Wat het jy met jou studies gedoen?

Hoe dit eintlik begin het: Ek vra vir die man hoekom hy spesifiek studeer het wat hy wel studeer het. Hy vertel en dit laat my toe dink aan hoe dit gekom het dat ek studeer het wat ek wel studeer het. Dit was eintlik ‘n heel toevalligheid dat ek uitgekom het waar ek wel uitgekom het. In my matriekjaar besluit ek om nié te gaan doen wat ek my hele lewe lank sou gaan doen nie. Al wat ek geweet het, was dat ek onderwys moes gaan swot, maar dis ook ‘n lang storie. Hy vra my wat ek toe daarna gedoen het en ek antwoord dat ek getrou het.

Maar dis nie heeltemal waar nie. Ek hét my studies gebruik. My hele lewe lank. Nou ja, ek het slegs ‘n jaar gaan onderwys gee en soms hier en daar afgelos, maar dis nie waaroor dit gaan nie. En dis ook nie waaroor hierdie bloginskrywing gaan nie.

Die gedagte wat vandag in my kop is, is: “Geen iets wat jy studeer het is ooit verlore nie. Geen iets wat jy geleer het, is ooit verlore nie. Nooit nie.” Want jy kan altyd dit wat jy geleer het, iewers toepas.

Ek, met my deurmekaarkop en al, het oor jare in verskillende rigtings studeer en geleer en ek leer nog steeds. Ek het naaldwerkkursusse gedoen, musieklesse geneem, ‘n Christelike Nood- en Traumaberadingskursus gedoen, ook ‘n kursus in Bybel- en godsdienskunde, ook Transformasiegebedsbediening. My Bybel intens bestudeer met bybelstudies saam met dit. ‘n Kursus in vervoerekonomie. En gasthuisbestuur. En in nie een van hulle het ek ‘n voltydse beroep gemaak nie.

Die rede hoekom ek dit vertel en opnoem, is nié om ‘n tjappie op my skouer te kry nie. Geensins. Dis juis om my punt te bewys.

My voltydse ‘werk’ wat ek vir die grootste tyd van my lewe gedoen het, was die administrasie van die plaas. Daarvoor het die rekeningkunde, bedryfsielkunde en bedryfsekonomie wat ek studeer het, gehelp. Ook die realistiese denke wat ek nodig gehad het as vennoot in ons besigheid. Die onderwyskennis het ek my lewe lank toegepas met my kinders en ook met die hantering van ons werkers en ek hoop regtig nie ek het hulle soos ‘n regte ‘juffrou’ behandel nie. Al was ek nooit ‘n traumaberader nie, het dit my ongelooflik toegerus om mense en trauma te verstaan. Ook elke boek wat ek daaroor gelees het. Ek kon, danksy my musieklesse wat ekself geneem het, vir kinders musiekinstrumente leer speel. Die naaldwerkkursusse het gehelp dat ek my gesin kon klee, veral toe hulle nog klein was en die finansies maar min was. Die kennis wat ek in my graad opgedoen het, het my gehelp om my boeke te bemark, om besigheidsbesluite te neem. Ek verstaan selfs ‘n bietjie wat in die ekonomie gebeur.

Soos reeds gesê, is dat niks wat ‘n mens leer, sommer net verlore gaan nie. Elke ding wat jy leer is toerusting in jou sak wat jy in jou omstandighede kan gebruik, selfs al maak jy nie jou beroep daarvan nie. Ek is vandag nie spyt oor enige van die kursusse wat ek gedoen het nie. Elkeen van daardie kursusse het my ‘n voller en ryker mens gemaak en kon ek op een of ander manier toepas.

Moenie ophou leer nie! En moenie dink dat, as jy nie presies doen wat jy geleer het nie en in ‘n ander rigting werk, dat jou studies verlore is nie. Dit is nie. En moenie in vrees en sak en as sit omdat jy dalk verkeerde kursus studeer nie. Jy kan altyd later weer iets anders doen.

Groete

Toortsie

Besoek gerus Toortsie op Potgooi.

10 thoughts on “Wat het jy met jou studies gedoen?

  1. Voor mij was het zo dat ik toen ik jong was niet mocht studeren wat ik graag studeerde.
    Mijn Ouders bepaalden wat ik “MOEST” studeren.
    Maar ik heb op latere leeftijd, mijn schade ingehaald.
    Zelfs nu op 68 jaar studeer ik nog altijd.
    Momenteel alles rond Fotografie en Bloggen.
    Daarbij krijg ik veel inspiratie van andere Bloggers zoals jij.
    Groetjes uit België
    Theo-Herbots

    Like

      1. Ek het op ‘n plaas grootgeword en het dit altyd baie geniet om op die plaas en op die land te werk.
        Ek sou graag landbouskool wou gedoen het.
        Maar dit is nie toegelaat nie, want my ouers het geen toekoms daarin gesien nie.
        Ek het ook altyd daarvan gehou om te skryf en gevra om joernalistiek te studeer, maar dit was nie toegelaat nie.
        Ek moes tegniese tekeninge leer, selfs al het ek dit nie gedoen nie.
        Ek wou Fotografie studeer, maar dit is nie toegelaat nie.
        Maar nou sal ek volledig fokus op wat ek graag wil doen.
        FOTOGRAFIE EN BLOGGING.
        Ek is besig om my blog https://groetenuittienen.blog/ heeltemal te hervorm in daardie sin.
        Dit is nog nie heeltemal perfek nie, sommige dinge wat ek moet verwyder en ander moet verbeter.
        Maar ek werk daaraan.
        Verbaas dat ek my Afrikaan so goed ken?
        Daar is nog steeds iets soos Google Translate 😀😂😂
        groetjes
        theo

        Like

  2. As ek terug dink aan al die menige dinge wat ek al gedoen het stem ek saam met jou: ons leer iets nuut elke dag. Dankie vir die lekker lees.

    Like

Gesels saam, asseblief!