As daar al ooit ‘n goeie tyd was

As daar al ooit ‘n goeie tyd was vir goed doen aan ander, is dit juis nou in hierdie grendeltyd, hierdie tyd van inperking waar soveel mense afgesonder is, nie kan gaan werk nie, alleen voel, vasgevang voel, honger is. ‘n Konsep wat my nog altyd opgewonde maak, is die ‘Pay it Forward’-idee. Ek het al meermale hieroor geskryf omdat dit so ná aan my hart lê: Pay it Forward; Betaal dit vorentoe; Die waarde van kampe; en nog ander.

Hierdie grendeltyd is die ideale tyd om vir iemand anders goed te doen. Sonder om iets terug te verwag. Soos wat Christus dit van ons vra. Pay it Forward. Nie vir iemand noodwendig iets teruggee wat vir jou goed was nie, wat natuurlik ook goed is, maar om uit jou eie vir iemand anders goed te wees, sommer net omdat jy wil.

Ons gemeente (gemeenskap) gee tans daagliks vir meer as 3200 mense sop en die aantal mense raak net meer en meer. Ek is seker ander gemeenskappe doen dit ook. Dis ‘n fantastiese projek om by betrokke te raak. Jy kan geld gee, self groente koop en dit gaan afgee by die organisasie wat dit kook, jy kan die sop self koop, jy kan gaan aanbied om te help groente skil.

Maar jy hoef nie noodwendig net vir die sopkombuise te help nie. Jy kan ‘n eensame persoon bel en moed inpraat. Jy kan jou berading wat jy aanbied, per Scype of Whattsappcall of selfs Zoom, wat ek nog nie ken nie, doen. Jy mag selfs besluit om dit gratis te doen aan iemand wat dit nie kan beskostig nie.

Jy kan groente uit jou groentetuin vir iemand gee. Jy kan jou aanmeld as vrywilliger by die ouetehuis. Dalk voel jy nie om in die maskerbedryf in te gaan en maskers te maak as inkomste nie, maar het ‘n paar stukke oorskietlap by die huis waarvan jy dalk vir iemand wat dit nodig het, ‘n masker kan maak. Of jy kan dalk van jou lappe in jou lappelaai skenk vir iemand wat maskers maak.

Goed doen aan ander hoef nie noodwendig geld te kos nie. Jy kan blomme uit jou tuin oor die muur vir die buurvrou gee. Daar is soveel maniere waarop jy jou liefde en diens kan aanbied selfs al het jy nie ‘n sent op jou naam nie. Ons kan almal iets goeds doen vir iemand anders en juis nou, in hierdie grendeltyd, is ‘n goeie tyd om te fokus daarop, op wáár kan jy van hulp of tot diens wees. Op JOU manier.

Sonder om iets terug te verwag.

Toortsie

11 thoughts on “As daar al ooit ‘n goeie tyd was

      1. Ons het hier bv vrywillige organisasies wat gedurende die vorige jare voedsel verskaf het aan noondgevalle. Meeste by een was tot 700 gesinne waar dit nou oor die 2000 per dag is wat in rye staan en wag. Dis mense wat geen werk het en dus geen inkomste kry want die werkplekke is gesluit en geen inkomste nie. Bose kringloop.

        Liked by 1 person

          1. Ons het gelukkig die boere wat nie hul produkte kan uitvoer nie dit nou aan die plekke gee sodat dit versprei kan word. Die supermarkte help ook om “verouderde”produkte wat nog goed is aan te gee aan die groepe wat verskaf. Hul vertel nou oor nuus ook dat die tweede handse winkels pakke opmaak met warm klere en skoene wat uitgedeel word ook. Ons het mos baie veral tweedehandse klere winkels. Ons gooi niks klere weg nie. alles word gehersirkuleerr.

            Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!