Die Coronasjaal

My dogter het al verlede jaar vir my die wol en patroon gegee om vir my ‘n sjaal te brei. Twee dae ná die inperking begin het, het ek begin brei aan dit. Met drie stekies op ‘n lang sirkelpen.

Aanvanklik brei ek met opwinding. Hierdie sjaal gaan ek sommer gou kafdraf, nes die inperking wat ons binne drie weke sou kafdraf. Maklik. Tjoeftjaf. Hoe moeilik kan dit nou wees?

Maar sjaal is ingewikkelder as wat hy op die oog af lyk. Met versteekte uitdagings.

Aanvanklik gaan dit vinnig. Die steke raak ry vir ry meer. In die begin kan ‘n mens hom mooi uitsprei en tóg ‘n idee kry waarmee jy besig is.

Kort voor lank was die steke te veel, kon ‘n mens dit nie meer oopsprei nie, raak dit net ‘n warboel van ‘n klomp kleure, ‘n deurmekaarspul wat glad nie sin maak nie. Amper ‘n slegte smaak in die mond. Dit voel of jy brei en brei en die deurmekaarspul raak net meer en meer. Jy weet nie meer watter kant toe nie.

Die vinnige drie weke word verleng. Raak langer, so lank dat jy nie eers meer weet hoé lank nie. Die steke raak meer, opgebondel, maak die hele sirkelpen vol sodat jy die begin en einde van ‘n ry moet soek. Net ‘n bondel bont en deurmekaar breiwerk.

Ek maak foute. Tel kliphard. In die een ry moet jy steke maak wat jy die volgende ry afgooi. Die rye is só lank, ek vergeet soms daarvan. Soms werk die steke nie uit nie, dan beteken dit terugbrei.

Ek begin reikhalsend uitsien na die dag wanneer ek kan begin afheg. Ek begin visualiseer hoe die breiwerk gaan vrykom. Die grendels gaan loskom. Die meer as 500 steke nie meer ingeperk is tot een breipen nie. Vry. Begin tel die oorblywende rye. Op ‘n rit tussen Bredasdorp en Riversdal slegs een en ‘n halwe ry.

Vlak drie van inperking. Die einde is in sig. Die afheg begin. Ook hier is ekstra steke om lig en beweging toe te laat. Dit gebeur presies soos ek dit gevisualiseer het. Golwe en golwe breiwerk kom vry.

Wat ‘n plesier. Wat ‘n lekkerte. Brei bring heling. Dis terapie. Vervullend. My coronatrui is klaar. Mag die tyd van inperking ook gou verby wees.

Toortsie

30 thoughts on “Die Coronasjaal

      1. En dis waar die probleem meestal begin. Net een steek te veel of te min en als verskuif. Glo nie ek sien meer kans om so-iets te doen nie. Het Bea se laaste truitjie se pant aanmekaar gebrei. Die patroonrye het ek net stelselmatig neergeskryf sodat ek kon weet waar patroonry is. Dit was maar net n 150 steke!

        Liked by 1 person

                1. Ek het multifokale lense. Dit werk wonderlik. Heel in die begin het dit ‘n bietjie aanpassing gevra, maar nou wil ek niks anders hê nie. Hulle stel hom in vir alles wat jy doen, so dis altyd reg.

                  Like

  1. Terug pieng: 2020 – toortsie.com

Gesels saam, asseblief!