Stilweestyd

Ag, ek weet dit al vir baie lank en ek is seker dat ek al voorheen hieroor geskryf het, maar stilweestyd met God is vir my baie belangrik. Nie omdat ek my hoogheilig wil hou nie, maar omdat ek dit so verskriklik nodig het. Omdat dit my help om perspektief te kry en te behou. Omdat dit my kalmeer om tyd met God te spandeer. Omdat ek Hom liefhet. Omdat dit vir my lekker is om tyd met Hom te spandeer. Omdat Hy regtig leef en my baie help, in maklike én moeilike tye. Omdat ek regtig ‘n verhouding met Hom het. Omdat Hy betrokke is in ons lewe.

Maar ek het ‘n manier om te besig te raak, om van herwaarts na derwaarts te hardloop, om toe te laat dat ander ook my tyd vul, om te veel dinge in te min tyd te wil doen. Sulke tye lees ek steeds Bybel, maar sommer net so vinnig en ek rammel net gou ‘n paar sinnetjies gebed af en daar gaan ek. Die Here wou nog met my praat, maar ek hardloop al weer en al wat Hy kan doen is Sy hand opsteek en waai om vir my te sê, stadiger My kind, stadiger!

Maar ek troos my daaraan dat Hy my gelukkig goed ken.

Ek besef maar te goed dat geen te besig wees, selfs dinge vir die Here doen, kan opweeg teen my stiltetyd nie. Ja, ons moet kerk toe gaan, ons moet werk vir die basaar, ons moet goed wees vir ander, ons moet help waar ons kan, veral in tye van nood, ons moet koekies bak vir die kerk, pannekoek bak, die Here vra dit van ons. Hy vra van ons dat ons ons Christenskap sal uitleef deur goed te wees vir ander, veral hulle in nood, om ons kant te bring by fondsinsamelings vir die kerk, om ons gawes wat Hy ons gegee het tot voordeel van ander te gebruik, maar nooit mag ons die goed doen ten koste van ons stilweestye met Hom nie. So graag soos ek geestelike boeke lees, mag ook geen geestelike boek die Bybel vervang nie, is geestelike boeke slegs addisionele leeswerk, addisionele leer van mense wat my kan help om meer te leer van Hom.

Want as ek nie goeie stilweestye het waar ek met Hom praat, vir ander en myself bid, dit wat op my hart is met Hom bespreek, lees wat Hy in Sy Woord vir my sê, tyd gee om te luister nie, raak my emmertjie leeg waaruit ek vir ander moet dien. Raak my koffiekan leeg en lê daar later net die moer onderin, as ek oorlede Louis Malherbe se voorstelling mag gebruik. Begin ek onrustig wees, raak ek senuagtig, slaap ek sleg, raak ek moeilik aan die slaap, droom ek onrustige drome. Want dan probeer ek self my aan die gang hou met net so ‘n knertsie van die Here af.

Ek weet nie van jou nie, maar ek het goeie tyd saam met Hom nodig. Want dit is goed vir my. Dit hou my geanker. Geaard. Verbind aan my Skepper. Aan Hom, wat die beste weet vir my.

Toortsie

16 thoughts on “Stilweestyd

  1. Hemelse Vader, ons bid vir al die mense in Suid Afrika – verkoue, griep, en hierdie winter die aaklige Beestelike Pestilensie ook.
    U is die God van ontfeminge.
    Ontferm U asseblief oor elkeen. Beskerm asseblief teen die kieme wat mense kan plattrek en baie siek maak, selfs hulle einde op aarde veroorsaak. Baie mense is bang, Here, U weet dit.
    Maar alle mag in die hemel en op aarde behoort aan U.
    Gee U vrede in die gemoed, asseblief Liewe Heer.
    U Naam is oor al U mense uitgeroep.
    Dankie Here dat U hoor wanneer ons bid.
    Toon die grootheid van U mag sodat U Naam geheilig word, U koninkryk kom en U wil geskied, in die Naam van Jesus Christus, amen.

    Liked by 1 person

  2. Toortsie, dankie vir die tot stilstand kom om jou blog te lees… Toe besluit ek om maar sommer net hier en nou te bid. Terwyl ek die kansie het. Oor dit wat in ons almal se koppe is…
    Dankie hoor.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!