Ek staan my en verwonder aan hierdie koningin wat heeltemal te maer is, wat lyk of sy haar pyn geëet het. Haar oë lyk soos swart polle pyn. Sy smul aan die goue doughnuts asof sy jare laas behoorlik geëet het. Wat sy nodig het, is behoorlike kos. Trooskos wat haar behoorlik sal voed. Wat eet sy? Hoe het sy só gekom? “Koningin,” vra ek, “u geniet hierdie doughnuts so. Wat eet u gewoonlik?” “Ag,” sê sy, “ek eet maar gewoonlik wat die miere vir my aandra, meestal suikerkorreltjies.” “Suikerkorreltjies? Is dit waaruit u dieet bestaan? Kan ek nie vir u iets behoorliks maak om te eet nie?” “Sal jy?”, vra sy. “Hasie, neem vir Toortsie, dit is mos jou naam, nè, na die kombuis. Jy sal daar alles vind wat jy nodig het.” Sy stem in dat ek vir Appeltjie en Christa saamneem om my te help.
Ek staan verstom toe ek in die kombuis kom. Dis die modernste kombuis waaraan jy kan dink. Alles wat jy mag nodig kry, is daar. Erg klinies. Selfs die bestanddele wat ek nodig het. Dit lyk nie of die kombuis enigsins gebruik word nie. Hoekom maak haar onderdane nie vir haar kos nie?
Ons drie Towerinne bespreek gou wat ons moet doen. Ek sou graag vir haar ‘n feesmaal wil berei, maar ek bly voel sy het trooskos nodig. Ek klits vinnig ‘n klompie room, ‘n knippie sout, ‘n eier, ‘n bietjie xylitol (ja, sowaar, dit is in hierdie wonderkombuis) saam en gooi ‘n klompie chiasade (sowaar!) by. Vir die beste resultate moet chia eintlik oornag week, maar daar is nie nou tyd nie. Ons moet eers die koningin se vertroue wen. Ek kan later vir haar ander lekker kos maak. In hierdie wonderkombuis is dit sommer gou reg. Toe sny ek ‘n paar stukkies botter in en sit dit in die mikrogolf. Maar o aarde! Hoe werk hierdie erg rekenaaragtige mikrogolf? Gelukkig is Christa by en tjoeftjaf is dit reg.
Appeltjie dek solank ‘n pragtige skinkbord met die mooiste blombord en silwer eetgerei, terwyl Christa dadelik die ketel aangesit het en tee gemaak in ‘n silwer teepot. Toe die melkpap, wat eintlik roompap, of droompap is, reg is, skep ek dit in, gooi nog xylitol oor en ‘n klompie kaneel. Reg vir bedien.
Intussen het die Goue Vroue, of Towerinne, nie mos op hulle laat groei nie. Hulle het die koningin met liefde oorlaai, haar vrae beantwoord en op hulle besonderse manier haar betower en haar vertroue begin wen. Seegogga staan diep ingedagte. Sy sien net prentjies van hoe sy hierdie troonkamer gaan omskep in iets spesiaals net vir die koningin. Haar vingers krul behoorlik soos sy in haar kop kleure meng.
Appeltjie dra die skinkbord in en sit dit op die koningin se skoot neer. Die koningin tel die lepel op en proe versigtig. “Perfek! Dis perfek! Skielik onthou ek my ouma! Ek het al skoon van haar vergeet! Sy het altyd sago-melkpap gemaak. Hierdie kos laat my daaraan dink, maar tog is dit nie dieselfde nie. Wat is hierdie korreltjies hierin wat soos sago lyk? En dis romeriger. Lekkerder. Ek proe my ouma se liefde hierin. Toortsie, ek proe jou liefde hierin. Baie dankie.”
Net toe ons wil begin onspan en dink dat ons koppe darem seker nie gaan rol nie, kyk Woordnoot verskrik op. Hier is fout! Die deurknop begin skielik fluister: “Wees waaksaam, wees waaksaam.” “Hoor julle dit?”, vra Woordnoot. “Hier is beslis fout”, sê Frannie. “Groot fout.”
Die volgende oomblik bars die gordyne oop en kom dieselfde pikkiekleinmannetjie met die dun beentjies en te groot kop in. Hy is woedend. By hom is twaalf rooimiere, swaar gewapen.
