VVVTT Towerinwêreldtoer hfs 3

Ingedagte staan ek die dinkpenning en vryf. Ek is verlief. Totaal verlief. Op Kazakstan. Christa het my in vervoering. Die volgende oombik gee ons Vlieënde Virus Vlugtende Towerin Tent ‘n vreemde ruk. Die Towerinne gryp almal in die lug in ‘n poging om hulle balans te hou.

“Waddehel?” vra Hester. “Toortsie! Wat maak jy?” “Ekskuus. Jammer! Ek het nog staan en dink aan Kazakstan en hoe wonderlik is en ek wil terugkom hierheen en het per ongeluk die muntstuk gevryf. O aarde! En nou het ek in elk geval vergeet waar en wanneer ek moet vryf en hier is ons reeds op pad iewers heen!” “Ai Toortsie, party mense kan jy met jou saamneem, ander kan ‘n mens net mooi aantrek, maar moet hulle eerder by die huis los. Vir jou kan ‘n mens nie eers mooi aantrek nie!” terg Kameel. “Sorrie Kameel.” “Toemaar, ons is nog altyd lief vir jou”, sê Una.

Heelwat later land die wondertent sag en rustig iewers langs die see. Die Towerinne klim verlig uit. “Oeee, dis pragtig!”, sê Woordnoot. Ek wonder waar is ons nou? Kyk hoe verskriklik mooi is die see, en al die spierwit huisies met blou dakke so teen die heuwel gebou. Dit laat my aan Griekeland dink.”

“Ja”, sê Aalsie, “dit is Santorini, een van die Griekse eilande. Om bo in die stad, Fira, te kom, kan ons die kabelkar neem, die 588 trappe klim of donkies neem.” “Ja!”, sê ek dadelik opgewonde, “kom ons vat die donkies.” Tannie Frannie is dadelik byderhand met ‘n broodjie om vir die 16 donkies te betaal. Gou-gou is elkeen op haar donkie en laggende en gillende betree ons die trappies. Dis só ‘n lawaai, oral loer Griekse tannies by hulle deurtjies uit om te kyk wat aangaan.

Kort voor lank is dit nie meer snaaks nie. Die donkies word aangejaag, hulle bondel saam, hulle is maer en moeg. Eintlik is dit glad nie plesierig nie. “Nee”, sê Perdebytjie, hierdie is dieremishandeling. Kyk hoe maer en afgemat is hierdie donkies. Daar is vir hulle geen genade nie!” “Ja regtig!”, sê Positief, “wat kan ons doen om dit te stop?”

Uiteindelik is ons bo en die gesig wat ons daar sien, laat ons gou vergeet van die slegte donkierit.

“Asemrowend!” sê Bondelsgedagtes. “Uit ‘n ander wêreld, antwoord Scrapydo. Toe die Towerinne al die winkeltjies sien en die mooi ware wat daar verkoop word, moet Frannie net broodjies aangee. Hier wil die Towerinne koop! Kort voor lank is hulle dors en warm en gaan sit by ‘n straatkafeetjie. Die vakansiestemming is onbeskryflik.

Kort voor lank is daar manne wat kitare en bouzouki’s uithaal, sommer net daar in die straat. Dis ‘n getokkel van die eerste water. Die volgende oomblik hoor ons net “Zorba!” My tone krul van lekkerkry. Die kitare begin die inleiding speel en gou-gou begin ‘n man daar in die straat dans. Een vir een begin die mense naderstaan en saamdans. Ek en Seegogga laat nie op ons wag nie, ons val ook in. Kameel sit nog haar kop en skud, maar Una en Perdebytjie besluit dat geen Towerin vandag hierdie pret gaan mis nie en haak net daar weerskante van haar in om saam te dans. Net daar staan Aalsie, Hester, Vuurvliegie en Christa op en val in. Bondels gryp vir Scrapydo en VirgoC aan die hand en kom dans saam. Dadelik is Sonell, Frannie en Woordnoot ook by. Almal geniet hulle gate-uit en dans die Zorba asof hulle dit al van babadae af dans.

Ons spandeer die hele dag daar, eet moussaka, gebakte vis, feta-kaas, olywe en drink egte Griekse wyn. Ons lag dat ons kiewe seer raak.

