Baviaans Camino Dag 4

Vandag was die laaste dag van die Baviaans Camino. Gelukkig kon ons gistermiddag lekker rus, want vandag het daar 33 km vir ons voorgelê.

Gestewel en gespoor en reg vir die koue is ons vanoggend weg en het in die pragtige Nooitgedachtvallei begin met ons dag. Vandag was die stap makliker, alhoewel daar steeds nog ‘n paar berge vir ons tande gewys het.

Ons het die eindpunt veilig gehaal. Alle eer aan die Here dat ons nie seergekry het nie. Dankie aan my man dat hy my so afgerig en gebrei het, vir elke keer wat ons Bredasdorp se berg gestap het en die Riversdalkoppe getakel het.

Ons het berg-oor gestap vanaf Steytlerville tot Kareedouw in vier dae. 18 bergbulte. Sekerlik net so baie bergaffe. 2500 meter geklim. 89 km in totaal gestap. Bergpad. Dit was ‘n erge staptog en ek sal aanbeveel dat iemand goed voorberei daarvoor. Maar as jy kan, doen dit! Dit was ‘n belewenis.

Dankie aan uitstekende organisasie, lieflike kos, vriendelike ondersteuningspan wat ons in die berg inwag met koffie, rooibostee, cup a soup, koekies, beskuit. Dankie vir heerlike versnaperings elke dag, lekker middagetes langs die pad. Dit was goed. Baie goed.

Ons het die Baviaansberge, Kougaberge en Suur Anysberg oorkruis. Baie min plat pad gestap.

Die warm ontvangs, dat ons ingewag is by die eindpunt, die heerlike afskeidsete was die toppunt.

Toortsie

Die eindpunt ná 4 rowwe dae in ongemaklike weerstoestande.

16 thoughts on “Baviaans Camino Dag 4

Gesels saam, asseblief!