Die waarde van tenke

Ek dink ek raak afgesaag hieroor, maar ek kan nie ophou om die waarde van tenke te besing nie. Vandag sif die reën saggies neer en ek is dankbaar, dankbaar hiervoor. Eerstens maak dit ons tuin heerlik nat, maar dit is nie al nie. Ek hoor die hele tyd hoe die dakwater wat ons opvang, in die tenke inloop. Daardie water gebruik ons weer vir ons huishoudelike gebruik. Die gryswater word weer eens opgevang om die tuin mee nat te maak. Drie keer die waarde van die reën en intussen gebruik ons al sedert Februarie hierdie jaar slegs munisipale water vir drinkwater. Die res is tenkwater. Dakwater. Reënwater wat ons self opgevang het. Wat ‘n groot las het ons nie van die munisipale dam afgehaal nie!

Dieselfde op Struisbaai. Iemand het vir ons gewaarsku dat tenkwater by die see maklik vrot omdat daar soveel sout van die seesproei op die dak kom lê en die water dan baie sout is wat in die tenke inloop. Hoe bevoorreg is ons nie met daardie water nie! Elke keer wat ons daar vir ‘n naweek kom, kan ons die tenkwater gebruik sonder om skuldig te voel, want dit is mos water wat ons self opgevang het. Ons kan selfs die gras lekker natspuit, wat ons al vir hoeveel jaar nie meer kan doen nie omdat Struisbaai se watervoorraad dit net nie toelaat nie. Tot op hede het ons water nog nie gevrot nie. Ons neem maar steeds skoon drinkwater saam in plaas daarvan om die dakwater te drink. En met elke buitjie reën wat seelangs verby gaan, raak ons tenkies weer mooi vol vir volgende keer se kuier.

Ek het al soveel kere geskryf oor hoe ons elkeen in ons land water kan bespaar, want of ons dit nou wil weet of nie, Suid-Afrika het ‘n groot probleem met droogtes, met watertekorte. Iewers is daar altyd droogte, enige tyd van die jaar. Ladismith het 5 jaar laas behoorlike reën gehad, genoeg om die riviere te laat loop. Ons kan nie net vir die munisipaliteit sit en wag om in al ons waterbehoeftes te voorsien terwyl daar met elke reënbui derduisende liters water wat op ons eie erwe val, net eenvoudig wegloop in ‘n drein nie.

Ja, dit is ‘n groot kapitale uitgawe wat almal seker nie het nie, maar as jy kan, begin selfs net met een tenk en soos die tyd aanloop, nog een en nog een. Ek het al voorheen gevra, hoekom dink munisipaliteite nie daaraan om as deel van hulle begroting, watertenks te subsudieer nie? Hoekom word dit nie ‘n vereiste as bouplanne goedgekeur word, dat mense minstens een watertenk het nie?

Sjoe mense, ons bevolking raak al hoe groter, ons skoon water al hoe minder. Ons kan besluit of ons deel is van die probleem of van die oplossing. En terloops, ons tuin is grotendeels ‘n groentetuin danksy my man, so ons eet gesond en vars ook nog. Wat kos ‘n pakkie saad? Die slim mense sê dat ‘n groentetuin so groot soos ‘n deur, let wel, ‘n deur genoeg is om ‘n gesin van vier mense te voed. Dis nogal iets om oor na te dink, terwyl hier so baie hongersnood in ons land is.

Toortsie

9 thoughts on “Die waarde van tenke

  1. As mens grootgeword het met tenks, weet jy nie hoekom dit nie standaard by huisplanne ingesluit word nie. Oorsee bou die mense op ‘n tenk-kelderverdieping aka ‘cistern.’ Hierdie is wat ons in N1 of St8 op skool hanteer het; alles van basiese hidrologie tot en met rioolverwydering, Franse riole, suigtenke, ens. Ek is uitverkoop op tenke en sien net oral te min. Ons het ook nooit water gehad wat gevrot het op Struisbaai nie; as mens gereeld genoeg bietjie tap sodat die water binne beweeg, sal dit baie help. Julle is gelukkig naby maar party ander mense kom net elke paar jaar strandhuis toe en ek dink dis waar die probleem lê. ons het altyd die tenkwater gedrink ook; as mense net weet waarvan botteltjies water gemaak worre…………

    Liked by 1 person

      1. ons s’n ook. mense skrik te gou vir tenkwaater. van water gepraat: intelligente, opgevoede, gegradueerde mense wie se Ph D is, klas as die “munisipaliteit weer aan die gang is; die water is wit van die chloor.” Al asof chloor wit of sigbaar is. Hulle voeg wel kalk of koolstofdioksied by die water om die Ph te verlaag sodat die korrosie op die pype minder is. Ek dink ‘n paar stedelinge moet hier lees………

        Liked by 1 person

  2. Ons het ook grootgeword met ‘n opvangdam van sement by ons plaashuis. die natuurlike water was brak. So die dakwater het “dam” toe geloop en daarvandaan huis toe gepomp. Ek onthou baie goed hoe ons badwater, wasgoedwater en kombuiswater met verskillende pype op die gras en tuin laat uitloop het.

    Like

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s