Toe dit begin skemer raak, moet ons weer vertrek. Ons neem almal die kabelkar terug na onder waar ons wondertent vir ons wag.

“Dankie, Toortsie, dit was heerlik!”, sê almal. “Nee, dit was nie ek nie, dit was die muntstuk!”, lag ek. “Hier, Perdebytjie”, dis jou beurt. “Ek wens ek kry nog ‘n beurt, ek is mos mal oor toer!”

…………………

(Suiwer verbeelding van die Toortsie)

Hierdie hoofstuk vorm deel van die uitdaging vir Afrikaanse bloggers wat as die Towerinne bekend staan. Ons is die hoofkarakters in ons eie vervolgverhale (natuurlik) en ons fantasie stories is vir ander ondenkbaar, ondoenbaar, onverklaarbaar. Maar nie vir die Towerinne nie.

As jy die verhaal wil volg, moet jy op die onderstaande skakel kliek om die eerste hoofstuk te lees. Na myne sal daar gereeld nuwe hoofstukke bygevoeg word. Totdat ‘n ander fantasie ons aandag vereis. Dan begin ‘n nuwe vervolgverhaal, ek bedoel avontuur.

Lees die ander bloggers se bydraes by ons InLinkz-skakel https://fresh.inlinkz.com/party/935a80f8f1d64f4f8f4a491bb1abb030

Sou jy graag deel van hierdie avonture wou raak en self ‘n hoofstuk saamskryf, kan jy dit ook in die kommentare noem.

61 thoughts on “VVVTT Towerinwêreldtoer hfs 3

  1. Ag Griekeland… een van my groot drome. Ek sou eerste op daardie dansbaan gewees het Toorts…. net my dronkkop wat my dwing om stemmig te wees. Oooo met my lengte het my voete op die grond gesleep op daardie donkie se rug. Kon net sowel geloop het met die donkie tussen my bene. 😊

    Liked by 3 people

  2. Toortsie, ek was vir ‘n oomblik vreeslik bekommerd daar – ek het gedog Perdebytjie en Positief gaan daarop aandring dat ons moet afklim en die donkies dra. Sjoe! Darem toe nie. En die dansery. Ai tog, ek kon net nie die ritme regkry nie en was die heeltyd uit pas met die musiek. Ek het dit nietemin gate uit geniet. Dankie vir die lekker toer, al was dit per oepsie.

    Liked by 1 person

  3. Geluk by die ongeluk, toe land ons op n Griekse eiland van Alle plekke. Dis die skoonste witste huisies wat mens aan kan dink. Arme Donkies, ons moes hul eintlik ingeboek het by n diere hotel. Is almal darem weer in die tent? Ek Tel nie genoeg bene nie.

    Liked by 1 person

  4. Daardie bordebrekery het my nou laat terugdink toe Simon the great Greek (die Griekse student wat by ons aan huis gebly en soos ons seun geword het) verloof geraak het. By ‘n Griekse restaurant gevier… en later het ons ook Zorba gedans. En daar begin die klomp borde stukkend gooi. Dit was nou ‘n ondervinding.

    Like

  5. Dit was ‘n weerbarstige bootrit vanaf MSC se passasiersboot na Santorini. Ek het met ‘n groen skynsel voet aan wal gesit, die busrit óp gevat,oor ‘n oorvol asbakkie gehang by ‘n restauranttafeltjie terwyl die res op ‘n Santorini wyntoer was en wasbleek ná die kabelkar en kleinbootrit weer by ons passasiersboot ingeklok. Santorini se indrukke was prentjiemooi maar ek was naar.

    Liked by 1 person

  6. Ek moet byvoeg…daar was lieflike blou koepelkapelletjies en ten minste 5 huwelikspaartjies op Santorini daardie dag! Romanties (al is jy deurskynend en seesiek en al voel jy boonop nie lekker nie!)

    Liked by 1 person

  7. Opa, Toortsie, opa! Ek was hoeka lankal weer lus om in die strate te dans. Het jou dadelik herken op die foto waar jy donkie ry – watter heerlike avontuur, so in jou jeug! Met Zorba het jy my gedagtes op ver paaie gelei…

    Like

Gesels saam, asseblief!