Jy is mooi

Medicine Mommy skryf ‘n pragtige blog oor die leuens wat ons glo. Dat sy altyd geglo het dat, terwyl sy baie slim was, dit al was wat sy was. Nie oulik, mooi, ens. Ongelukkig glo ons almal sulke leuens. Omdat ek nie so mooi soos jy is nie, glo ek ek is nie eintlik mooi nie. Of omdat ek nie die gewildste in die klas is nie, glo ek dat mense nie van my hou nie. Of omdat iemand my kleintyd vals beskuldig het en ek nie myself kon verdedig nie, glo ek dat ek vals is. Of sommer ‘n niks. Of sommer skuldig, selfs al het ek geen aandeel daaraan gehad nie.

Verlede jaar in die wildtuin wou ek navraag doen oor iets. En nee, ek weet regtig nie wat die persoon glo of nie glo nie. By die navraetoonbank staan ‘n swart dame. ‘n Pragtige swart dame. Statig. Vriendelik. Trots. Maar sy is doof. Sjoe! Wat ‘n uitdaging moet dit vir haar wees om as dowe die navraetoonbank te beman? Ek vra my vraag en sy antwoord dat ek dit asseblief vir haar moet skryf, want sy is doof, en gee vir my ‘n stukkie papiertjie aan. Ek skryf my vraag en onderaan: ‘And you are beautiful.’ Ek hou haar dop terwyl sy aandagtig lees en sien hoe haar gesig ophelder toe sy by die kompliment kom. Sy kyk my in die oë en sê “thank you.”

Daarná antwoord sy vir my baie mooi en duidelik op my navraag en nog ‘n keer, “thank you so much.” Dalk weet sy dit in haar hart. Dalk glo sy dit dat sy mooi is, maar almal van ons het soms ‘n kompliment nodig.

Kom ons hou ons oë oop vir geleenthede om vir iemand iets moois te sê, om vir iemand ‘n opregte kompliment te gee. Kom ons waag dit as dit iets is wat heeltemal buite ons gemaksone is. En kom ons maak werk van die leuens wat ons so onnodiglik glo. Gaan lees gerus wat Medicine Mommy skryf. En terwyl jy aan die lees is, lees sommer Appeltjie en Engelroeper se pragtige bemoedigende bloginskrywings ook.

Medicine Mommy: You can change the narrative

Appeltjie: Hoop vir ‘n toekoms

Engelroeper: Ek sal nie opgee nie

En sou jy wonder hoekom een of ander iets jou so erg ontstel en jy wil graag werk maak daarvan, kyk uit vir ‘n TPM-fasiliteerder (Transformation Prayer Ministry).

Mooi loop

Toortsie

16 thoughts on “Jy is mooi

  1. Dit is alles so waar. Deesdae is dit moeilik, maar voor ons almal maskers gedra het, het ek altyd probeer om iemand laat glimlag terwyl ons kruideniersware koop. As ek suksesvol was met net een persoon het ek self baie gelukkig gevoel.

    Liked by 1 person

  2. Ek het vanaand ‘n zoom sessie gehad – dis ‘n groep (swart) Christen vroue wat altyd die sessies het en saam met my hou ‘n wonderlike vrou skool van Zimbabwe. ‘n Groot Christen – opregte Christen. (nie een van die wat voorgee en net in die kerk sit op Sondae om jou gewete stil te hou, maar diep binne-in, is jy net ‘oppervlakkig’ – nee, nie sy nie). Hierdie eindste kollega het die sessie vanaand gelei ook (elke 2 weke het ons die sessies). Haar sessie het toevallig gegaan oor ‘Identiteit’ (Wie is jy?) SO interessant en ‘n groot inspirasie gewees om na te luister. Een dame het ‘n boek voorgestel: The Power Of I Am. Deel van wat sy gese het, het gegaan oor wat jy hierbo se – dit is deel van ‘jou–wees’ – wat jou ‘define’ – is jy iemand wat graag mooi dinge vir ander se? Is jy iemand wat die mooi in ander kan raaksien? Die mooi dinge wat hulle doen (vir ander ook)? Ag, daar is net te veel punte wat sy aangeraak het. Ek gaan kyk of ek die boek kan kry en lees – weet nie wanneer ek daarvoor gaan tyd kry nie, maar dit sal seker weer in ‘n ‘lockdown’ moet wees.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!