Present

Present. Geskenk. Teenwoordig. Ek is teenwoordig. God is teenwoordig. Geskenk vir jou.

Dit was vir my ‘n groot besluit: Moet ons bou, of nie? Wat is die regte ding om te doen? Is dit nie oordadig nie? Wat wil God hê moet ons doen?

Vir lank het ek met God daaroor geworstel. Elke vraag in my hart met Hom bespreek. Gewag op antwoorde van Hom af. Elke moontlik ander opsie oorweeg. Die ontwerp van die huis verander. Na ander huise gekyk. Gedink hoe ons ons bestaande huis kon verander. Wat moet ons maak?

Groot besluite. Die plusse teenoor die minusse opgeweeg.

Die huis was egter al so ver ontwerp. Presies wat ons graag wil hê. Lieflike uitsig. Noordelike front. Koel in die somer. Warm in die winter. Alles wat ons vir ons oudag benodig op een vlak. 100 persent rolstoelvriendelik. Selfs die stort is rolstoelvriendelik. Vir wanneer ons dit mag benodig.

Een nag, tydens my worsteling word ek wakker van ‘n Stem wat vir my sê: “Ek gee dit vir jou. Dis ‘n geskenk.”

Die eerste woorde wat ek die volgende dag toe ons opstaan sê, is: “Ons bou. Dis ‘n geskenk en ‘n geskenk is ‘n geskenk. Ek gaan dit voluit geniet.” Ons hét die bouery geniet, glo dit as jy wil. Elke besluit was ‘n present. Die ligte. Die deure. Die vloere. Die vensters. Die dak. Die kleur. Elke iets ‘n wonderlike geskenk.

My wens? Dat, wanneer iemand in my presenthuis kom kuier, hulle die liefde en gasvryheid daar sal ervaar soos ‘n geskenk. ‘n Present. Dat ons teenwoordig sal wees vir mekaar, vir die persoon. Dat hy voller, meer vervuld daar sal uitstap.

En dis hoe ek oor my Rebusfonteinhuisie ook voel. Die huisie in my verbeelding in ons Towerinne se verbeeldingsdorpie.

Dis wonderlik wat sanitizer doen. Waar ons huisies in een lang straat gestaan het, staan dit nou, nadat dit met Sanitiseerder uitgevee is, bymekaar. Knus. Lekker. Almal bymekaar. Sodat ons lekker kan saamkuier. Met die dorpsmeent in die middel. Lekker!

Rebusfontein se huisie is ook ‘n geskenk. ‘n Present wat Vuurvliegie op 2 Mei vir my gegee het. Nóg ‘n presenthuisie! 🥰

Mag jou kuiers by ons in ons presenthuise altyd soos ‘n present voel.

My prentjie van die Towerinne?

Nie ‘n geslote groep nie. Daar’s altyd plek vir nog. Foto geleen op internet.
Met baie meer as 5. Foto geleen op internet.

Vriendskap is ‘n present van die Here. 😁

Toortsie

Volg al die Towerinne se skrywes op Inlinkz: https://fresh.inlinkz.com/party/942da9e9f0524c6b982439c66cceced1?visitor3

14 thoughts on “Present

  1. Ek hou van jou huis se naam! Geskenk van God af.
    Tussen my en jou, dit is vreeslik deur my juffrou-ma by ons ingeprent dat ń geskenk ń present is, niè ń persent nie. Persent is hoeveel jy kry in ń toets. Min mense gebruik die woord reg, maar elke keer as iemand van ń persent praat, wil ek iets sê. Nou werk ek hard daaraan om die kleinkinders die regte benamings te leer: geskenk = present.

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar op Toortsie Kanselleer antwoord