
Vanoggend voel my kop soos hierdie karretjie moet voel. Sjoe! Ek het deurmekaar gedroom! Die vorige nag ook. Met al die onsekerhede waarin ons leef met die inperking en alles wat daarmee saamgaan, onseker oor wat die toekoms inhou, ekonomiese onsekerheid, onseker of ons die virus gaan vryspring, vir party mense, of daar kos op hulle borde gaan wees, voel baie mense se koppe seker soos hierdie karretjie s’n. Nie net myne nie.
Maar dat ek droom, dis nou nie altemit nie! Nou die nag was alles chaos. Ek kan eintlik nou baie min van daardie droom onthou, alles was net chaos. Al wat ek kan onthou is dat ek, Banter vir amper ses jaar, op die ou end die beskuitblik bespring het ek seker vir ses jaar se beskuitloosheid opgemaak het en dít is nou behoorlik chaos. Gelukkig was dit net ‘n droom.
Die laaste twee nagte was albei goed deurmekaar. Elke keer was daar ‘n tema wat dwarsdeur geloop het. Baie onsekerheid. Baie deurmekaar.
In altwee die laaste drome het ek kinders gehelp. Was die bekendheid iets uit my kinderjare. Was daar mense uit my kinderjare.
Nou wonder ek, voel julle koppe ook soos hierdie karretjie? Droom julle ook nou meer en deurmekaar?
Die beste van so ‘n droom is die wakkerword. Die besef dat ek in my eie huis is, in my eie bed en as ek my hand uitsteek, lê die bekende lyf langs my, vas aan die slaap. Rustig. En soos ek nou sit en Swellendam se bekende ou berg voor my sien, die bloekombome wat so bekend is aan die Overberg, wat die oumense geplant het vir brandhoud, dan voel ek rustig. Ook rustig in die wete dat God in beheer is, selfs al is dinge nou so chaos rondom ons. Selfs al verstaan ons nie. Hy is my sekerheid.
Hierdie aanhaling het ek voor in my Bybel geskryf en ek deel dit graag met jou, veral as jy ook soos hierdie rooi karretjie voel: ‘Daar is niks – geen omstandighede, geen probleem, geen beproewing – wat my ooit kan raak voordat dit eers deur God en deur Christus na my gekom het nie. As dit op hierdie manier gekom het, het dit met ‘n wonderlike doel gekom wat ek miskien nie nou verstaan nie. Maar as ek weier om paniekerig te word, as ek my oë ophef na God en dit aanneem as komende van God met die doel om my tot seën te wees, sal geen hartseer my ooit ontstel nie, geen beproewing sal my ooit van stryk bring nie, geen omstandighede my bekommerd maak nie, want ek vind my behae in God. (Alan Redpath – Victorious Christian Living)
Mag God vir my en vir jou rustig maak.
Toortsie
In jou drome verwerk jy jou krisisse. Gelukkig het ons ook daardie groot anker: Geloof. Een van die dae word die nagmerries weer gelukkige drome.
LikeLike
Vreemd, dis nie regtig nagmerries nie, net deurmekaar. Erg! En die vliegtuie vlieg! EK het dit gaan opsoek, dit beteken voorspoed. 🙂
LikeLike
Dis te verstane- die deurmekaar. Maar drome is ook n goeie bron vir idees vir stories. Skryf vir ons n paar!
LikeLiked by 1 person
👀
LikeLike
Jy en my vriendin Amaré is net dieselfde. Julle het net ‘n kleine stukkie nodig om ‘n mens sommer GROOT aan te moedig! 🤣
LikeLiked by 1 person
😄
LikeLike
Vredevolle Saterdag vir jou
LikeLiked by 1 person
Dankie. Het baie aan jou gedink. 😁
LikeLike
Veilig bly!
LikeLiked by 1 person
Jy ook.
LikeLiked by 1 person
Ek weet waarvan jy praat, die baie, en baie deurmekaar drome. Myne het opgehou, seker so twee weke gelede al. Baie mense kla daaroor, Toortsie, ek sien dit op Facebook.
LikeLiked by 1 person
Vannag het ek heelnag in die koeistal deurgebring. Dankie vir jou gerusstelling.
LikeLike
Ek het ook so deurmekaar gedroom. Vir omtrent 2 jaar. Dit was ook ‘n baie onseker tyd in my lewe. Ek is aan die verkeerde kant van 60, nader aan 70. Dan begin die mens wonder moet ek alles verkoop en afskaal en wat van die werk? My werk is eintlik lekker. Moet ek maar aftree en ophou werk? Toe begin ek so deurmekaar droom. Ek het ook alles begin opskryf en in ons kerk na profetiese beraders toe gevat. Hulle het so duidelik vir my gewys wat ek gedroom het, dit was eintlik so eenvoudig. Toe moes ek ‘n keuse maak en vir God gevra om my leiding te gee. Toe ek die besluit maak, toe is die drome ook weg.
LikeLiked by 1 person
Baie interessant is dat ek nog altyd kon verklaar waar my drome vandaan kom en ook antwoorde kry. Ek het ‘n vriendin wat drome kan verklaar en sy het my al baie gehelp. Ek is bly jou drome het mooi geraak.
LikeLike
Toorts ek droom my hele liewe lewe lank, aanmekaar en deurmekaar. Het werklik al gewens ek kan ook net rustig gaan slaap en nie eers weet of ek gedroom het wanneer ek wakker word nie.
LikeLike
Die afgelope 2 nagte droom ek koeie. My drome raak rustiger. Laasnag was my gunsteling. Ek het self ‘n koei gelei op ‘n skou en raai wat was my koei se naam? Sôtie. My gunsteling pop!
LikeLiked by 1 person