Kom dat ons na die huis van die Here gaan

Vandag is ‘n feesdag! Vandag, vir die eerste keer sedert Februarie, kon ek weer kerk toe gaan. Regtig kerk toe gaan. In lewende lywe. Saam met lewende mense. Nie virtueel nie. Nie per TV-kerkdiens of youtube nie. Regtig.

Hoe het ek daarna uitgesien. Hoe het ek die gemeenskap van gelowiges gemis. Hoe het ek Sondag vir Sondag gewens dat kerke oopgestel mag word. Ek het elke keer as die president gepraat het, hoopvol gewag dat ons weer mag kerk toe gaan. Planne in my kop gemaak van hoe ons dit tog wel kan doen. Tog, nadat dit wel al toelaatbaar was op vlak drie, het ons gemeente besluit om nog te wag.

Verlede week het hulle aangekondig dat ons kerke weer oop sal wees van vandag af. Wat ‘n blye dag! Daar word elke Sondag twee dienste gehou in elkeen van ons kerkgeboue en ons moet die kerkkantoor vooraf bel en ons plek bespreek. Ek kon nie wag nie!

‘n Week of wat gelede het ons in een van die boere se stoor ‘n dankdag gehou vir God wat ons vanjaar so wonderlik seën met reën. Wat ‘n besonderse geleentheid saam met mense wat ons liefhet. Dit was so lekker om die Here saam te aanbid. Ons is ook ‘n klein bybelstudiegroepie wat gereeld bymekaarkom. Maar om weer na die kerk te gaan, is vir my reg. Lekker. Dis waar ons hoort. Ja, daar is fantastiese predikers op die radio en TV, maar niks kan die gemeensaamheid wat ek saam met ander gelowiges ervaar, vervang nie.

Daar was ‘n feestelike atmosfeer, amper soos by ‘n troue. Ek kon die opwinding voel bruis in almal se harte. Dit was minder formeel as gewoonlik. Saam met die groot geleentheid van die oopmaak van die kerk, is daar ook twee kinders gedoop. Is dit nou nie wonderlik nie? ‘n Teken van nuwe lewe, groei, nadat alles so doods gevoel het?

Kom ons gaan na die huis van die Here. Kom ons gaan om Hom daar te aanbid. My hart wil sing van vreugde. Hoe lief het ek U woning, Heer. Hoe lief het ek U woord! U is kosbaar, getrou. Ten spyte van soveel negatiewe dinge, bring U ook herstel. U herstel ons harte. U herstel verhoudings. Aan U die eer.

Toortsie

15 thoughts on “Kom dat ons na die huis van die Here gaan

  1. Ons kerk het inrydienste gehou. Die tweede keer was die eerste keer dat ons kon gaan. Toe het ons 2 saam met 8 ander mense in die kerk gesit. Net om daar te wees en die atmosfeer te kon ervaar.
    die volgende keer het ons buite in die kar gesit, na die prediker gekyk wat op die stoeptrappies gestaan het. Maar dit was heerlik om net weer “in” die kerk te wees. Ek vereenselwig met jou gevoel

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!