Die Towerinne toer al weer

Die Towerinne (of is dit Goue Vroue?) sit gesellig saam om die lang tafel in die dorpsmeent in Rebusfontein. Dit lag en gesels en kwetter nes ‘n klomp voëltjies oor hulle pas afgelope avontuur. Hoe bang hulle was. Hoe hulle met hulle goue karaktertrekke die koningin se hart gewen het. Oor die koningin en haar jeugliefde wat weer mekaar gevind het.

“Wanneer gaan ons nou die kinderstories skryf vir ons kleinkinders, soos Aalsie voorgestel het?” vra Seegogga. “Ja, ek het al omtrent gedink watter storie ek kan vertel, maar kan ons net intussen gou vinnig ‘n draaitjie in Praag gaan maak?” vra ek. “Praag?” vra Una, dadelik gereed vir nog ‘n lekker ondervinding. “Ja, Praag”, sê ek. Ek was al destyds lus om met die VVVTT Praag toe gegaan het, en ons het nog net nie so ver gekom nie.” “Ja, kom!” sê Appeltjie, “die VVVTT staan dan net hier buite en stof vergaar.”

Net daar, soos een mens, staan elkeen van die Goue Vroue op, stap reguit en vinnig VVVTT toe en woerts! Weg is ons!

Eers dwaal ons sommer in die pragtige stad rond. Ai, ek was darem so trots op ons ou klompie toe ons verby al die winkels met spesiale stokkielekkers stap, almal was juis so lus vir ‘n soetigheidjie, maar niemand het geswig voor die versoeking nie. O nee, ons is mos ordentlike dames. Ons was mos darem in Kamp Goldilocks! Ons sal ons darem nie sò maklik laat verlei nie!

Die standbeeld van Koning Wenceslas wat op ‘n dooie perd ry, het verskillende reaksies uitgelok.

Op die uur staan ons, nadat ons elkeen ‘n glasie gluhwein geniet het, voor die baie bekende horlosie om te luister en te kyk na die bewegende apostels as hy lui. Hierdie klok is in 1410 gemaak. Die dag voor hy bekend gestel sou word, het die koning egter die klokmaker se oë laat uitsteek sodat hy nie vir nog iemand so ‘n klok bou nie. Die klokmaker, wat die klok natuurlik baie goed ken, het daar, in sy blindheid en pyn, ‘n baie belangrike partjie uitgehaal. Toe die klok die volgende dag vertoon word en moes lui, het dit nie. Vir eeue lank is daar gesoek na ‘n oplossing en dis eers baie jare later wat iemand die klok kon herstel.

Daarna het die Towerinne die pad aangedurf deur die Joodse gebied. Hierdie Joodse deel van die stad is nie in die WW2 platgeskiet nie, Hitler wou blykbaar hiervan ‘n museum van die uitgesterfde nasie maak.

Die trappies tot by die kasteel was maar styl hoor!

Say no more.

Die middeleeuse restaurant net aan die onderkant van die hotel is waar die dinge gebeur het. Dis ‘n ge-oeeeee en ge-aaaa toe ons daar inkom. “Julle, ek wil nou nie snaaks wees nie, maar hierdie kelners wat so kwaai en aanvallend lyk, maak my ongemaklik”, sê Woordnoot. “Ja”, sê Sonell, “Is julle seker ons is op die regte plek? Dis darem grillerig dat die kelners met kopbene onder hulle arms loop.” “Nee man”, sê Frannie, “dis net sommer deel van die atmosfeer. Ontspan nou, ons gaan dit baie geniet.” Versigtig bestel ons kos, maar toe dit bedien word, hang ons monde oop. “Genade!” sê Virgo. “Kyk die porsies! Hier gaan ons genoeg eet vir ‘n week! Lekker!” “Sjoe!” antwoord Appeltjie, “maar is dit regtig nodig dat hulle die kos so voor ons moet neergooi, amper asof hulle vir ons kwaad is?” Sy roep die kelner en vra vir eetgerei. “EAT WITH YOUR HANDS!”, kom die kwaai antwoord. Ons lag maar so saggies en onderlangs, te bang om verder iets te vra, maar verder geniet ons onsself gate-uit. Die kos is HEERLIK. Die volgende oomblik staan die kelner weer daar en vra wie die minister van finansies is. Ons wys na Frannie. Net daar kap sy die rekening met ‘n mes vas in die tafel!

