Wat is die lekkerste?

Hierdie ouma kan nie besluit wat die lekkerste is nie: As daar ‘n kinderlyfie kom inkruip tussen oupa en ouma in die groot bed, of as ouma en die twee kinderlyfies al drie probeer inpas op ‘n enkelbedmatrassie op die vloer?

Ouma sal ‘n plan moet maak en ‘n groter matras op die vloer gooi, ons pas regtig nou nie meer almal in nie. Maar dis so lekker, dis al wat ek weet.

Covid het kom steel by ons. By almal van ons. Op verskillende maniere. Ons kleinkinders sou ‘n hele week by ons kuier. Ons sou plaas toe gaan, want kleinseun is mal oor die plaas. Daar was soveel goed wat ons nog wou doen.

Toe kom Covid. Inderhaas moes ons die skoonma begrawe voor die grendeltyd aanbreek en moes ons die kleinkinders terug kry by hulle ouers. Want drie weke sou te lank wees. En sussie hét maar die naggies getel voor sy weer terug kon gaan na mamma en pappa. Só het Covid by ons gesteel en moes hulle kuier kortgeknip word en ons kon nie op die plaas gaan draai nie. Boeta het niks gesê nie, maar ek kon die teleurstelling op sy gesiggie sien.

Nag vir nag droom ouma allerhande drome, maar elke keer is daar kindertjies in die droom. Later droom ouma nie meer nie. Maar ouma verlang. Na haar kleinkinders en haar kinders. Covid is ‘n dief.

En dan, op ‘n wonderbaarlike manier mag ouma skielik haar kinders sien. En omdat mamma en pappa beide essensiële werke doen, mag die kleinkinders skielik wettig weer by oupa en ouma kom kuier. Oupa en ouma se harte is vol.

Om heel deur Covid te kom, is my mening dat ons met ‘n vergrootglas moet kyk hoé ons dit wat wel toelaatbaar is, tot maksimum benut. Hoe ons dit wat ons wel mag doen, na die beste van ons vermoë sal doen sodat ons nie vasgevang word in hierdie storie nie. Sodat Covid ons nie wen nie. Niemand gaan onaangeraak deur Covid kom nie. Sommige gaan regtig erg geraak word. Selfs geskend word in hart en siel. Maar ons moet aanhou soek na oplossings hoe ons dit kan maak werk vir onsself en ander om ons. Vir ander wat in sak en as sit, help planne uitdink, want dalk, net dalk is daar ‘n deurtjie op ‘n klein skrefie oop wat vir ons kan help.

Sterkte. Mag ons oplossings vind. Mag Covid ons nie heeltemal oorrompel nie.

Toortsie

16 thoughts on “Wat is die lekkerste?

Gesels saam, asseblief!