Transformasie Gebedsbediening TPM

Jare gelede was ek in ‘n krisis en het ek te doen gekry met Transformasie Gebedsbediening (TPM Transformation Prayer Ministry). Op daardie stadium was dit bekend as Theophostic Prayer Ministry. Wat dit aan my siel en gees gedoen het, kan ek nie beskryf nie. Dit was fantasties. Intussen is ek ook opgelei as TPM Fasiliteerder en sien ek hier en daar kliënte terwyl ek dit ook steeds op myself toepas.

Ek sien wonderwerke voor my oë gebeur. Ek sien hoe mense met swaar harte by ‘n TPM sessie opdaag en verlig en verlos van jarelange vragte wat hulle saamgedra het, daar wegstap.

TPM is ‘n gebedsbediening waar ek slegs as fasiliteerder optree tussen die kliënt en God. Ek vra slegs vrae soos vasgestel deur TPM self en gee nie raad nie. Deur baie spesifieke vrae kom ons gewoonlik uit by die wortel van die probleem, by iets wat dalk in die persoon se kinderdae gebeur het, baie keer iets wat die persoon al lankal vergeet het. Dit word dan na God uitgehou en Sy waarheid word gevra. Hy wys die persoon die waarheid op ‘n unieke manier wat daardie persoon sal verstaan. Gewoonlik, wanneer die persoon waarheid ontvang het, is daardie probleem opgelos.

Tydens TPM kry die kliënt ook die geleentheid om wrokke, woede of kwaadwees wat hy mag hê teenoor iemand anders, te vergewe. Natuurlik is dit vrywillig, maar wanneer iemand sy kwaadwees teenoor ‘n persoon, God, of iets laat gaan, is sy hart baie ligter en word sy eie probleme ook sommer makliker opgelos.

Ons werk op hoe die persoon oor iets voel en vir baie mense is dit die eerste keer vreemd omdat hulle nog nooit hulleself die voorreg gegun het om te dink oor hoe hulle voel nie. Of die gevoel is dalk nog al die jare doodgedruk omdat dit te seer is daar. Ons gee die seer lug en dit is nie altyd maklik nie, net soos dit nie maklik en lekker is om aan ‘n seer tand te laat boor nie. Tog weet ons dat as daardie tand geboor is, dit skoongemaak is en nuut opgevul is, dit aansienlik beter voel as om met die seer tand te loop.

Ek bied TPM aan op Struisbaai omdat dit so rustig en mooi is daar en ook privaat sodat die persoon ongesteurd kontak met God kan maak en sy probleme in die oë kyk.

Groete

Toortsie

9 thoughts on “Transformasie Gebedsbediening TPM

  1. Ja, dit klink baie interessant, al het ek nog nooit daarvan gehoor nie. Ek was in die 80s betrokke by Change the World School of Prayer en kan self getuig van ‘n lewe van opeenvolgende wonderwerke, klein goedjies soos kos wat vermeerder tot ‘n mens wat lewendig geword het nadat die ambulanspersoneel daardie persoon dood verklaar het, iemand baie naby aan my.

    Omdat gevoel en selfs gestelike ervaring in die basal gnaglia in die brein plaasvind, het ek die afgelope 2 jaar agv beroerte baie skake gelei en moet ek dinge van vooraf leer. Uit eie ervaring weet ek dat baie geestelike gevoel meer neurologies as geestelik is. Dit verbly my om te soen dat daar nog mense is wat ander help regmaak en die stukke weer vasplak.

    Like

    1. Google ‘n bietjie transformation prayer ministry. Dit het ontstaan nadat Dr EdSmith wat ‘n pastorale sielkundige of iets was, vir jare met ‘n ene Mary gesukkel het. Sy konnet nie vorentoe beweeg nie. Oor en oor het hy dieselfde ding vir haar gesê, maar geen vordering nie. Sy het net vasgesteek. Toe, moedeloos sê hy: ‘Ek wonder wat God hieroor sou sê’ en sit met sy kop tussen sy hande. Weet nie meer watter kant toe nie.
      ‘ja, ja!’ Sê sy. ‘Ek weet nou. Dit is so en so en so!’ Hy kyk haar verbaas aan en vra hoekom sy dit dan nou skielik snap, hy probeer dit al vir jare in haar kop kry? En sy antwoord: ‘Want God het dit nou vir my gesê. ‘
      En daardie dag is TPM gebore. Dit was eers Theophostics Prayer Ministry, en ietwat ingewikkeld, sê hulle. Dr Ed Smith en sy seun het dit totaal vereenvoudig na ‘n paar standaardvrae wat jy vra. Dit wen baie veld omdat dit nou so maklik is om aan te leer en baie mense as fasiliteerders opgelei word. Jy kan die opleiding gratis opdie internet dien, wat ek aanvanklik gedoen het en daarna die formele kursus in die Kaap gedoen.

      Like

Gesels saam, asseblief!