Nagmaal

Nagmaal is mos altyd ‘n wonderlike geleentheid. ‘n Gedagtenismaal. ‘n Feesmaal. Oor Jesus wat Sy ligaam vir ons gegee het.

In my kinderjare kon ons eers Nagmaal gebruik nadat ons belydenis van geloof afgelê het. My dogtertjie was sommer nog klein toe ons kerk dit oopgestel het dat kinders dit ook mag gebruik. Ons as ouers het toe die verantwoordelikheid gekry om dit vir ons kinders te verduidelik. Die heel eerste keer wat Nagmaal ook vir die kinders bedien was, het die dominee gesê: “Kinders, as julle die Here liefhet, mag julle ook Nagmaal gebruik.” Natuurlik was ons driejarige dogtertjie lief vir die Here, sy is immers steeds baie lief vir Hom en wou net daar ook Nagmaal gebruik. Sedertdien, wanneer die diakens begin het om die Nagmaal te bedien, het sy al vir my gevra of sy maar ook mag kry, want sy ís mos lief vir die Here.

Ek het al ‘n paar Nagmaalbyeenkomste bygewoon wat anders was as wat ek in ons groot kerk gewoond was. Elkeen was spesiaal in sy besonderse manier.

Tydens die grendeltyd het ek en my man alleen Nagmaal gebruik tydens ons Nagmaalsdiens wat ons via Youtube kon kyk. Dit was beslis ‘n eerste en baie spesiaal.

In Egipte, ‘n Moslemland, het ons klompie Christene die oggend met sonsopkoms Nagmaal gebruik langs die rooi see. Wat ‘n besonderse voorreg. Net ons klompie bymekaar. Die dominee wat saam met ons was, het dit aan ons bedien. Terloops, ek het ‘n bottel sjerrie saamgeneem met die doel, maar dit was gekonfiskeer op die lughawe en ons het toe wit appelsap gebruik, want dit was al wat ons kon kry.

In Australië het ons op Kersoggend Nagmaal gebruik in ‘n klein kerkie. Daar was baie min mense, amper net ons familie en so tien ander gemeentelede. Een vir een het ons vorentoe gestap en die predikant self het die brood en wyn aan ons bedien. Onvergeeflik.

In Elim het ons een keer die Paasnagmaal bygewoon. Ek sal dit nooit vergeet nie. Die vroue het almal wit klere aangehad, die mans swart pakke. In daardie spierwit kerk met die wit banke. Die vroue het aan die een kant gesit, die mans aan die ander kant. Daar is baie gesing en die beker is van persoon na persoon omgestuur. Dit het lank geneem. Ek sal dit graag weer eendag wil doen.

Vandag, met die min mense in die kerk, was die Nagmaal ook baie spesiaal gedoen. Dit was so ‘n besonder heilige oomblik. Twee jongmeisies het voor in die kerk gestaan, die een by die brood, die ander by die wyn. Die dominee het die Nagmaal ingestel en wanneer jy gereed was om dit te ontvang, het jy self vorentoe gestap en dit ontvang, met ‘n besonderse boodskap van elkeen van die meisies. Kosbaar. Dit was eintlik so mooi, ek wonder of hulle dit nie tog weer so sal kan doen wanneer ons gemeente weer voltallig is nie, en of dit net heeltemal te lank sal neem?

Toortsie

Voorlesing uit my boek, My kinderjare met betrekking tot vandag

Gratis e-boek: Toortsie se soetighede

5 thoughts on “Nagmaal

  1. Ek het dieselfde ervarings as jy gehad, met my dogtertjie en nou ook in covid tyd. Eendag het ‘n vrou baie aanvallend gevra waarom die NGKerk dan so skop teen groot doop, wat is my opinie daaromtrent: toe noem ek dat God die doop van Sy kant af doen as ‘n versoeningsgebaar, in vashougebaar, ‘n beloftegebaar. As jy iets wil doen as jy “tot bekering” gekom het, of om vergifnis wil vra of jou lewe wil oorgee , noem dit wat jy wil, dan neem die Nagmaal . Kan daar iets meer tekenend wees?

    Liked by 1 person

    1. In der waarheid is die NGK nie regtig ‘teen’ die groot doop nie. Hulle doop ook groot, maar hulle doop ook klein en as grootmens kom bely jy dan jou geloof.
      Vir my as plaaskind is die idee dat die lammetjie al kleintyd deur die boer gemerk word om te sê hy is syne so mooi. God kom merk ons kleintyd. 😁

      Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!