“Verraaiers! Spioene! Dis wat julle is!”, bulder hy. “Nee,” sê die koningin, “jy maak ‘n fout. Dis die Goue Vroue. Hulle is goeie mense.” “Goue Vroue? Dis wat hulle wens om te wees! Die goud aan hulle is alles nagemaak! Hulle is vals! Ek het gehoor hoe ‘n paar van hulle sê dat hulle nog nooit van Alice in Wonderland gehou het nie, dat die storie hulle nie aangegryp het nie en dat hulle dit wil oorskryf. Hoe durf hulle? Hoe durf julle vir die Koningin kos aanbied? Onthoukos wat haar herinner aan haar vorige lewe? Julle moet sterf! Gryp hulle!”, sê hy vir die miere by hom. Hulle kom sommer dreigend nader. Die Towerinne staan verbyster. Wat gaan nou gebeur? Hulle wil nog antwoord, toe wys VirgoC met haar vinger op haar mond. “Sjuut. Maak net soos hy sê”, fluister sy. Positief vat Scrapydo en Sonell wat weerskante van haar staan, se hande styf vas. So in die laaste sekond kyk Una en die koningin mekaar reg in die oë. Die koningin knip haar oë twee keer.
Aalsie is ons Goue Towerinvrou wat goue skoene dra omdat sy alles met soveel entoesiasme aanpak. Dis dieselfde Aalsie wat jare gelede die Auscar toekenning vir entoesiame gekry het. Dis ook sy wat vir my geleer het dat, sou iemand jou ‘n skewe woord gee, jy moet aanvaar dat die persoon dit nie skeef bedoel het nie en dan daarvolgens reageer. Aalsie, ek moet nog ‘n bietjie oefen hieraan. Sal jy asseblief vir ons verder vertel?

Toortsie
………………………………………..
Hierdie hoofstuk vorm deel van die Towerinne/Goue Vroue se avonture. Ons is die hoofkarakters in ons eie vervolgverhale (natuurlik) en ons fantasie stories is vir ander ondenkbaar, ondoenbaar en onverklaarbaar.
As jy die verhaal wil volg, moet jy op die onderstaande skakel kliek om die hoofstukke te lees. Na myne sal daar gereeld nuwe hoofstukke bygevoeg word. Totdat ‘n ander fantasie ons aandag vereis. Dan begin ‘n nuwe vervolgverhaal, ek bedoel avontuur.Lees die ander bloggers se bydraes by ons InLinkz-skakel https://fresh.inlinkz.com/party/18c42a9034594a66af50994043145ea6.

Nee kyk hierdie storie raak nou erg spannend en onvoorspelbaar!
LikeLiked by 1 person
Met die Towerinne … 🙃
LikeLiked by 1 person
Weereens word die mag van trooskos en liefde bewys. Maar die kwaadwilligheid en agterdog en afguns van daai klein swart mannetjie bederf die goue oomblik al weer. Dit gaan so in die werklikheid ook.
LikeLiked by 1 person
Ja, die klein afgunstige mannetjies is oral. Dis gelukkig ons keuse hoe hulle ons affekteer. 😊 Ek wonder wat Aalsie gaan doen? 🧑🏻🦳
LikeLike
Briljant, Toortsie, ons storie ontwikkel goed! Ek kry sommer so ń lekker warm gevoel in my binnekant omdat ons weer saam skryf. So gaan ons Alice se storie oortref, sommer van die ‘kaart af skryf!’.👏
LikeLiked by 2 people
Jajaaa ons gaan ‘n nuwe pak kaarte ontwerp.
LikeLike
Dankie
LikeLike
Ek hou tog so van die pratende deurknop.
LikeLiked by 1 person
Ek ook. Ek dink hy is aan ons kant.
LikeLike
Julle, ek gaan weer moet boekhou van alles om nie te vergeet nie! Pragtig Toortsie, dit is uitstekend geskryf.
LikeLiked by 1 person
Baie dankie 😁
LikeLiked by 1 person
Toorts jy mag maar kosmaak hoor en natuurlik ‘n storie skryf. Briljant
LikeLiked by 1 person
Baie dankie. Jong, jy moet dit eers proe. Soms klink dit lekkerder as wat dit is! 😁
LikeLiked by 1 person
Ek hou glad nie van melkkos nie, dalk sal die chia een beter smaak
LikeLike
Dit smaak vir my na pannekoek met die kaneel. Ek soek al vir 6 jaar ‘n bantingresep. Nou het ek dit en dit is heerlik.
Ek praat nou uit my kop.
250 ml room
4 eetlepels chia
1 eier
Xylitol.
Knippie sout
Klits saam en plaas in yskas oornag.
Dan gooi jy ‘n stuk botter by.
3 min op hoog in mikrogolf. Roer na elke minuut.
Gooi nog zylitol en kaneel oor.
Hemels. Die romerigheid is so lekker.
LikeLiked by 1 person
Ek gaan hierdie vir seker probeer
LikeLiked by 1 person
Oornag week is die lekkerste.
LikeLiked by 1 person
O ja, ek wou nog sê daardie skoene van Aalsie is moe(de)rmooi
LikeLiked by 1 person
Regtig! 😁 Ek is ook mal daaroor.
LikeLiked by 1 person
Ooooo! Wat gaan volgende gebeur!! 😱😱
LikeLiked by 1 person
Ek is bangerig! 😳
LikeLiked by 1 person