Hoe gaan dit met NaNoWriMo2020?

Môre is November halfpad en as jy met NaNoWriMo2020 besig is, is jy veronderstel om amper halfpad te wees. Veronderstel. Dit beteken dat jy teen vanaand by 23 338 woorde moet wees en môre die 25 000 merk moet haal.

Toortsie het verlede jaar makliker geskryf as vanjaar. Ja, dit ís mos so dat ‘n mens makliker oor jouself skryf. Ek was bang verlede jaar, want ek het gedink dat ek my kinderjare vergeet het. Wat ‘n wonderlike ervaring was dit nie om dit te skryf en te besef dat daar soveel is wat ek onthou! En weet julle wat? Daar is nog baie meer wat ek nou onthou wat nie in die boek is nie, maar dit is ook reg, want dit is vir my ‘n wonderlike gerusstelling dat ek wel die dinge onthou. Ek is net baie meer sensitief daarvoor danksy NaNoWriMo2019 se skrywery.

Vanjaar is dit ‘n ander storie. Die uitdaging is groot. Regtig groot. Baie groter as wat ek gedink het. My tema is Trauma tot Triomf. Ek het aanvanklik gedink om oor verskillende Bybelfigure te skryf, mans, sowel as vroue. In my voorbereidingstyd was ek besig om Genesis en Eksodus te lees en sou daardie mense gebruik: Josef, Moses, ens. Toe ek egter begin skryf, neig my boek al hoe meer na vroue se kant toe. Ek besef ook dat daar al soveel boeke geskryf is oor Josef en Moses en die Israeliete, ek wonder of ek op die ou end wel oor hulle gaan skryf? Dit sal die tyd moet leer.

Vriende is een van die grootste geskenke wat God ‘n mens kon gee. Toe ek sien dat my boek begin neig na die vroulike kant, het ek dit op Facebook genoem en gevra: Watter vroue in die Bybel het trauma beleef en het die triomfpad met God se hulp begin loop? Die reaksie was wonderlik! Christenvriende wat in die gees hierdie boek saam met my skryf, stuur vir my Bybelverwysings wat ek kan gebruik. Ek wil juis kyk na meer onbekende vroue, die bekendes is ook daar en om skielik, in ‘n maand se tyd al die onbekende vroue in die Bybel sommer net te onthou, is nie een mens se werk nie.

Maar ek skryf nie heeltemal so maklik nie. Ek draai vas. Tans staan my aantal woorde op 18 435 vir gisteraand terwyl dit reeds op 21 671 behoort te staan. Ek spandeer aansienlik meer tyd hieraan as verlede jaar, maar dit gaan stadiger. Baie stadiger. Want ek moet navorsing doen, dit oordink, dit my eie maak en nie net die Bybelstorie oorskryf nie, maar my eie stem daaraan sit, die trauma oordink en beskryf. Wat ook baie keer gebeur is dat as ek ‘n kommentaar daaroor gelees het, my eie gedagtes beïnvloed is. Daarom is dit beter dat ek die verhaal lees, dit oordink, skryf en daarná die kommentare raadpleeg om te kyk of ek darem op die regte pad is en of daar nie dalk nog iets is wat ek moes byvoeg nie. Ek gebruik Die Bybel in Praktyk, Leefstylbybel vir vroue, en Die Bybellennium ‘n Eenvolumekommentaar as primêre verwysings, wat my baie help.

Selfs al het ek al hierdie verwysings, selfs al spandeer ek baie tyd hieraan, is dit ‘n reuse taak waarmee ek tans besig is en wil ek kwaliteitwerk skryf. Die uitdaging bly steeds vir my om by 50 000 woorde teen die einde van die maand te kom, maar dit wil al hoe meer vir my lyk of ek dit nie gaan haal nie. Ek is gemaklik daarmee. Volgens NaNoWriMo se webblad lyk dit of ek teen 6 Desember eers sal klaarmaak. Hierdie projek neem baie tyd, navorsing, wysheid van Bo en mensekrag. Ek raak moeg. Soms voel dit of my brein net eenvoudig gaan stilstaan. soms het ek letterlik net nie lus om verder te dink nie. Dis okay.

