Saggies

Party mense sê dit prontuit, by ander lees jy tussen die lyne, ander gooi hulle speelgoed rond, party raak stil en depressief, ander luid en bakleierig. Party gee hulle oor aan lafheid. Drank is daar nie meer om hulle aan oor te gee nie, behalwe tuisgemaakte brousels vir die waaghalsiges.

Ons mense kry swaar. Ons mense kry baie swaar. Hierdie toestand van inperking raak lank. Ons het nie meer raad nie. Finansieel en emosioneel kry ons swaar. Soos ‘n blogmaat skryf, dit voel of jy deur ‘n toegewasemde ruit kyk en nie behoorlik kan sien nie. Net so. Ons weet nie mooi nie. Kan nie regtig vorentoe kyk nie. Uitsigloos.

Dit maak ons bang. Kwaad. Depressief. Selfs laf. Waaghalsig. Dit laat ons dinge doen en optree soos ons nooit in normale omstandighede sou doen nie. Ons gehoorsames breek selfs die wet!

Vandag sê ek soos my Bokbaaivygievriendin altyd vir my sê: ‘Kom ons wees vandag ‘n bietjie sag met onsself.’

Net dit. Kom ons wees ‘n bietjie sag met onsself. Kom ons hê vandag ‘n bietjie genade met onsself en dalkies ook ‘n bietjie met ons medemens. Charity begins at home, sê hulle. 😁

Toortsie

19 thoughts on “Saggies

  1. Welkom, Suid-Afrika, by my gesin se sendelinglewe sedert 1998. Dis hoe lank ons al uithou.

    En toe, agv my hart, was ek van 31 Des 2018 tot 5 Julie 2019 ingeperk in veertien vierkante meter, sonder die luukses wat ander as vanselfsprekend ervaar. In daardie tyd twee beroertes in die serebellum gehad, sonder mediese sorg.

    5 Julie was ons huweliksherdenking, met die derde beroerte (vir die jaar) as viering van my vrylating, reguit tot in die goorste provinsiale hospitaal denkbaar. Maar dit was okay, nog een sou volg.

    Ek leef maklik sonder drank of sigarette en staan verstom oor die infantiele geneul op Twitter. Groot mans met nat luiertjies.

    Ons enigste bronne van inkomste is lankal daarmee heen en ek as wit man MAG nie eens aansoek doen vir werk nie. Sedert 1998 het ons nie ‘n huis nie en sedert 2001 nie ‘n motor nie. (Nee, die bank het nie die kar gevat nie. Dit was goeie gawe Christene se slenter.)

    Dus, die ouens wat so graag kla, moet regtig eers hulle seëninge gaan tel. Daar is mense wat dit swaarder het as ons.

    Terloops, binne die grendelperiode is ons èn verskeie ander gesinne boonop sewe dae kennis gegee, heel onwettig. As jy nog in jou eie plek woon, is jy bevoorreg.

    Liked by 2 people

  2. Toortsie, alles wat jy hier skryf is vir my ook waar. Ek weet nie hoekom ek aan die begin van die grendeltyd gedink ek moet myself besig hou nie, maar besig hou het ek gedoen – sommer baie besig! Ek dink dit was sodat die dae vinnig verby kan gaan, maar na al hierdie weke weet ek dat dit nie die antwoord is nie. Ek het onlangs myself ‘n bietjie ‘sagter’ hanteer: die ritme van die dae gevoel en besef ek voel meer gelukkig. Daar is nie dae om af te tel nie, so ons moet elke dag iets lekker doen vir ons self.

    Liked by 2 people

  3. Ek kan ook saamstem met wees n bietjie sagter op jouself. Almal het gevra wat doen jy, wat aan jy doen as jy so op jou eie is? Ek het gedink, baie wat ek kan en gaan doen, sonder sukses! Ek het opgehou om te moet dit of dat doen. Nou gaan ek soos die golwe beweeg. Saggies kabbel, bietjie hoër golwe, steeds rustig op maat van die gety. Dit het my nader aan die natuur gebring en ook aan myself.

    Liked by 1 person

    1. Horrormovie. Die effek van die inperking was selfs groot op my kleinkinders. Aanvanklik was hulle net stil en wou tv kyk. Op die plaas kon jy sien hoe hulle weer begin lewe en buitentoe hardloop.

      Like

Gesels saam, asseblief!