Watse brak?

Iemand skryf baie ontsteld op Faceboek oor die onregverdigheid dat hondesalonne oop mag wees terwyl haarkapsters steeds toe moet bly vir nog baie lank.

Oor die hele situasie moet ek dalk nie te veel my opinie uitspreek nie, ek is in die bevoorregte posisie dat my kinders reeds van my hand af is en sou ek die virus opdoen en selfs sterf, ‘n hele gesin nie in sak en as behoort te sit nie. Vir my is die grootste vrees dat ek dalk iemand anders sal aansteek.

Maar ek sal bitter graag wil hê dat die ekonomie weer aan die gang moet kom, dat mense moet kan werk toe gaan en vir hulle gesinne sorg, want ek is bevrees dat hier meer mense gaan sterf as gevolg van honger as wat gaan sterf as gevolg van die gevreesde virus. En dít sê ek nie ligtelik nie.

En ja, die meeste van ons hoop nou al sekerlik dat die haarkapsters en skoonheidsalonne mag oopmaak. Hulle kan mos die stoel elke keer ontsmet voor ‘n nuwe kliënt gaan sit, maskers opsit en selfs elke keer ‘n paar skoon handskoene aantrek.

Maar terug by die ontstelde opmerking op Facebook, waarop ek dalk iets geantwoord het wat die skrywer kon omkrap. Ek noem toe dat, wanneer iemand haar hond na die hondesalon toe neem, sy dan sommer haar hare dáár moet laat mooimaak. Want ek en my man het sommer mekaar se hare geknip, julle wil nie weet nie! Gelukkig groei hare mos darem weer!

Dink net hoeveel nuwe haarstyle kan in hierdie tyd ontwikkel as almal nou maar eerder die hondesalon in plaas van die haarsalon moet besoek?

Jy kan mos kies soos watter brak jy wil lyk.

Wil jy ‘n poedel wees?
Of ‘n Yorkie?
Wat van so ‘n pragtige uitgekamde Maltese poedel?
Of verkies jy die meer natuurlike krul?
Hoe sal jy hou van so ‘n haarstyl soos die Chinese Crested Dog?
Of wat hiervan?
Aha! Hierdie een lyk heel doenbaar, of hoe?

Nou toe, die keuse is legio. Daar is sommer nog baie om uit te kies! Ek is nou skoon opgewonde oor my nuwe haarstyl wat ek binnekort gaan hê, maar eers sal hulle moet groei, want tans het ek nie baie hare op my kop nie. Wag! Ek kan my hare soos ‘n rifrug maak: skoongeskeer aan die kante en net ‘n rif oor my kop! 🤣

Toortsie

18 thoughts on “Watse brak?

  1. Toortsie nou het ek lekker moes lag. Ek wou gister vra as watter hond gaan die dames inboek, maar daarteen besluit. Mens moet waar ydelheid ter sprake is, jou woorde tel. Ek moet sê nadat ek my hare bygedam het, lyk ek soos daardie fluffy romerige een. Die krulle kamoefleer die gate.

    Like

    1. Ek en my man het. Eers het hy met ‘n snyertjie probeer, maar dié se asem het nie gehou nie. Toe het ek my vingers tussen my hare ingedruk, teen my kopvel en alles wat bokant my vingers uitgesteek het, het hy afgeknip.

      Like

Gesels saam, asseblief!