Covid-vakansie

My Covid-vakansie is oor! Jippieee! Nee, o aarde! Só kan ‘n mens nie aangaan nie!

Nadat Seegogga ons aangemoedig het om ‘n positiewe moedersdag te hou en Vuurvliegie ons gemaan het om positief te wees en ek hier en daar nóg ‘n positiewe blog lees en daar onderaan my bidboek die volgende aanhaling gestaan het: ‘The Gift of happiness belongs to those who unwrap it’, Author unknown, het ek besluit, daardie geskenkpakkie is vir my bedoel. Ek gaan hom oopmaak. Elke oggend. En is dit nou lekker! Sjoe!

Skielik het ek weer energie, kry ek dinge gedoen. Het ek lus vir die lewe. Kry selfs gekonsentreer. Raak ek selfs kreatief en dink patroontjies uit wat ek dalk op my borduurwerk sal kan gebruik. Kom my hekelwerk aan die gang, dit is maar nog ‘n gesukkel, want dit is Ierse hekelwerke en dis fyn, fyn, fyn gare. Nr 40 om presies te wees. Die hekelpen se koppie is 1 mm. Verwerk ek sommer weer die groente wat my man so milddadig aandra. Kry ek lus vir kaaskoek bak. Kry ek skielik tyd vir kantoorwerk ook, min, maar darem. Kry ek my rug geoefen en dít is ‘n bron van nuwe energie, ek moet dit net meer gereeld doen! Voel ek om God te loof en te prys.

Dis nou nie dat ek enige rede gehad het tot niksdoen nie. Ons boer en eintlik het ons lewe redelik normaal aangegaan. En dis ook nie dat ek in die verlede elke dag winkels toe gegaan het nie. Ek kry selfs al asemgehaal met my masker! Maar mense, dit is baie droog hier en ons kyk regtig uit vir reën.

Ek dink sommer ek moet my ‘n bietjie distansieer van Whattsappgroepe wat negatiewe nuus versprei, of beter nog, ek moet ‘n bietjie my kop laat gaan om aan iets positiefs te dink om op sulke groepe te sit. Dalk moet ek ‘n paar grappies by Rondomtaliedraai gaan leen!

Mense, ek weet dit is ‘n ongelooflike moeilike tyd, veral vir so baie mense wat geen inomste verdien nie. Ons almal gaan geraak word hierdeur, of ons wil, of nie. Maar ‘n bietjie positiewe denke help tog baie. Daarom daag ek vir ons almal uit, dink aan iets waarvoor jy vandag dankbaar is en skryf dit as kommentaar by hierdie blog, skryf dit op jou Facebook en sommer in elke Whattsappgroep waaraan jy behoort. Of blog daaroor. Waarvoor is jy vandag dankbaar?

Mooi loop. En sterkte. Die aanhaling onderaan my bidboek vanoggend sê: ‘And I am happy … not because of where life is taking me … but just that I am going.’ Steven Ouellette. Ons kan nie altyd help wat met ons gebeur nie, maar ons kan besluit hoe ons daarop reageer.

Toortsie

14 thoughts on “Covid-vakansie

  1. Ek stem saam met jou. Ek het onlangs weer begin fokus om ‘n ‘gratitude journal’ te hou. Dit help my om te soek na die goeie dinge wanneer die dag my ‘n dwarsklap wil gee. Daar is steeds baie om voor dankie te sê en om bly te wees.

    Liked by 1 person

  2. Iemand het gesê dis nou die ideale tyd om Bybelverse te memoriseer. Toe besluit ek om Engelse verse te leer, omdat my skoondogter Engelssprekend is en sy kry baie swaar nou. Om haar te bemoedig. Dankie Here, dat ons ander mense kan bemoedig.
    Toe vind ek hierdie verse:
    Job 12:10
    NIV: In His hand is the life of every creature and the breath of all mankind.
    GNT: It is God who directs the lives of His creatures; everyone’s life is in His power.
    En ek luister ook hd musiek op youtube: The Blessing South Africa

    Like

Gesels saam, asseblief!