Slow-go

Ek is op ‘n Slow-go. Jammer, maar ek weet nie wat die Afrikaanse woord daarvoor is nie, want die regte woord is seker ‘sloerstaking’, maar ek is ook nie daarop nie.

Die eerste keer wat ek ‘n sloerstaking beleef het, was in 1984 toe ons ‘n hele dag op die lughawe in Rome gesit en wag het dat ons vliegtuig afgelaai word, ons ons bagasie kan kry en aangaan met ons lewe. Daardie dag was dit die mense wat die vliegtuie aflaai se beurt om te sloerstaak. Hulle werk vir so ‘n halfuur of ‘n uur en dan sit hulle weer. Dan kom daar so tien koffers verby op die vervoerband, net om weer vir ‘n uur niks te gebeur nie.

Ek is nie op ‘n sloerstaking nie.

Hester het ons uitgedaag om te skryf hoe ons ledig is tydens die inperking. Die waarheid is dat ek geen rede tot ledigheid hoef te hê nie. My lewe gaan nog net so normaal soos altyd aan, want ons is mos boere. Ons pendel steeds tussen ons huis en die plaas. Die administratiewe werk moet steeds gedoen word, alhoewel ek al ‘n baie groot gedeelte van daardie werk afgeskuif het na iemand anders. My man maak steeds groentetuin en die groente moet steeds verwerk word. Ek moet my NaNoWRiMo2019boek klaar redigeer en daar is ‘n Toortsie 3 wat regtig nou al skree vir aandag. My VLV vissies lê in ‘n sakkie by Seegogga en wag en het lus vir swem, maar ek kom nie daarby uit nie en die gare vir die Ierse hekelwerk lê ook en wag, hoop nie ‘n kriek of muis het dit al beetgekry nie! En ek moet my rug oefen.

Maar ek? Ek wil sommer net sit en brei. En klavier speel, maar dan raak my rug seer. En tokkel op my kitaar. ‘n Klein bietjie boek lees. Ek is selfs te lui om die lawwe video’s wat die rondte doen, oop te maak en te kyk. Ek kom amper nie eers by bloglees uit nie. Ek kry nie eers die Towerinne se Whattsappgeklets begehou nie. My huis is stowwerig. Die vier e-posse wat deurkom is te veel om oop te maak. Eintlik wil ek sommer net lê en slaap. Dit voel of ek selfs my tyd met God afskeep. Ek was die wasgoed wat gewas moet word, maar kom nie daarby uit om dit op te vou, te stryk en weg te pak nie. Ek sorg dat die werkoppervlaktes in my kombuis skoon is en maak kos waar nodig, maar verder lê die laag stof so dik, jy kan jou naam daarop skryf. Alles is só afgeskaal, ek hoef nie eers Sondagoggende my mooi te maak vir kerk nie, ons kyk dit sommer op my selfoon.

Die waarheid? Ek mis my mense. Ek mis ons bybelstudiegroep. Ek mis dit dat ek nie kan gaan kuier by my kinders nie. Ek mis dit dat my kleinkinders tuis sit en ek hulle nie kan gaan haal om hier op ons groot erf te kom speel nie omdat die wet dit verbied. Ek mis dit om Sondae kerk toe te gaan. Ek mis dit om by ‘n vriendin in te hardloop vir tee. Ek mis dit dat ek nie vir iemand sommer net ‘n drukkie mag gee nie.

So nou doen ek sommer niks.

Toortsie

11 thoughts on “Slow-go

  1. Ai Toortsie, ek sien die sukkel daarin. Dit gaan oor die wete dat ons nie weet wat die regerings vir ons inhou nie, en dit maak ons lam, want ons is gewoond om te beplan en te ry en die kinders te sien en drukkies te gee, net wanneer ons wil. Ek dink nie mens sal ooit weer jou kleinkinders sommer net ‘n drukkie en soentjie gee nie, nie as jy nou weet dat jy ‘n gevaarlike virus kon opgetel het en so oorgedra het nie. Maar, ek het in die tyd weer y godsdiens opgetel. En dit bring ‘n berusting – ons wik, maak die Here beskik. En vir nou hou hy ons veilig in ‘n land waar die president sy toespraak met Die Here se Wil afsluit. Daarom word ek gerusgestel in die wete dat dit tog die Here se plan is, al kry ons swaar. Ek kry minder swaar as baie ander mense, en dit laat my hart sommer swaarkry.

    Liked by 1 person

  2. Ek is een gelukkiges wat van die huis af mag en kan werk. Ons het sekere ure wat ons moet beskikbaar wees. Ons telefone werk ook deur die rekenaars. Ons moet dit dus op ‘n sekere tyd aanskakel en nie voor ‘n sekere tyd afskakel nie. Maar die mense het ook maar ons selnommers.
    Ledig is ek defnitief nie, My tyd is vol, maar dis ok.

    Like

  3. Besig hou; dit is die enigste manier om deur hierdie dae te kom – en moet nie probeer om langterm planne te maak nie: wag tot ons die lig aan die einde van die tonnel kan sien. Dit is die onsekerheid wat ons so lam laat voel, daarom leef ak van dag tot dag – en hou myself besig.

    Liked by 1 person

  4. Dit klink heel bekend
    Ek toets ook net die stof en Gaan aan na die volgende tydperk van: sal ek of sal ek nie dit los nie. Ek sit ook liewer en brei of blokraaisels invul. Ek kan nie eers erens been Gaan nie. Nie inkopies nie niks. Tog mag ons darem loop wat die hoogtepunt van my dae is.

    Liked by 1 person

    1. Ek kry darem die geleentheid om te stap wanneer ons op die plaas is. Ek was gister in die winkel en koop dan sommer vir 2 weke. Snaaks, dis dán wanneer die werklikheid my ernstig tref.

      Like

  5. Ek is baie verlig dat iemand anders nes ek so half verlam is. Ek doen ook net wat ek regtig nie kan los nie. Het ‘n stapel wonderlike boeke wat ek so graag wil lees, maar my kop voel ook net te moeg. Aan die begin het ek gedink hierdie is die wonderlike geleentheid om baie te lees, maar ek sit-sit of sleepvoet deur die dag. Halfpad met naaldwerk, wat al klaar kon gewees het, maar nie is nie. Het darem ‘n paar nate toegewerk. Stof lê ook dik hier. Het darem een vensterbank afgestof – die een waar ek uitstaar na buite wanneer ek net sit… ek kyk vir die voëltjies wat so ywerig kom kos soek by die bakkies wat ons buite opgehang het. Hulle werk hard genoeg vir my part ook! Ek sorg darem dat die bakkies vol kos en water bly, want die voëltjies is vir my so oulik.
    Miskien is ‘n sela-tyd ook nodig – dit staan mos so in die Bybel. Ek dink hierdie is ‘n tyd van rus, al voel mens by tye onrus wat swaar op die gemoed druk.
    Ek dink baie aan Job12:10 Hy het al wat lewe, in Sy mag, die asem van elke mens.
    Dis vir my onbeskryflik vertroostend. Ons kan Hom vertrou, want Hy is altyd goed en Hy sal alles ten goede laat meewerk.
    Ex 34:6 Ek is die Here! Ek is ’n God wat goed is vir mense wat swaarkry en Ek is genadig. Ek is baie geduldig en vol liefde. Ek doen wat Ek belowe het. (Bybel vir almal). Dankie, Liewe Heer. U sorg vir die voëls. U sorg vir ons almal.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!