasheid om te glo dat jy ‘n verskil kan maak in hierdie wêreld, sodat jy dinge sal doen wat ander mense dink nie gedoen kan word nie. Amen

Wat jy ookal glo, wat jy ookal doen, na watter kerk jy ookal gaan, ek is gemaklik daarmee. Soos reeds gesê, is hierdie my persoonlike mening. Met graagte mag jy van my verskil.

Toortsie

One thought on “Krom stokke

Kommentaar is gesluit.