Om ‘n kar te toetsbestuur

Daar is sekere goed waarvan ek so ‘n bietjie weet, ander dalk ‘n bietjie meer, maar van sekere goed weet ek ‘n ronde nul. Soos mediese aangeleenthede. Of wynproe. Wat lorriebande aanbetref het die geskiedenis geleer, is ek onopvoedbaar.

Wynproe. Ons het ‘n groep vriende wat bestaan uit wingerdboere en ‘n wynbemarker. Keer op keer hou hulle wynproe. Die bottels word oopgemaak, geruik, gegooi in glasies, die glasies word geskommel en geruik, geproe en dan gee elkeen sy ervare mening. Een keer het ek saamgespeel en gesê dit smaak dan net soos aspersie. Almal was in ekstase, want dit was juis die geur wat ‘n mens moet proe. Jegg. Wyn wat soos aspersie proe!

Gewoonlik bekyk ek hulle net met ‘n glimlag en sê, proe julle maar. Totdat die wynbemarker een dag vir my gesê het dat ek my nie moet bekommer oor die wynproeëry nie, solank ek dit net drink, daar is ‘n oorskot aan wyn.

So wou ons een keer ‘n kar koop. ‘n Luukse motor. My man loop om die kar, bekyk die enjin, toets hier, voel daar. Ek maak die een agterdeur oop. Klim in en gaan sit in die middel. Sê vir die redelik groot verkoopsagent om ook in te klim langs my. Sê my man moet ook inklim in die ander sitplek langs my. Hier sit ons drietjies toe mooi op ‘n ry in die agterste sitplek. Ja, dankie, sê ek, dis reg, ons kan maar uitklim.

Die verkoopsagent het sy mond mooi gehou, maar ek kon sien die vraagtekens hang in sy oë. Ek verduidelik dat ons lang mense is, ons kinders is al groot, en al wat ek wou weet, was of daar vir al drie genoeg spasie was om gemaklik te sit. Toe die verkoopsman vir my vra of ek dit ook wil toetsbestuur, nadat my man dit reeds gedoen het, was my antwoord dat so ‘n kar mos eintlik behoort lekker te ry, hoekom sou dit nodig wees om eers te voel?

Toe ek nou die dag ‘n kar moes toetsbestuur, bitter vroeg in die oggend, eintlik nog my slaaptyd, vra ek sommer my seun om dit te doen, asseblief. My grootste uitdaging was om my oë oop te hou, ek wou nog slaap!

Ag, nou ja, wat weet ek tog in elk geval van karre toetsbestuur? Net so min soos van bene spalk! Of van kitaar koop?

Toe ek die dag my kitaar gaan koop, kom die verkoopsman met ‘n kitaar na my toe. Ek bekyk dit so en sê, nee dankie, dis ‘n te lelike kitaar. Hy kyk my in die oë en sê, wag net ‘n bietjie en hardloop op met ‘n trappie na die stoorkamer toe. Ná ‘n hele ruk kom hy terug met ‘n kitaar. Voor ek hom nog getoets het, was ek verlief op haar. Dit was die mooiste kitaar. En weet julle wat? Ek het vooraf ‘n prys in my kop gehad en ek het dit nie vir die verkoopsman gesê nie, maar toe ek die dag by die winkel uitstap, met kitaar, sak, skouerband, ekstra snare, het ek presies betaal wat ek in gedagte gehad het voor die tyd. Ek dink ek het ‘n rand kleingeld gekry. 🙂 Ek is steeds mal oor haar, haar naam is Lisa en sy is mooier as mooi. Het ‘n mooi klank ook. Sy kan ongelukkig soms ‘n bietjie krapperig raak as ek ‘n lang ruk nie gespeel het nie, dan byt sy my vingers. Maar verder is sy die beste ooit!

Toortsie

8 thoughts on “Om ‘n kar te toetsbestuur

  1. Ek is so bly om te sien daar is iemand anders wat ook voel dat sekere goed ook darem mooi moet wees, en nie net prakties nie. My selfoon kassie is rooigoud met blinkers, my breisak is goud en wit strepe, my kar se kleur moet my persoonlikheid reflekteer, om nie eers te praat van my handsakke nie!

    Like

  2. Dit was slim om die agterste sitplek te toets. Ons kar het nie beenspasie agter nie… maar gelukkig is dit nie nou so nodig as toe kinders in die huis was nie.
    (Ek is bekommerd oor jou)

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s