Ek moet bieg

Ek moet bieg oor Hemelvaartdag. Vir my as Christen is dit een van die wonderlikste dae op die Christelike kalender. Die dag wat Jesus opgevaar het na die hemel. Veertig dae nadat Hy opgestaan het uit die dood. ‘n Dag wat vir my as volgeling van Jesus besondere hoop gee, dat ek ook een dag daardie besondere voorreg mag hê om hemel toe te kan gaan ná my dood, of, as Jesus voor dan terugekom het aarde toe soos Hy beloof het, dán saam met Hom weggeneem kan word.

Hemelvaartdag was al as kind vir my ‘n spesiale dag, dalk om verkeerde redes, dalk om die regte redes. Dit was ‘n vakansiedag en as koshuiskind het dit dan beteken dat ons Woensdagmiddag na skool huis toe is. Vrydagoggend sou my pa ons skool toe neem en vir ons wag as die skool uitkom. ‘n Kort week.

Maar Hemelvaartdag het ook iets ingelei: Pinkster! Ek was mal oor Pinkster. Tien volle aande van Pinksterbidure. Ek weet nie of ek altyd die preke so goed onthou het nie, maar die singery. Tydens Pinksterbidure het ons baie gesing. Hallelujaliedere. Ek het hulle almal uit my kop uit geken. Daar’s ‘n dierbare kruis waar my Heiland bewys die liefde wat Hy vir my het; By die kruis … en so kan ek aangaan.

Selfs vir my as skoolkind wat dalk ander goed geniet het as die preek, was Pinkster ‘n spesiale tyd. Ek het dit nie sommer gemis nie.

Oor jare het die Pinksterbidure minder geraak, miskien net vier of vyf aande in plaas van die volle tien. Soms was ons selfs weg en het ons dit nie bygewoon nie. Tog is Pinkster steeds ‘n besonderse tyd in my lewe, waar ons regtig geestelik groei. Gewoonlik moes ek iewers by ‘n klein saaltjie help met begeleiding op die klavier of kitaar.

Vanjaar sal ons pinksterbidure per Youtube uitsendings kyk as gevolg van die inperking. Dit sal sy eie karakter hê.

Nou my bieg. Sedert Hemelvaartdag nie meer ‘n vakansiedag is nie, het ons, sonder dat ons dit besef, begin vergeet daarvan. Ook ek. Ek onthou nie meer altyd vooraf en stop my dag nie. My lewe gaan net aan. Iewers in die week het ek terloops gehoor dis vandag Hemelvaartdag, maar dit ook nie behoorlik ingeneem nie. Vanoggend, toe ek sien dat iemand daaroor geblog het, slaan dit my met ‘n emmer koue water in die gesig. Dis VANDAG Hemelvaartdag. Het ek dan só afgestomp?

Toortsie

14 thoughts on “Ek moet bieg

  1. Ek deel jou sentimente. Die feit dat die vakansiedag afgestel is, dra grootliks by tot die byna onopvallende aankoms van die dag. Vanjaar gaan Pinkster inderdaad n nuwe karakter aanneem wat ons sal moet koester

    Liked by 1 person

  2. Ek sien dit so: elke keer wanneer ek opkyk na die hemel, weet ek dat Hy weer kom, net soos Hy weggegaan het. Ek hoef nie Sy Hemelvaart net een dag per jaar te vier nie. Ek kan dit vier met elke keer se boontoe kyk. Dis ‘n heel-jaar-troos. So bemoedig dit my dikwels vir jare al. Maranata.

    Liked by 1 person

  3. Ek het ook vergeet…die Oom het ‘n skakel na ons kerk se hemelvaart diens gekry en ons het daarna gekyk…..teleurstelling. Die jong man wat dit gelei het, het grootgeword toe dit al afgestel is. Dit word afgewater….ek twyfel of ek na hulle pinkster uitsendings wil luister. Iemand dalk n voorstel van regte egte pinkster you tube uitsendings

    Liked by 1 person

    1. Bredasdorp gemeente s’n kan ek regtig aanbeveel. Gisteraand is deur ons jong dominee gedoen en was regtig mooi. Die reeks word van Maandag af deur da Cornie gedoen en na hom sal jy graag luister. Ek sal vir jou die skakel stuur.

      Like

Gesels saam, asseblief!