Met ons magies vol is ons na ‘n operahuis. Prag en praal op sy beste. Die gaste het almal aandrokke en die pragtigste juwele aan. Ons steek duidelik af met ons toerkleertjies. Ons verkyk ons aan die skilderye teen die dak. Seegogga kan haar amper nie inhou nie. “Sjoe, julle, dis mooi, dis mooi, dis mooi,” bly sy sê. “Kom nou, Seegoggatjie, dit is pragtig, maar ons moet nou ingaan en gaan sit, anders gaan ons laat wees”, moet ek later aanjaag. Mensig! Hoe beskryf jy al die goud wat ons om ons sien? Ons kyk The Sound of Music. Terwyl ons nog so lekker sit, kom daar een van die personeel en fluister vir Una iets. Sy kry so ‘n geheimsinnige glimlaggie en sê, “julle, kom gou saam met ons.” Die dame neem ons tot agter die verhoog en trek vir ons almal nongewade aan. “Wat gaan nou hier aan?” vra Virgo. “Is ons op die regte plek?” “Nongewade?” vra Positief. “Wat beteken dit?” “Sound of Music … Nonne … Maria … mmmmm” sê Christa. Die volgende kom roep hulle ons en sê ons moet kom. Ons hoor ‘n aankondiging, iets van The Golden Ladies of South Africa, well known writers, circus, ek weet nie wat alles nie. Toe begin die musiek speel en ek hoor Appeltjie sing: “She climbs a tree and scrapes her knee, her dress has got a tear.” Aalsie antwoord “She waltzes on her way to Mass and whistles on the stairs.” Una: “And underneath her whimple she has curlers in her hair.” Seegogga: “I even heard her singing in the Abbey.” Frannie: “Id like to say a word in her behalf: Maria makes me laugh!” En so gaan ons aan. Elkeen sing haar stukkie wanneer sy moet. Ons dans en tree op soos wafferse operasangers en -akteurs. Julle moes vir Woordnoot hoor toe sy daardie erg hoë note sommer net so sing asof sy dit elke dag doen! Toe ons klaar is, staan die hele skare en hulle juig en klap hande. Weer eens het die Towerinne naam gemaak soos nooit tevore nie.

Toe ons die aand moeg by die VVVTT aankom, sê ek ek het iets vir die langpad terug huis toe en deel vir elkeen ‘n groen stokkielekker uit. “TOORTSIE!” sê Positief. “Ek sê eerder maar niks, sê Christa kopskuddend.” “Toemaar wat, ons is mos darem nou veilig op pad huis toe”, glimlag Seegogga.

Groete

Toortsie

Gedeeltelik waar, gedeeltelik fiksie.

30 thoughts on “Die Towerinne toer al weer

          1. Toorts, ja, wat sal ek nou sê… Jy weet mos ek bel altyd iemand as ek happy of sad is. Ek kyk nou op my fountjie, ek het toe defnitief oproepe gemaak. 🙉🙊🙈 Stories lê klaar rond, sorry man.

            Liked by 1 person

  1. Dankie vir die mooi fotos wat jy ter herinnering geneem het. Die geskiedenis van hierdie land is fassinerend en tragies, sommer gelyktydig. Die Joodse gebied veral was vir my goed om te sien.

    Liked by 1 person

  2. Terwyl ek nou so op my fountjie loer, ń video was ook ter sprake. Jy kàn op tafels dans, sien ek. Jy het die mees fenomenale balans as jy handstands in die lug uitvoer. En ek sien Positief is self doer eenkant besig om vir ń paar towerinne haar truuks te demonstreer hoe sy haar bokke vang en inspuit.

    Liked by 1 person

  3. Ousus, die groen stokkielekker is veronderstel om jou eetlus te gee, maar sien soos van my palle het jy praat-koors😂😂😂😂. Ai Toortsie, dit was lekker lees en kuier daai. Ek wou so graag non word, my pa wou horries kry en my ma het net gesê “Boksie die mother superior stuur haar voor oggend tee terug huistoe, moet glad nie bekommerd wees nie” . Ek was ‘n non en het gesing😀😀whohooooo

    Liked by 2 people

Gesels saam, asseblief!