Nog meer plastiekvry

Om plaastiekvry te lewe is glad nie so maklik nie, maar jaar vir jaar kom ek ‘n bietjie nader daaraan. Tog gebruik ek steeds heeltemal te veel plastiek. Ek moet erken dat ek nie so goed is met die herwinning van plastiek nie. Dis egter vir my makliker om te probeer om plastiekverbruik te minimaliseer.

Ek het oor jare al soveel hieroor geskryf. Kliek hier vir sommer ‘n hele klomp bloginskrywings wat ek daaroor gedoen het: https://toortsie.com/?s=plastiek

Dus, behalwe dat ek karton- en lapsakke vir my inkopies gebruik, gaassakkies saamneem vir my groente- en vrugteaankope, keer dat hulle my vleis en seep in broodsakkies plaas, nie strooitjies, oorstokkies, wegneemkoppies gebruik nie, waarop fokus ek tans?

Koop vars knoffel wat jy self sny in plaas van die opgekaptes wat in plastiekhouers kom. Dis in elk geval lekkerder en gesonder. En dit is mos in jou gaassakkie, nie in ‘n plastieksakkie nie, né?

Ek koop meestal eiers wat slegs in kartonhouertjies is en nie met plastiek toegedraai is nie. Mayonnaise in glasbottels, nie plastiekbottels nie, want die glasbottels gebruik ek weer vir inlê van kosse. Danksy my man se groentetuin, koop ek minder groente, maar kan ek ook my eie blatjang, kerriebone, slaphaakskeentjies, en wat nog alles maak. Dit beteken dat ek nie Mrs Balls in plastiekhouers hoef te koop, of die lieflike Werda in plastieksakkies nie.

Water. Vertrou jy nie die water in jou kraan nie? Koop jy water in plastiekbottels? Installeer ‘n waterfilter en spaar baie geld, maar veral ook plastiek! Drink sommer meer water uit jou filterkraan en drink daardeur minder Coke – minder plastiekbottels! Gaan jy iewers kuier of met vakansie? Tap jou bottels water vol by die huis. Of die plastiekkanne wat jy steeds het.

Ek maak my eie joghurt. Maklik en vinnig. Minder plastiekjoghurthouers!

Het jy bakkies nodig vir oorskietkos? Belê eerder in glasbakkies met ‘n plastiekdeksel as ‘n hele plastiekbakkie.

Skoonmaakmiddels? Ek moet erken dat ek heeltemal te lui is om my eie brousels aan te maak. Ek weet baie mense doen dit en spaar tonne plastiek daarmee. Kyk ‘n bietjie na Mrs Martin’s. Hulle skoonmaakmiddels is baie gesonder en bevat minder stowwe wat skadelik is vir ons. Jy kan ook die produkkonsentraat by hulle koop in klein botteltjies waarby jy dan net die water voeg, in plaas van om kanne vol produk wat reeds water bevat, te koop. ‘n Groot besparing in plastiek.

Ek sit nie sakke in my vullisdromme nie. Hoekom is dit nodig? Dis net ‘n klomp plastiek wat weer die wêreld vol waai of die aarde besoedel.

Hou die papiersakkie waarin jy jou apteekgoed gekoop het vir wanneer jy weer ‘n sakkie nodig het. Benut die plastiekbakkies, soos joghurtbakkies om sop in te vries, of vir wanneer jy vir iemand ‘n bakkie sop wil gee.

Kry ‘n komposhoop vir jou kombuisafval, of anders, gooi die skille net so onder die bome, maar dit lyk nie so mooi nie. Dis goed vir jou grond, vir jou tuin. Waarom so ‘n belangrike komponent weggooi en dan kunsmis ten duurste gaan koop? Dit spaar die sakkies waarin jy die skille gooi. Meer nog, maak sommer jou eie groentetuin! Wel, tans doen ek dit nie, ek is te lui, maar my man doen. 🙂

Volg gerus vir Less Plastic op Instagram vir uitstekende nuwe idees om nóg minder plastiek te gebruik. Rome is nie in een dag gebou nie. Begin net en maak dit ‘n leefstyl. https://www.instagram.com/lessplasticuk/

Maak seker dat jou gesigskrop nie plastiekballetjies bevat nie. Koop gladde tandepasta, nie die een wat skrop nie, want dit bevat ook plastiekballetjies.

Groete

Toortsie

14 thoughts on “Nog meer plastiekvry

  1. Ek hoor jou en lees jou raak. Hier word elke liewe ding in ‘n plastieksakkie gesit, jy het geen keuse nie, dit word so geweeg aangegee. Dus vat ons Metro sakke saam wat ons gekoop het. Ons gaan ook ‘n sleepkarretjie koop om die aankope mee huis toe te bring.

    Liked by 2 people

  2. Daai plastiekbakkies bevat raap of radys met ‘n knoffelgeursous oor, dis iets wat ek gladnie kan eet nie en dit maak my hondsiek. As ek vars knoffel self bewerk, eet ek lekker sonder nagevolge, behalwe dat SARS ‘n mens dan vinniger help.

    Liked by 1 person

  3. Na die sterk winde wat nog hier waai is my tuin vol plastiek wat hier beland het. Na net twee dae het ek ‘n groot afval sak vol gepak met die vuilgoed wat ek opgetel het. Ek probeer ook om met minder plastiek oor die weg te kom.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!