Liewe Madelé

26 Oktober 1974

Jy is vandag twaalf jaar oud. Aan die einde van standerd vier. Ek is al ‘n hele 57 jaar oud, kan jy dit glo! Ek onthou hoe ons uitgewerk het hoe oud ons sou wees as die jaar 2000 kom en dit het so ver in die toekoms gelyk!

Tannie Christa, ‘n wonderlike vriendin wat ek ontmoet het deur blogging, ‘n term wat vir jou nou totaal vreemd klink, woon in Kazakstan. Dis deel van die, in 1974, groot Rusland en agter die ystergordyn. Sy het my genooi om vir jou ‘n brief te skryf.

Madelé, wees opgewonde oor wat vir jou voorlê. Jy is een wat die lewe voluit gryp, die goeie én die slegte. Jy is ‘n baie spontane persoon wat spring voor jy dink, maar dit is reg so, dit is wie jy is. Party mense sal nie van jou spontaniteit hou nie, maar moenie dat dit jou ontmoedig nie. Dis juis wat jou uniek maak. Vir baie mense is jy ‘n inspirasie. Jy is die springmielie wat sommer uit die kastrol uit spring omdat jy nie daarvan hou om vasgedruk te word nie. Jy hou van die ooptes. Jy wil ver sien. Waak egter daarteen dat ander nie jou spontaniteit misbruik en jou gebruik om hulle vuil werk vir hulle te doen nie. Gelukkig, soos jy ouer word, leer jy daardie vaardigheid aan.

Alhoewel dit op ‘n plattelandse dorp nodig is om jou naam te beskerm, om in ag te neem wat ander mense dink, om ander mense in ag te neem, moet jy waak daarteen om nie ‘n People Pleaser te word nie. Dit kan jou identiteit van jou steel. In die sewentigerjare is ons nog baie in boksies en jy is gemaklik in daardie boksie, maar in daardie boksie kom jy nie tot jou volle reg nie. Waag dit! Klim uit die boks! Tog leer jy in daardie boksie goeie waardes en is dit nie te versmaai nie.

Ek het op ‘n laat ouderdom besef dat ek aandagafleibaar is en ek is so dankbaar dat dit nie kleintyd gediagnoseer is nie. Dís die rede hoekom jy so sukkel om te konsentreer in die studiesaal, hoekom jou werk soms net nie klaar kom nie al is daar genoeg tyd, hoekom jy sukkel om lang take te voltooi. Dit gaan jou baiekeer minderwaardig laat voel. Moenie jou bekommer daaroor nie. Jy is nie dom nie. Glad nie. Dit is net vir jou moeilik om iets te doen as jy regtig nie daarin belangstel nie. Jy is ook nie goed met onderhoudswerk nie en dit is ook goed. Jy hou nie daarvan om elke dag dieselfde ding te doen nie. Jou sterk punt is dat, wanneer daar genoeg druk is en die tyd min is, jy dit sommer tjoeftjaf doen. Met tyd leer jy ook om hierdie ‘probleem’ te oorkom. Leer jy om groot take te voltooi. Raak jy al hoe liewer vir ‘n uitdaging.

Jy het ‘n vry gees. Jou idees is die meeste van die tyd heeltemal anders as ander mense s’n. Dit laat jou ook minderwaardig voel. Maar koester dit. Leer om in jou idees te glo. Leer om jou visie te vertrou. Selfs al is jy die enigste een wat se prentjie heeltemal anders as die ander is. Moenie dat dit jou ontmoedig nie. Die probleem is dat die ander nie die prentjie in jou kop kan sien nie. Wat ek geleer het, is dat die eindresultaat goed is, baie keer WOW.

Ontgin jou talente. Gryp die lewe. Wees vreesloos. Sekere van jou eienskappe maak ander mense angstig, maar leef jou roeping uit. Staan op vir dit wat reg is, selfs al is jy die enigste een. Leef jou geloof uit. Dien God voluit. Praat as dit nodig is, al is jy die enigste een wat die moed het. Praat, omdat daar ander is wat op jou staatmaak. Help mense om uit die tronke waarin hulle is, waarin hulle hulleself gesit het, waarin ander mense hulle gesit het, te ontsnap. Wees die bemoediger wat jy is. Kyk uit vir mense wat swaarkry, jy het die oog daarvoor.

Jy gaan goeie tye hê, maar ook bitter moeilike tye. Jy gaan voorspoed ken en teenspoed. Rykdom en armoede. Maar jy het ‘n besonderse gawe om op te staan uit die as. Uithouvermoë. Die wil om vorentoe te gaan. Die dryfkrag om nie ‘onder jou omstandighede’ te bly lê nie. Jy het baie liefde in jou wat jy vir mense uitdeel. Jy het geen behoefte om ‘n groepleier te wees nie, maar jy haat dit om beheer te word deur iemand anders. Jy haat manipulasie soos ‘n passie en soos jy ouer word, sal jy dit meer en meer haat. Eerlikheid is vir jou ononderhandelbaar. Bou daarop. Bou op jou geloof. Koester jou waagmoed.

Gryp die lewe.

Liefde

Ekke.

18 thoughts on “Liewe Madelé

  1. Toortsie,jy is intens,uniek en ‘n uitstekende mentor. Dis goed om jou te ken en lekker om jou te verstaan want jy is gladnie so voor-die-hand-liggend nie, maar mense met goeie insig respekteer dit wat jou persoonlikheid alles omsluit.

    Liked by 1 person

  2. Dis baie goed om te weet hoekom dinge is soos dit is. As mens dit weet kan daaromheen gewerk word om jou lewe te vergemaklik. Op my ouderdom en met baie berading verstaan ek self ook hoekom alles is soos dit is en was. Nie dat dit alles makliker maak nie maar mens kan soos ek sê daaromheen werk. Wegsny wat nie by jou inpaspas en inpas wat vir jou gemaklik en lekker voel. Baie insiggewende brief wat jy geskryf het.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!