Ek druk my nie onnodig nie. Ek het in hierdie jaar al baie vermag, groot uitdagings suksesvol oorkom, met God se hulp onoorkombare hekkies oorkom, groot projekte voltooi. Ek kan net my bes doen, maar op hierdie stadium gaan ek my nie onnodig druk en die gevaar staan om uit te brand nie. Intussen skryf ek moedig voort, doen moedig navorsing, bid moedig elke keer voor ek skryf dat God my sal help en wysheid, insig en woorde gee, gee ek my beste, maar as ek nie vanjaar amptelik ‘n NaNoWriMo wenner is wat die 50 000 merk haal nie, sal ek steeds in my hart ‘n wenner wees wat my bes gedoen het, eintlik meer as my beste. Want intussen is ek ook besig om te brei en te borduur om teen 11 Februarie 2021 dit klaar te hê. My spelery raak nou erg, hoor! Wel, ek geniet dit!

Mooi dag. Dankie vir julle wat my so fantasties ondersteun.

Toortsie

Naskrif. Ek wens hierdie 787 woorde was deel van NaNoWriMo!

17 thoughts on “Hoe gaan dit met NaNoWriMo2020?

  1. Weet jy daardie 787 woorde kan beslis gebruik word vir jou woordtelling. Ek begin bv soggens of wanneer ek begin deur eers my journaal te skryf oor my dag se ondervindings of vorige dag se gebeure. Daarna spoed ek voort met wat ek eintlik vir die dag wil skryf totdat ek my hoeveelheid woorde bereik het. Soms breek ek die tyd op. As ek nie genoeg woorde het sal ek weer teruggaan en verder skryf oor wat ek nog ondervind het gedurende die dag. Ek deel die skrywe ook in twee deur opskrifte te gee soos Dagboek en dan Dieregedrag of wat ek ook al mee besig is om te skryf. Het bv my vriendinne se deel al oor vier dae geskryf. Telkens kan ek nog meer byvoeg. Sterkte met jou skrywery. Solank jy dit geniet. Is die vis swart-wit werk? Dis baie mooi.

    Liked by 1 person

    1. Dankie dit is wonderlike nuus wat jy vertel. Mag ek dit bysit selfs al is dit nie deel van my Nano projek nie? Wel dan het ek Baie woorde om by te sit as die nood druk. Elke dag se gebedsjoernaal ook. Ja dis swartwerk. Dankie vir die ‘mooi’.

      Like

      1. Jy mag dit bysit want dit wat jy geskryf het al is dit nie deel van jou werklike projek nie. Op einde gaan jy n tweede deel kan byvoeg omdat dit gebeur het terwyl jy besig was om te skryf. En ja jou gebedsjournaal kan ook deel wees want dis jou voorbereiding vir jou dag se werk. Jy swartwerk lyk regtig mooi. Dis besonderse ingevulde borduurstuk. Is dit die hele vis of net die kop wat jy gebruik?

        Liked by 1 person

  2. Ek het baie meer as vyftigduisend geskryf en dis opgeneem in inspirerende briewe aan vriende en familie, maar ek het niks daarvan aanlyn gaan registreer om punte te tel nie. Om te skryf is ‘n reuse uitdaging nadat ‘n weldoener die mees onmoontlike eis aan my gestel het en my hart en spoed gebreek het. Dom mense dink mens kan van beroerte herstel van ‘n week se rus.

    Liked by 1 person

    1. Son! So lekker om jou te sien. Ja, hierdie jaar was niemand se maat nie. Tog was dit vir my ‘n hersteljaar op baie vlakke, waaroor ek dankbaar is. Dankie vir jou mooi woorde.
      O, die windtorings staan, nè. Ons woon nie meer daar nie.

      Like

Gesels saam, asseblief!