Die VVVT Toer hoofstuk 10 Gasblogger

Soos geskryf deur Musica:

Die VVVTT se tentflappe roer onrustig.  Iewers roep iemand hom. Dis Musika fluister dit saggies in sy tentwete.  Sy het hom nodig.  As hy nou net die tentvloer saggies kan tilt sodat die muntstuk tot onder Toortsie se vingers kan rol, kan hy effens beweeg sodat dit voel asog sy die munt vryf en dan kan hy die roepstem gehoorsaam.   Soontoe…….  effens af.     Komaan Toorts! roer jou vingers………. en JA  daar raak sy aan die muntstuk.  Die towerinne voel meteens net hoe styg die VVVTT op, en die volgende oomblik land hy versigtig op Waenhuiskrans waar hy hulle delikaat op die  stoep van die wit hotel neersit.  Margarita, Moyito, Gin verskyn voor elkeen en hulle word verwonder deur die mooi uitsig wat die uitgaande gety van die see hule bied.  Die VVVTT se tentseile sug asof verlig, nou kan hy Musika se roepstem beantwoord.  

Musika sit voor die kerkorrel op die Grabouw. Die VVVTT se seile vou sag in mekaar drie kerkbanke as hy die musiek hoor wat die mooi gebou vul. “VVVTT, eks so bly jy is hier. Ek wil so graag teruggaan na my kindertyd en foto’s neem van my kleintydspeelgoed. EN net jy kan my neem. Is dit muntstuk hier?” Die VVVTT kry sy gedagtes bymekaar, toor die muntstuk op en Musika streel dit saggies. Voor sy haarself kom kry, beland sy in die lyf van ‘n 7-jarige dogtertjie op die plaas waar môre nog moet kom. In die agterplaas speel sy en haar boetie en sussie met die paaie, kampe en bruggies wat hulle in die grond gemaak het. Die klei-diertjies wat hulle die vorige dag van potklei gemaak het, wei klaar in die kampies. ‘n Paar karretjies uit ou visblikkies wag by stopstraat en die ossewa met sy dolosse vooraan ingespan, is op pad land toe. In die tent kliek Musika se selfoon om die herinneringe vir ewig vas te vat.

Sonder om die kinders te steur, styg die VVVTT op en verdwyn in die huis in tot waar Musika se ma voor die klavier sit en sing. Musika onthou van al die musieklesse, die begeleiding in die skoolsaal van die hoërskool waar haar pad kruis met die van Toortsie. Haar gedagtes spring na die klipkerk op Stanford. Die VVVTT skiet verwilderd deur tyd en ruimte om by te bly, tot waar ‘n onseker Musika in haar twintigers voor die klein orreltjie sit. Die ou tannie langs haar verduidelik van “swell” en “great” en voetnote; van hoe die vlakke met mekaar praat; van die nuwe tegniek waar een vinger ‘n ander aflos; van ‘n lang vloeiende spelpatroon. En toe…….. skakel sy die orrel aan. ‘n Betowering trek deur haar lyf en siel toe haar hande en voete en die goddelike instrument mekaar vind en ‘n lewenslange liefdesverhouding gebore word.

Weereens vryf Musika die muntstuk en die  VVVTT  neem haar  terug na die toringkerk in Grabouw.  Dis  kerssangdiens en die mense se sang saam met die klank van die orrel vul  die gebou.  Toortsie se Neef is ‘n gemeenteganger en hy sien die orrelis raak. Neef en Musika se storie is een vir ‘n  ander tyd, fluister Musika opgewonde vir die towertent.  Die VVVTT begin fladder.  Die towerinne se sundowners behoort nou al op te wees en hy moet terugkeer.    Musika wil nog keer want sy wil nog Weskus toe, na Peddie se Baai waar jy totaal afhanklik is van die natuur as jy gaan kamp,  na die Seychelles waar sy die ondersese lewe in die koraalriwwe wil gaan kyk en sy wil nog ‘n laaste draai maak by hul eerstydse strandhuis langs die wit hotel op Waenhuiskrans en ……….    Maar die VVVTT glip en gly onder haar en haar vingers streel onwillekeurig oor die muntstuk. Die towerttent  glip skuins,  laat val haar in Neef se arms en  verskiet tot op Waenhuiskrans.  Die towerinne het definitief meer as een sundowner in en hulle val vrolik die tent binne, rol om en raak aan die slaap. Verlig vou die VVVTT sy seilarms om sy rykdom, styg op en verdwyn tussen die sterre.    

Dolosse:    https://www.publicdomainpictures.net/en/view-image.php?image=87643&picture=dolos-toys

Grondpaadjies:  facebook

Waenhuiskrans foto: http://southafrica.co.za/weekend-away-arniston.html

……………….

Hierdie is nog ‘nLê-Jou-Eierbloguitdaging wat deel vorm van die Towerinne se avonture.

Skakel:https://fresh.inlinkz.com/p/935a80f8f1d64f4f8f4a491bb1abb030

37 thoughts on “Die VVVT Toer hoofstuk 10 Gasblogger

  1. Het ook daarvan gehou dat die vlugtende tent die vermoë het om die verlede te gaan besoek. Wie weet, dalk is dit waarheen hy moet gaan met elke Towerin. Baie mooi….

    Like

  2. Pragtig geskryf Musika. Bly jy kon jou kindertyd en jongmeisiejare gaan opsoek… en in die neef se arms val.
    Jy het my bietjie teruggeneem na my oupa hulle se plaas toe met die kleiosse en dolosse. 😊

    Liked by 1 person

  3. Hoe nostalgies was die kuier in die kerk met orrelspel. Ai, daardie kindertyd se spelery met dit wat tot jou beskikking was is beslis die moeite werd gewees. Ons het ook klei huise gebou en papierpoppe daarin laat speel. Daar was nie n dak op nie sodat die pop van kamer na kamer kon beweeg. Ons het self die poppies geteken en klere voor gemaak ook. Baie mooi skrywe, voel so sag en vloeiend en vol liefde.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!