Werk en speel

Ja, ja, dis slegs in die woordeboek wat speel voor werk kom. ‘n Mens moet balans hê. Om te kan speel, moet ‘n mens werk ook. Soos ek by Amway, eintlik die International Dreambuilders Assosiation, geleer het: “If you want to play where others don’t, you have to do what others don’t.” Dit is ‘n spreekwoord wat ek vir baie jare toepas en ook vir my kinders geleer het. Wees bereid om dit te doen wat ander nie wil doen nie, daardie goed wat te eenvoudig is, of, stap die ekstra tree. Soos Tina gesê het: “As jy moet moeite doen vir iets, is dit gewoonlik die moeite werd.” Of wat van: “Ek werk hard en ek speel hard.” Dit het ek vir baie jare toegepas. Iewers moet ‘n mens rus ook. Leana, ‘n klasmaat van my het gesê: “All work and no play makes Jack a dull boy.” Ek het baie van daardie een gehou!

Appeltjie het ‘n baie mooi bloginskrywing geskryf oor speel. Sy herinner my sommer aan ‘n klomp speletjies wat ons gespeel het waarvan ek al vergeet het. As onderwyseres sien sy ook die nuutste weergawes van ons ou speletjies, hoe die kinders dit al oor jare aangepas en verfyn het. Vernuwe het. Sy skryf:

‘n Kind wat speel is nie stout nie. Speel ontwikkel die brein en sosiale gedrag. Speel vorm vriendskappe. Speel is goed vir liggaamlike ontwikkeling. Speel leer mens wen en verloor op die regte manier.

Speel. Wat ‘n lekker ding is speel nie! Dis ontspannend. Dis goed vir jou. Speel teenoor leer. Die twee punte van die skaal. Die een kan nie sonder die ander nie, dan raak die skaal ongebalanseerd.

My kinders het die waarde geken van Leana se sêding, dat ‘All work and no play makes Jack a dull boy.” Hulle mamma het hulle aangemoedig om hard te leer, maar beslis ook goeie rustye te neem. Ek was nie self so goed daarmee nie, ek het maar gesukkel om te konsentreer by die leerdery. My een kind sou my in toetsweek trots bel en sê hy is gou ‘n bietjie by die see, dan ys die ander kinders oor wat sy ma sal sê, en al wat ek sê is, “Geniet dit.” Want ek het geweet hy leer hard.

As my kinders moeg en moedeloos geleer vir my gebel het, sou ek dadelik ‘beveel’ dat hulle hulle boeke toemaak, en iets voorstel wat ek weet daardie betrokke kind sal geniet om te doen. En sê, bel my vanaand of môre-oggend. Dit het gewoonlik gewerk.

Werk is goed. Hard werk is ook goed. Baie goed. Maar nooit sonder speel nie.

Toortsie

21 thoughts on “Werk en speel

  1. Ons het baie gewerk en regtig min gespeel. Ons het 2,200m² dorpserf gehad waarop ongeveer 350m² geboue was. Die res was taai kleislawerny in ‘n dorp waar die teer gereeld gesmelt het.

    Noudat ek oud geword het, wil ek speel.

    Kinders moet speel om te kan ontwikkel maar werk vestig integriteit en werksetiek. Albei is nodig.

    Verskoon my, ek gaan gou buite speel.

    Liked by 3 people

      1. Hier is dit heel okay! Jy wat affie plaas kom, ken jy die mooi liedjie wat die dikkopfamilie snags sing? Dis seker die mooiste singery van enige wilde ding. Ons het hulle so mak gehad dat die dikkoppe uit ons hande kom eet het.

        Gisteroggend was bokmakierie aka kokkewiet langs my bed in die kamer, by die skuifdeur ingewip.

