Is ek gereed vir die Camino?

Dís ‘n vraag waarvoor ‘n mense seker nooit die antwoord sal hê voor jy dit nie gestap het nie, want hoeveel moet jy nou regtig oefen om so ‘n ding aan te pak waar jy 20 km per dag stap? Jy kan tog nie hier elke dag 20 km stap nie? Jy kan seker as jy wil, maar is dit hoe die mense oefen? Saartjie het vir my gesê sy het net haar normale 10 km per dag geoefen. Nou ja, ons oefen ook nie eers regtig 10 km per dag en elke dag nie.

Wel, vir 2020 is die Camino de Santiago nou eers van die baan, maar die Baviaans Camino is nog ‘n moontlikheid. Dis iets wat ek nou ook met baie geïnteresseerde oë bekyk. As die ou simpel grendeltyd nou net sy gang wil gaan.

Toe ons die naweek regtig lank en ver gestap het, oor die berg, om die berg, weer oor die berg, op en af, het ek besef, onder normale omstandighede behoort ek reg te wees vir die Camino. Ek kan lank en ver stap. Dis net met die bulte wat ek ‘n bietjie spoed verloor en soms moet stop om te rus, maar ek kan aanhou en aanhou.

Ek moet darem vertel dat ons twee bobbejaanpartytjies ontwrig het. Hulle het glad nie gedink dit is snaaks nie en het luid kapsie gemaak. 🙂 Ag, hulle kon maar weer verder partytjie hou toe ons verby was. Vreemd, dis die eerste keer wat ons bobbejane raakgeloop het en ek belowe, wat ons aanbetref, het hulle die sosiale afstand behou soos wetgewing bepaal.

Wat ek ook dink ‘n groot verskil by die Camino sal wees, is dat jy mos stap en rus. Jy het die hele dag tyd. Dis nie soos ons wat stap om klaar te maak nie. Dis soos met ‘n staproete. Jy stap en rus wanneer jy so voel.

Ek skryf ook mos hierdie Camino-joernaal met die doel om myself op hoogte te hou. Nader aan die tyd wanneer ek dit dalk gaan stap, wil ek ‘n Whattsappgroep begin waarop ek met my kinders en wie sou belangstel, sal kommunikeer. Dit sal ‘n baie eensydige groep wees waar net die admins kan post, glad nie ‘n chatgroep nie. Die doel daarvan sal ook eintlik net ‘n joernaal wees, ‘n inligtingsblad van hoe ek vorder en wanneer ek (hopelik ons) dit stap, kan ek foto’s daarop post vir die belangstellendes, maar ook vir my eie rekord.

Of hierdie droom waar sal raak, sal net die tyd leer. Wat ek wel al in my lewe gesien het, is dat baie goed wat ek sommer net so terloops gedroom/gehoop/gedink het, uit die bloute waar geraak het wanneer ek nie eers daaraan gedink het nie. Ps 127 sê dat die Here dit vir Sy bemindes in hulle slaap gee. Daarvan kan ek beslis getuig.

Toortsie

21 thoughts on “Is ek gereed vir die Camino?

  1. Hallo Toortsie – ek het die Camino gestap en dit is ‘n belewenis. Ek het vir ‘n jaar myself reggekry deur 5 km per dag te stap (Maandag tot Vrydag) en dan op Saterdae 15 km. Dit was goed genoeg vir my. Ek het een Saterdat 32 km stap net om te kyk of ek dit kan doen. Dit is waar wat jy sê, mens stap met ‘n gemalike pas, kyk na die mooiste kerkies, katedrale, dorpies en eet lekker plaaslike kos. Die enigste probleem wat ek ondervind het was om seker te wees van slaapplek en daarom het ek gesorg dat ek relatief vroeg begin stap om seker te maak ek kry plek in die Alberque vir die betrokke aand. Ek het die Portuguese Camino gestap en dus nie vooruit slaapplek bespreek nie. Ek gaan beslis weer stap en ek sal dit weer so doen. Mens wil nie jaag om by die volgende slaapplek te kom nie, soms is ‘n plek so mooi dat jy skoene wil uittrek en net daar slaap. Die ritme op die Camino self help jou om goed stapfiks te raak en ek kon maklik 20 – 25 km per dag stap. Jy moet net die regte skoene hê en dit moet goed ingeloop wees. Ek het nie een blaas op my voete gekry nie. As ek enige raad kan gee terwyl jy voorberei sal dit wees om jou lyf te leer om elke dag ‘n stukkie te loop en die laaste maand voordat jy gaan, oefen met jou rugsak gepak op jou rug. Jy moet gaan!

    Liked by 2 people

    1. Dankie! Dis uitstekende raad en jy mag met liefde nóg raad gee. Ek is ‘n ou stapper. Ek wil dit graag saam met my man doen, so die tyd sal leer. Ek sal nie met ‘n rugsak stap nie, omdat my rug dit nie sal kan hanteer nie. Ek sal maar my rugsak laat aanry. Ek dink ook dat ons dalk in meer

      Like

    2. In meer privaatplekke sal slaap wat ek dalk daagliks sal probeer vooruitbespreek. Kom ons kyk. Ek wil dit al so lank doen. Ek stel baie belang in die Franse roete, maar die Portugese een trek my al hoe meer. Waarvandaan het jy gestap?

      Like

      1. Van Porto tot Santiago. Daar is twee opsies, die binneland (Central) of die Coastal. Ek het die Central gekies want ek wou die dorpies sien. Om uit Porto te kom was nie ‘n mooi stap nie en ek moes daardie eerste dag amper 42 km loop om by die eerste Alberque te kom. Dit is nie so erg kommersieel in Portugal nie. Agterna (en soos wat mens met pelgrims op die pad praat), sal ek as ek weer kon kies by Porto draai na die Coastal roete en dan na ‘n sekere rukkie langs die kus indraai na die binneland toe. Daar is ‘n verbindings pad. Maar dit is verskriklik mooi, die pad was heerlik stil ek het 30 April tot 15 Mei geloop – lieflike weer en twee dae reën. Die laaste 100 km raak besig want baie mense loop net 100 km en dan raak dit meer raserig met baie toeriste. Ek het ook net een nag in Santiago geslaap en as ek weer gaan sal ek beslis ‘n paar dae daar wil bly en ook aan loop na Finisterre toe. Nee, mens loop net nie ‘n Camino nie – hy roep jou oor en oor om weer terug te kom.
        Ek is sommer opgewonde vir jou part!

        Liked by 1 person

  2. Ek het gaan kyk na die foto’s van die Baviaans Camino. Dis mooi wêreld, liewe aarde. Ek het nou weer so ‘n nuk om terug te gaan Namakwaland toe vir ‘n stappie, maar ek moet erken ek is nie baie lief daarvoor om so in ‘n groep mense te beweeg nie. Ek is bederf met ons afgeleë strande waar ek my eie ding kan doen.

    Liked by 1 person

  3. Die Camino is nog op my lysie ook en ek het nou al geleer dat mens nooit die woord “nooit” moet gebruik nie. Maar ek moet sê…hierdie Baviaans Camino (die 10 dae ene) klink uiters opwindend! Maar dan sal ek moet begin stap…..en ek sê dit al vir 2 jaar. Alhoewel ek in my onfikse toestand verlede Okt baie in SKotland gestap het.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!