My Utopia

Na aanleiding van ‘n heerlike, vinnige whattsappgesprek met iemand.

Ek skep my eie wêreld. My Utopia. Daar waar ek gelukkig is. Baie daarvan is sommer in my verbeelding ook, maar dit maak glad nie saak nie, ek is gelukkig daar. En dink mense ek is van die lotjie getik, ook reg, ek is gelukkig daar.

In my Utopia doen ek lekker dinge. Probeer ek om die positief raak te sien. Speel ek. Maak ek kos. EET ek. Spandeer ek tyd met God. Lees ek blogs. Praat ek nonsens. Brei ek. Hekel ek. Borduur ek. Maak ek heeltemal te min musiek. Kuier ek. Lag ek.

Daar is sekere goed wat nie in my Utopia is nie. Volgens my mening is daar nie politiek nie. Ignoreer ek sekere baie slegte goed. Nie omdat ek afgestomp het nie. Nie omdat ek niks daarmee te doen wil hê nie. Nee, glad nie. Maar dis dinge wat my geweldig ontstel en daarom is dit beter dat ek dit nie in my utopia toelaat nie. In my Utopia verkies ek om nie nuus te kyk nie. Ek verkies om nie al die korrupsie te aanskou nie. Plaasmoorde. Vergrype. Inbrake. Rassehaat. Ek weet dit bestaan, maar probeer om nie daaraan deel te hê of te veel daaroor te tob nie. In my Utopia is ook nie ‘n ronde virusballetjie met skerp steeltjies nie. Genadiglik is my omstandighede so dat ek die virus redelik kan ignoreer.

Soms is dit egter nodig om wel die periskoop uit te steek, net om te hoor wat in die normale wêreld aangaan. Sodat ek wel onthou om my masker op te sit as ek winkel toe gaan. Of sodat ek die nodige voorsorg kan tref ten opsigte van my eie en ander se veiligheid.

Maar verder? Is ek baie gelukkig in my Utopia, dankie. Dit werk vir my.

Toortsie

14 thoughts on “My Utopia

  1. Ek stem so saam met jou Toortsie, mens weet al die onheil bestaan. Mense uit SA wat dit die hele tyd vir my aanstuur, maak my benoud. Reageer ek nie, lees ek nie, is hulle kwaad. Maar glo my, hier ver van my naastes moet ek in my utopia leef, veral nou dat ek nie mag gaan nie, anders sal ek gek raak.

    Like

    1. Vra dat hulle sal ophou. Verduidelik vir hulle hoekom. Dis vir my sleg om van plaasmoorde te hoor, dan is ek onrustig as ek op die plaas is en kan ek nie my man ondersteun nie. Ek vra eerder maar net die Vader se beskerming, beveilig myself, en ignoreer die res.

      Liked by 1 person

      1. Toortsie, dit is so. Nodig om waaksaam te wees, te weet van gevaar ek te vermy, maar ook om te geniet. Ek voel so veilig op ons plasie langs die Vaal dat mens vergeet van gevaar. En dit pla, ek dink die mense vergeet van gevaar. In ons bloed, om mense te vertrou.

        Liked by 1 person

          1. Ek ook nie. Ek het vrees oorgegee aan die Here. So baie mense het al vir my gevra, omdat ek vrou-alleen is, of ek nie bang is om alleen by my hek in te gaan nie, of alleen te slaap nie. Maar ek weier dat vrees die vreugde uit my lewe neem. AMEN!

            Liked by 1 person

  2. Ek kyk ook nie nuus nie( wel baie min), lees nie die corona stastistiek nie, of wanneer daar loadshedding is nie, kyk baie min na die weervoorspelling en kuier graag, oa ook op Rebusfontein. Dis eenvoudig vir my baie lekkerdr om nie so besig te wees met die realiteit vd lewe nie.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!