Kopskuddende meesters

Die drie meesters op Martjie se klavier het die vreemdste uitdrukkings in hulle oë. Hulle verstaan glad nie wat aangaan nie. Dis of hulle ook sommer nie weet wat om te sê nie. Hulle is heeltemal sprakeloos. So iets het hulle nog nooit beleef nie.

Die drie meesters, van links na regs: Mozart, Beethoven, Handel.

Wolfgang Amadeus Mozart het van 1756 to 1791 gelewe en was ‘n klassieke komponis wat in Salzburg grootgeword het. George Frideric Händel het geleef van 1685 tot 1759 en was ‘n Duitsgebore Engelse komponis en het in ‘n era geleef wat as die laat Baroktydperk bekend was. Ludwig van Beethoven was ‘n Duitse komponis wat van 1770 tot 1827 geleef het. 

“Wat is nou hier aan die gang?” vra Handel.

“Hoe bedoel jy?”, vra Beethoven.

“Wat het nou skielik gebeur dat hier nie meer musiekleerlinge na Martjie se huis toe kom nie?”, sê Handel.

“Wat ek nie kan verstaan nie, is dat dit lyk of sy tóg musieklesse aanbied, dat sy selfs met die kinders praat en vir hulle demonstreer hoe hulle moet speel, maar die kinders is nie by haar nie,” sê Mozart. “Ek was só opgewonde toe die kinders begin les neem het hier by haar. Die kindertjies was self so opgewonde en ek kon sien dat hulle dit geniet.”

“Ja,” sê Beethoven, “ek kon sien hoe hulle vorder. Party speel klavier, ander blokfluit, party kinders het kitaar gespeel en daar was selfs een of twee wat dwarsfluit gespeel het.”

“Hulle het soveel talent getoon en Martjie het so oulik met hulle gewerk,” sê Handel. “Dit het vir my gevoel of ek sommer weer my eie musieklesse van destyds herleef.”

“Iets vreemds is beslis aan die gang, want haar man gaan nou nie meer elke dag werk toe nie. Hy werk glo van die huis af, sê hy,”, sê Mozart.

“Werk van die huis af? Hoe werk dit? Hoe kan ‘n mens nie werk toe gaan nie, maar jy sê jy werk van die huis af? Hy is heeldag besig met so ‘n snaakse instrument, sal dit die werk wees wat hy doen?” Vra Beethoven.

“Ja, dis ‘n behoorlike snaakse instrument. Ek wonder wat hy daarop doen. Dis beslis nie ‘n musiekinstrument nie. Ek het al gehoor hy praat van sy rekenaar,” sê Handel. “Wat is ‘n rekenaar?”

“Al reken wat ek van weet is hoofreken, maar dit doen ‘n mens in jou kop. Kan die kinders dan nie meer vandag somme maak in hulle koppe nie? Het hulle nou rekenaars daarvoor nodig?”, vra Mozart. “En dan dra hulle sulke vreemde goed oor hulle monde.”

Skielik kom Martjie die vertrek binne. “Wat koukus julle drie meesters nou weer? Ek sal vir julle verduidelik wat aangaan. Hier is ‘n virus wat besig is om die hele wêreld siek te maak en nou wil regerings van oor die hele wêreld hê dat mense nie met mekaar moet kontak maak nie om sodoende te verhoed dat die siekte versprei. Dis hoekom ons maskers oor ons monde dra as ons winkel toe gaan. Gelukkig kan ons nou met ons fone, deur middel van Whattsapp video’s aangaan met ons musieklesse, selfs al is die kinders nie by my nie. Hulle kan vir my op die foon sien en ek kan vir hulle sien en sodoende raak hulle nie agter met hulle werk nie.”

“Ag, maar dit is oulik!”, sê Beethoven. “Ek is so bly dat die kinders steeds musiek kan neem selfs al is hulle ver van jou af.”

7 thoughts on “Kopskuddende meesters

  1. Ek wou ook graag musieklesse geneem het totdat ek een dag deur die musiekkamer se venster geloer en gesien het hoe die onderwyseres haar leerlinge oor die vingers tik met ‘n liniaal as hulle verkeerd speel. Donk net, as ek internetmusiekonderrig kon kry, sou ek dalk vandag klavier kon speel 🤔

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s