Daai foto

Ek het vandag ‘n dringendheid in my hart. Oor gesinsfoto’s.

Jy weet, almal het vandag selfone met goeie kameras in hulle hande. Soveel so dat ons gewone mik-en-drukkers nie eers meer ‘n mik-en-druk kamera het nie, want ons selfoonkamera is heeltemal goed genoeg.

Waar ons gaan, mik en druk ons. Alles word afgeneem. Dis selfies. Ekkies. Onsies. Me, myself, I. Ons hele lewe word gedokumenteer deur middel van foto’s. Tot in die ergste graad.

Maar familiefoto’s? Gesinsfoto’s? Is ons net so opgewonde om sulke foto’s te neem?

Baie jare gelede het ek by tannie Dina Crafford gekom op De Rust. Hulle een seun is dood aan kanker. Een aand het sy vir my gewys dat hulle elke jaar met kersfees ‘n gesinsfoto geneem het. Wat ‘n wonderlike les. Wat ‘n wonderlike herinnering vir haar.

Sedertdien het ek probeer om van ons gesin ‘n foto geneem te kry. Van ons hele familie. Ek kon dit eers sewe jaar later regkry en was dit vir jou ‘n storie met al die kindertjies wat toe klein was en rondgehardloop het. Sodra jy die een spannetjie reg het, hardloop die volgende klomp rond. Maar ons het dit reggekry en daarvandaan het ons dit gereeld gedoen.

Gesinsfoto’s. Of jy van jou gesin hou of nie, dis nie waaroor dit gaan nie. Dit gaan daaroor: Neem daardie foto. Neem daardie foto van pappa en mamma en die kinders. Dan een van pappa en mamma en al die nasate en sommer die kuiergaste ook en wie jy nog wil. Maar sorg dat daar foto’s is van julle gesin ALLEEN.

Hoekom is ek vandag so dringend hieroor? Want ek skryf ‘n boek oor my kinderjare. Ek wil graag ‘n foto van ons gesin daarin sit. Raai hoeveel foto’s kon ek kry nadat ek vandag ‘n kas vol albums deurgeblaai het? Een van net ons gesin alleen? Sonder die aanhangsels of kleinkinders of gaste en wie nog? ‘n Volle EEN foto. Een. Ja, net een. Daar is blykbaar wel iewers nog ‘n foto wat ‘n fotograaf een keer geneem het.

Ek gee regtig nie om dat daar foto’s is met die hele familie en al die ander by nie, ek is iemand wat maklik ander mense insluit. Maar asseblief, net nog een maal, neem daardie foto, selfs al is jou broer of suster daarop wat jy glad nie kan verdra nie. Neem dit. Want daar kom ‘n dag wat jy so ‘n foto soek en jy dit nie meer kan neem nie. Ek sou dit bitter graag vandag wou neem, maar my pa is al 21 jaar oorlede, my ma is baie swak en my een broer is ook dood. Daar is geen manier wat ek dit nou sal rekry nie, al wil ek so graag.

So, asseblief. Luister na my. Loop doen dit. Sommer vandag nog. En elke keer in die toekoms wat julle as gesin saam is.

Toortsie

23 thoughts on “Daai foto

  1. Ja je hebt gelijk, gezinsfoto’s zijn belangrijk.
    Daarom heeft het mij zo’n pijn gedaan toen ik eind 2010 in omstandigheden die ik hier niet ga vertellen al mijn foto’s ben kwijtgeraakt.
    Daarom heb ik me ook zo gelukkig gevoeld toen ik een tijd geleden in een oude doos toch nog enkele foto’s heb teruggevonden.
    Ik heb ze ingescand en er meteen een verhaal over gemaakt.
    Het is misschien niet zo geslaagd maar ik heb mijn best gedaan.
    Groetjes uit België
    Theo
    https://groetenuittienen.blog/theo-herbots-zwart-wit-fotos-uit-mijn-verleden-black-and-white-photos-from-my-past/

    Like

      1. Netso. Ek het gelukkig n foto van 1951 waar ons almal op is. Oupa en ouma van vaderskant, tante en haar man en dogtertjie en dan ons drie kinders met Pappa en Mamma. Dit moes n fotograaf gewees het wat foto geneem het. Dis net voor ons SA toe gekom het. Ons het nie n foto van my ander grootouers saam met ons nie.

        Like

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s