Die waarde van musieklesse

Dat musieklesse baie waarde het, is mos ‘n feit wat nie meer gedebatteer hoef te word nie. Ons weet dit mos almal.

Natuurlik is musieklesse vir die musikale kind iets uit ‘n ander wêreld. Hemels. Die plek waar hulle uiting kan gee aan hulleself. Die plek waar hulle talent maksimaal ontwikkel word. Die plek waar hulle behoorlik léwe. Waar hulle kratiwiteit ontwikkel.

Maar ook vir die minder musikale kind kan musieklesse ‘n goeie plek wees as hulle daarvan hou. Dit kan natuurlik ook die slegste plek op aarde wees as hulle nie daar wil wees nie. Dan kan dit ontaard in ‘n oorlogsveld.

Musiekles ontwikkel egter baie meer as net jou musikaliteit, kreatiwiteit, ritme, musikale gehoor.

In oorvol klasse bied musieklesse die geleentheid vir ‘n kind om in kleiner groepies te werk of selfs een tot een saam met die onderwyser. Die musiekklas kan ‘n veilige hawe wees waar ‘n skaam kind die geleentheid kry om haarself te wees en haar persoonlikheid gestimuleer word.

Die klavier laat middelkruisbeweging toe sonder dat die kind dit eers besef, iets wat blykbaar baie nodig is in die ontwikkeling van enige kind. Dan praat ek nie eers van ontwikkeling van die brein, verstaan en tel, die aanleer van die musikale taal nie.

Vandag dink ek spesifiek aan deursettingsvermoë. Om enige musiekinstrument behoorlik te bemeester, verg deursettingsvermoë. Geen musiekinstrument word oornag bemeester nie. Dit verg jarelange intensiewe werk. Dit vra dat jy jou musiekles bywoon, maar ook dat jy op jou eie sal oefen, iets wat baie mense nie kan doen nie. Dit vra ure en ure se harde werk, veral wanneer jy gevorderde musiek begin maak.

Om aan musiekeksamens deel te neem, beteken dat jy amper ‘n hele jaar aan jou eksamenstukke oefen totdat jy dit perfek doen. Aan dieselfde stukke. Tot vervelens toe oor en oor oefen. Moeilike stukkies inoefen tot perfeksie. In ons era van alles vinnig en kits doen, is dit iets wat amper onnatuurlik is.

Daardie deursettingsvermoë wat musieklesse iemand leer, word op die ou end deurgetrek na jou gewone lewe. Dis daardie selfde deursettingsvermoë wat die persoon gebruik om later ander groot take te doen wat niks met musiek te doen het nie. Ja, daar is ook baie ander plekke waar jy deursettingsvermoë kan leer, maar ek konsentreer mos vandag op musiek.

Dus, as jy dink dat musieklesse duur is, dink weer. As jou kind musikaal is en jy dit kan bekostig, is dit ‘n belegging in jou kind se toekoms wat baie meer rendement kan oplewer as waaraan jy nou kan dink. Dalk word jou kind nie ‘n volgende Beethoven nie, maar wat sy daaruit gaan kry, is vaardighede wat sy die res van haar lewe sal kan gebruik.

Toortsie

23 thoughts on “Die waarde van musieklesse

  1. Ek stem saam met jou. Ek bewonder mense wat musiek instrumente kan speel – ongelukkig het ek nooit die kans gekry om musieklesse te neem, maar ek sien hoe my kinders en kleinkinders daardeur baat.

    Liked by 1 person

  2. Dis iets wat ek altyd graag wou doen, kon lang stukke met 2 vingers op gehoor speel. Maar in daardie dae was dit “net moffies wat musiek leer.”. Meisies was bevoorreg.

    Liked by 1 person

      1. O, verseker! Een stuk was “In A Persian Market” en ‘n ander was iets uit die Bolero van Ravél. Nie sommer net Vader Jakob nie.

        Like

  3. Ek het self nie geleentheid as kind gahad om n instrument te bespeel nie. Wel by my suster blokfluit geleer speel. Sy het lesse gehad. Ek het ak vertel oor my ondervindings terwyl ek studeer het en die dosent wat my verkleineer het voor die klas. OP n ouer ouderdom het ek op my eie orrellesse geneem. Eie orrel gekoop en later n groper een ook. Dit was my lekkerste tyd om te sit en oefen vir nuwe stuk. Dit het my gedagtes gekonsentreer op die musiek en niks anders nie. Ek het later oorfone opgesit en heerlik vir myself gespeel sonder inmenging van enige steurnisse. Te lekker.

    Liked by 2 people

      1. Dankie, ek kan ongelukkig nie uit my kop speel nie. Eintlik het ek nie selfvertroue om uit my kop te speel nie. Ek moet note voor my hê. Dis altyd vir my heerlik om iemand te sien inskuif voor n klavier of instrument optel en dan kom liedjie sommer vanself.

        Liked by 1 person

  4. Ek het n paar regrets en 3 daarvan het met musiek te doen. Ek is spyt ek het nooit formele musieklesse gehad nie. Ek is spyt ek het nooit die tjello leer speel nie en laastens is ek spyt ek het nooit die saksofoon geleer nie. Wie weet…dalk in die hiernamaals sal ek kan leer!!

    Liked by 1 person

  5. Ej glo dat alle kinders in die laerskool musiekinstrument op skool moet leer speel in n vak, nes lees en wiskunde . In sang sestyds het hulle ons migal leer klap: ta, ta-a, ta tatei tatei ta ens. Maar dis belangrik dat jy al joy vermoèns ontwikkel en musiek is n belangrike vaardigheid en n baie genotvolle een

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!