Die dag toe Toortsie vir die polisie weggehardloop het

Dit is mos ‘lockdown’ in Suid-Afrika. Eintlik oor die hele wêreld. Grendeltyd. ‘n Tyd van inperking. Want hier is ‘n virus! ‘n Verskriklike virus. Wat die hele wêreld wil insluk. So, die mense moet by hulle huise bly. Sosiale afstand handhaaf. Maskers dra. Nie aan mekaar raak nie.

Vlak 4 van inperking. Dis darem al een vlak laer en ligter as vlak 5, alhoewel daar nie veel van ‘n verskil tussen die twee verskillende vlakke is nie. By vlak 4 mag mense wel stap, draf en fietsry. Van 6 tot 9 voormiddag. En dis al amper winter. Dit ís eintlik al winter, al voel dit nog nie so nie. Hier in die Kaap is dit nog piknagdonker daai tyd van die oggend. En Toortsie hou daarvan om ‘n bietjie laat te lê in die oggend. En Toortsie is lief vir stap.

Een middag, toe Toortsie weer eens buitenstyd stap, onwettig stap, wag die polisie haar in toe sy by die huis kom. Hulle wil haar beboet. Maar Toortsie se kop werk anders. ‘Vang my eers’, sê sy en hardloop in die berg in. Die berg is mos net oor die pad daar by hulle huis.

Dis nie dat Toortsie so vinnig is nie, eintlik glad nie, maar Toortsie ken die berg. Sy en haar man het al baie daar gestap. Sy weet waar die paadjies gaan. En Toortsie is nogal redelik fiks. Stapfiks, nie hardloopfiks nie.

Sommer gou blaas haar asem, die bergpaadjies is styl. Sy sal moet stop om asem te kry, maar dan gaan die polisie haar vang! Sy stop effens en loer terug. Sy stop net daar in haar spore. Staan behoorlik verbaas en kyk.

Want daar waar die berg begin, kom die vier polisiemanne kopskuddend aan. Hulle mag dalk in normale omstandighede vinniger en sterker wees as die Toortsie, maar hulle was heeltemal onkant betrap. En die gewigsvoordeel! Sjoe! Die baie gesit by die padblokkades en geen oefening het ook nie veel gehelp nie. En die Kentucky vóór die lockdown.

Toortsie besef sy het ‘n voorsprong en stap omkyk-omkyk verder. Haar voet haak aan ‘n tak wat met die laaste wind oor die paadjie geval het en sy slaan neer. Poef! Soos ‘n os! Gelukkig het sy nie té seergekry nie en stap verder.

Op ‘n stadium kyk sy weer om en sien geen polisiemanne meer nie. Hulle het omgedraai.

Skielik besef sy sy het verdwaal. Want sien, gewoonlik stap haar manlief voor en sy volg hom net en nou is sy alleen in die berg. Gelukkig sien sy darem nog die dorp en sal sy op een of ander manier weer daar kom.

En nee, hierdie het regtig nie gebeur nie. Dis sommer Toortsie wat weer op ‘n lawwe verbeeldingsvlug gegaan het.

Groete

Toortsie

45 thoughts on “Die dag toe Toortsie vir die polisie weggehardloop het

  1. Sulke tye wens ek so ek was ‘n swaeltjie in die lug, een met ‘n GoPro. En hygende geregsdienaars wat swaar asemhaal is iets om voor weg te hardloop. Ek sien hulle word redelik goed gestoffeer, daar’s nie gebrek aan stoffering nie. As die uniforms net wou byhou……..

    Liked by 1 person

  2. Dit was lekker om te lees 😀 Ek het amper gedink jy is regtig so waaghalsig. Ek sien hulle vang mense so een-een, maar selfs die polisie is maar bietjie bang om in die plekke te gaan vang waar baie mense die reels oortree. 🙂

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s