        En dis suikerbekkies en muisvoëls, laksman, tiptol, mossie, vink, meelogie en spreeu, met patrysie, fisant en tarentaal in die natuurreservaat minder as 2m van my kopkussing af. Little Stuart, die streepmuis, kom kuier en dan die aanloopskilpad. Uil sit op die prieël en steenbokkie en duiker wei in die renosterbos, vreet groen surings. Jakhals roep in die maanlig.

        En daar is groot vrede as ek buite staan en waai vir die arme drommels wat in die ISS oor my kop wentel en hulle steak en tjips uit ‘n buisie moet suig.

        Liked by 2 people

        1. Ek het jou gaan soek en volg nou jou blog. Voëlgesang was deel van my grootword dae, eks ook affie plaas. Nou woon ek in ‘n woonstel, daar is ‘n grooooot bloekomboom, wat takke afgooi so groot is dit, en daar woon ‘n uil, hadidas sit daar en die swerm spreeus met rooi vlekke se koorsang vul die dag.

          Liked by 1 person

          1. Dankie! Jy is gelukkig, hadedas is uitheems maar dié raaspeste het in Seepunt ingetrek, saam met Columbae Dakakris Capensis, daai Kaapse duiwe, en spreeus. Natuurlik die vakunievoëls wat heeldag protesteer en raas en roof maar self nie ‘n vis kan vang nie: seemeeue natuurlik.

            ‘n Paar dae voor ons weg is uit die digbeboude Seepunt, vir die eerste keer sedert 2009, kom sit ‘n meelogie reg voor my venster drie vloere bokant die grond. Op ‘n droë tak. Ek was oorstelp.

            Liked by 1 person

  2. Ek het ook altyd gedurende skoolhou tydperk eers hard gewerk met kinders en Dan net Sommer die laaste Tien minute net gesels. Met kleintjies het ons altyd n uur gewerk en Dan n halfuur gekontroleerde speletjies gespeel waar hul kon uitleef om te beweeg en mekaar te jaag.

    Liked by 2 people

          1. Nou moet jy ook onthou dat veral die seuns rugby of enige aktiwiteit doen gedurende pouse. Sodra hul net mooi op die wenpad is lui die klok en hul moet inkom. Ek het op n stadium die eerste tien minute van die periode die seuns bietjie krieket laat speel voordat ons begin werk Hul het geweet hul moet nie rof speel binne nie. Dit was spesiale klas kinders.

            Liked by 1 person

  3. Ek het my kinders van kleinsaf geleer dat hulle nie moet toelaat dat hulle akademie inmeng met hulle sosiaal nie, tot afgryse van hulle klasmaats se ouers. maw beplan joy werktye sodat daar genoeg tyd is vir speel. Hulle het almal uitstekend gevaar op universiteit en hulle beroepe. Hulle werk hard en het steeds genoeg tyd om te speel.

    Liked by 3 people

    1. Ek het ook gesê vakansies is daar om te RUS. Martjie moes wel elke dag musiek oefen. Ek sou sê: Vandag wil ek klavier hoor. Of blokfluit. Of dwarsfluit. Een instrument per dag. Sy sou self besluit wanneer sy dit dan oefen. Dit het uitstekend gewerk.

      Liked by 1 person

      1. Ja my k8nde4s het van kleinsaf geleer dat dit hulle verantwoordelikheid is om te leer. Wanneer en waar hille dit doen, is hulle saak( maar as die punte swak was, was die hel los! ). Hulle moet egter sorg dat hulle volgens hulle vermoë presteer. Hulle mag vra as hulle iets nie verstaan nie, hulle mag my vra om voor ‘n toets vir hulle vragies te vra, maar hulle moet vra. Ek het hulle nooit gedwing nie, ek het nie vaste studietye op hulle afgedwing nie, of geweier dat hulle erens heen gaan omdat dit eksamen was nie. Dit was hulle verantwoordelikheid( so van st 1 af). Dit het goed gewerk
        Hillecwas nie besondere uitblinkers op skool mue, maar wel op Varsity en in hulle werk. En dus waar dit tel! Hulle het baie verantwoordelikheid!

        Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!