‘n Geskenkpakkie

Soos Seegogga tereg sê, tel ‘n mens dit oral op dat die grendeltyd nou nie meer snaaks is nie. Ek hoor dit selfs op die radio! Whattsappgrappies is nie meer snaaks nie, mense raak sinies en stout en begin die grendeltydreëls oortree. Selfs mense wat nooit in die verlede ‘n reël sou oortree nie, begin rebelleer. Laat ek nou maar bieg: Ek ook!

Ek het ook ‘n lamte in my. Ek het groot planne gehad vir die ‘drie weke van inperking’ om te doen: Ek sou my kinderjareboek klaar redigeer, die sak vol CUM-boeke sommer ALMAL deurlees, die sjaal brei van die wol wat my dogter vir my gegee het en nog baaaie ander goed. Ja, wel. Laat ek maar eerder nie te veel sê nie. Die EEN boek is darem al so twee derdes deurgelees. (Soos ek ook by ‘n ander blogmaat gelees het, ek wens net ek kan dit weer vind! En sy sê ons moenie so hard wees op onsself nie.) Eintlik wou ek sommer net sit en brei. Dis al.

Sommer om ons te bemoedig, deel ons Vuurvliegie ‘n wonderlike video met ons, (wat ek nou ongelukkig nie kan deel nie, omdat ek eenvoudig te dom is daarvoor!) Die spreker in die video vertel waarna sy alles uitgesien het as húlle grendeltyd verby is, maar die een na die ander geleentheid word afgestel en sy raak moedeloser by die dag. Totdat sy gehoor het van twee gevangenes en wat hulle positief gehou het.

Haar les? Vandag is eintlik al wat ons het. Ons weet nie wat môre inhou nie en ons almal het nou gesien hoe vinnig ons planne van ons weggeneem word. Daarom moet ons vandag koester na die beste van ons vermoë, selfs al is ons vandag dalk nie so wonderlik soos wat ons dit sou wou hê nie.

‘Toevalllig’ staan die volgende aanhaling vanoggend onderaan die bladsy in my bidboek: ‘The gift of happiness belongs to those who unwrap it.’ – Auther Unknown. Net daar besluit ek om hierdie geskenk te gryp. Die geskenk van blydskap. Sommer VANDAG. Vanoggend.

Ek het. En oral begin ek sien hoe mense mekaar aanmoedig. Moed inpraat. Moedige blogs skryf. Aanmoedig op Whattsapp. Vir mekaar bid. Want die grendeltyd is vir niemand maklik nie, selfs nie vir hulle wat wel mag werk nie. Maar ons sal hierdeur kom. Met God se genade.

Ek gaan môre wéér die geskenk van blydskap oopmaak as daar vir my ‘n môre gegun word. Dis nogal snaaks hoeveel meer ‘n mens met ‘n blye gemoed gedoen kry!

Mooi bly

Toortsie

18 thoughts on “‘n Geskenkpakkie

      1. Dit is so. Masr saans werk is redelik uit nou, omdat my man in die huis inkom as dir dinker word en dan is dit aandete, scrabbel en tot laatnag! Maar dis ook lekker -dat jy nie hoef vrowg te gaan slaap nie.

        Liked by 1 person

  1. Dankie vir hierdie geskenk en vir die moed wat jy vir ons gee. Ek het nou die dag besef dat ek te hard is op myself – probeer om te veel te doen en te besig te bly. Jou perspektief is ‘n goeie een: elke dag is ‘n nuwe dag en ons moet meer dankbaar wees oor wat ons het.

    Liked by 1 person

    1. Dankie. Dis ook maar perspektief wat die ander maters vir my gegee het. Ek dra dit net oor. Ek moet self myself gereeld daaraan herinner en is nie aldag goed daarmee nie. 😀

      Like

Lewer kommentaar op Toortsie Kanselleer antwoord