Hoop

In ‘n land waar die meerderheid mense meer gespanne is as wat nodig is, waar verkeerde dinge baie gebeur, kan mense baie maklik hulle hoop verloor. Hooploos raak. Sondag het ons dominee ook so kragtig hieroor epreek, dat in plaas daarvan dat ons haat versprei en aanwakker, ons eerder hoop moet versprei.

Iemand gee die idee op Facebook dat ons daardie plastiekbakkie, roomysbak, joghurtbak, botterbakkie moet vul met iets wat lekker en gesond is, soos vrugte of lekkers of chippies of oorskiet kos en dit by ons in die kar hou sodat, waar ons iemand sien staan wat dit kan gebruik, dit te gee. Wat ‘n oulike idee! Stop by die persoon, draai jou ruit af, roep haar vriendelik nader en gee dit in haar hande. Respekvol. Met respek. Respek vir jouself en ook vir die ander persoon. Jy kan selfs ‘n boodskappie van hoop daarop skryf.

Om hoop te gee, is om vir iemand te bid. Of ‘n whattsapp te stuur wat sê ek dink aan jou.

Gee hoop deur vir iemand te wys jy sien hom raak. Glimlag vriendelik vir die vreemdeling, ongeag sy ras, kleur, geloof, seksuele oriëntasie, tattoes, die dikte van sy beursie.

Soms het iemand net jou oor nodig. Net ‘n luister. Soms het iemand jou raad nodig, selfs jou vermaning. Soms het iemand net die gedagte nodig dat hy nie alleen is nie. Dat jy hom hoor. Sy hart sien.

Hier is soveel ‘onsigbare’ mense in ons land. Onsigbare tieners. Onsigbare kinders. Dalk is net ‘n bietjie oogkontak nodig om die wêreld se verskil te maak. ‘n Opregte kompliment.

Of wat van, soos Amoré Bekker een keer op RSG gesê het, wat van dat jy die kar agter jou se tolgeld betaal? Wat van ‘n brood gee vir ‘n behoeftige persoon, sommer net. Of soos ek al gehoor het, wat van die kontant in jou beursie uithaal en vir iemand in die kruideniersware winkel gee wat jy weet dit nodig het? Of die ou voor jou se kruideniersware betaal?

Of vir ‘n kind ‘n geleentheid te gee om iets te kan doen wat hy graag sou wou en as jy dit nie doen nie, hy dalk nooit die kans sal kry nie?

Kom ons deel hoop uit. Ons maak dit ons missie om ons ore op die grond te hou, om doelbewus geleenthede te soek om hoop te versprei. Dit is eintlik nie só moeilik nie.

Toortsie

7 thoughts on “Hoop

Gesels saam, asseblief!