Hoekom?

Ek was op pad om te gaan help werk vir ‘n belangrike funksie en het nog nie iets geëet nie. Ek was op daardie stadium maar so twee maande op die nuwe Bantingleefstyl. Wegneemeetes vir Banters is maar soms dun gesaai en al wat ek kon kry om te eet, was ‘n pakkie neute.

Die vriendelike dame wat regtig baie van kos weet, bied vir my iets soets aan om te eet en ek antwoord vriendelik dat ek nie nou iets wil eet nie, dankie, ek het ‘n klomp neute geëet op die pad. ‘Hoekom?’ vra sy my. ‘Want ek mag’, antwoord ek, bedoelende, dit is van die kos wat ek mag eet en ek was honger.

Kry ek daar ‘n speech oor Banting. Want sy het geweet ek volg die program. Oor hoe sleg dit is. Weerspreek haarself ‘n hele paar keer. Ek moet versigtig wees, jy kan dit net vir ses maande volg, dan is dit baie sleg vir jou. Eintlik ís dit baie sleg vir jou, jou gesondheid gaan daaronder ly. En Tim Noakes hét gesê dat as jy eers met Banting begin het, jy nooit daarmee kan ophou nie. Jy speel met vuur. Jou cholesterol gaan dalk in die begin afkom, maar gaan later die hoogtes inskiet. Dit is nie gesond nie. Blablabla. Ek vra haar of sy Tim se boek gelees het. ‘Nee’, sê sy. Ons het toe verder gewerk, niks meer oor hierdie onderwerp gepraat nie.

Baie mense het my goedbedoelde raad gegee. Afgeraai. Dopgehou.

Die ses maande het gekom soos ‘n berg voor my en gegaan soos ‘n afdraend. En nou is dit al amper ses jaar wat ek die leefstyl volg. Ek dink almal het dit nou aanvaar. Soms sal iemand nog vra of ek dit steeds doen en dan sal ek vriendelik ja sê. Vir my was dit die beste kosbesluit ooit.

Toortsie

Elke persoon doen dit op sy eie risiko en ek stel altyd voor dat jy eers met jou dokter praat voor jy dit doen.

7 thoughts on “Hoekom?

  1. Ek het onwetend en totaal afhanklik die waarde van Banting LCHF ontdek tydens ernstige siekte wat glo veroorsaak is deur medikasie om diabetes te beheer. My bloedsuiker het pragtig gestabiliseer op 6.25 gemiddeld, teenoor 24. Gewig het afgekom met 22kg en ek het eindelose energie gehad. Bloeddruk was ook af en cholesterol so verminder dat statins nie nodig was nie.

    Vanweë ongewingsfaktore moes ek noodgedwonge weer begin verkeerd eet. Met die 55% wat Prof Tess van der Merwe op RSG aangeraai het, het ek in 2016 en 2017 beroertes gehad, Nov 2018 weereens en toe weer 5 Junie 2019, 5 Julie en 16 September. Wat hiervan, Prof Tess? Koolhidrate is GIF en die diabetiese dieet by NSH is gelaai met onaanskoulike, koue, onsmaaklike oneetbare koolhidrate met amper geen proteïn daarin nie. Dalk moet dieetonkundiges weer van voor af opgelei word.

    My lyf leer my dat Banting reg werk. Hoekom het my cholesterol kritiek verhoog toe ek opgehou het met LCHF?

    Liked by 2 people

Gesels saam, asseblief!