Die waarheid kom uit

So ‘n paar weke gelede het Hester ons uitgedaag om ons ware haarkleur te wys, na aanleiding van ‘n opmerking dat, binne die volgende drie weke, almal se ware haarkleur sigbaar sal word. Ek het geskryf van al die verskillende kleure wat my hare al was en dat ek al menige kere ‘n papegaai jaloers sou kon kry.

Daar is egter ‘n ánder waarheid wat nou sy kop uitsteek. ‘n Nare waarheid, as jy my vra. Die waarheid is dat my hare baie vinnig groei, van nature, maar ook vandat ek die Banting leefstyl volg, groei my hare net nóg vinniger. Dis regtig so. Seker omdat ek genoeg van die nodige voeding inkry om hare en naels vinniger te laat groei.

Ek moet my hare elke vier weke laat knip. Die vier weke was om net mooi toe ons president die eerste beperkende maatreëls aangekondig het. Nog nie die ware lockdown nie, maar wel dat ons eintlik nie met ander mense in aanraking moes kom as dit nie regtig nodig was nie. Ek het gevoel om maar ‘n bietjie te wag met my haarsny.

‘n Week of twee later praat ons president weer met die nasie en sê, jammer maatjies, nou is ons almal gehok. Vir drie weke. Maar toe die drie weke om was, toe praat ons president weer. Nee, nee, hierdie hokbesigheid hou nóg ‘n ekstra twee weke aan.

Ek kan nie eers meer die somme doen vandat ek laas my hare laat knip het nie. En onthou, al krul my hare nie meer so erg soos in my jongdae nie het dit ‘body’. Dis my hare se beste eienskap, dit het ‘body’. En ek het BAIE hare. En behalwe dat my hare lyf het en daar baie van hulle is, is hulle dik en het hulle ‘n wil van hulle eie en is hulle grys, grys, grys, want daar is lank laas ‘n bietjie donker strepies ingesit.

Al wat ek vir julle kan sê, is, die waarheid is uit, en hoe langer hierdie gehokkery aanhou, hoe meer gaan die waarheid uitkom en julle wil dit nie weet nie! My haarkapster het al gesê sy dink ek moet my kop oor haar muur gooi sodat sy dit net ‘n bietjie kan regruk.

Maar nou ja.

Toortsie

35 thoughts on “Die waarheid kom uit

  1. Nou sien ek in my verbeelding: hare en nog hare, wat groei en nog groei! Gelukkig het ek net voor ons insluiting my hare stomp af gesny(nie regtig stomp nie ) My hare groei staaaadig Eenkeer in drie maande moet dit gesny word. Wanneer kan jul weer bietjie kontak maak?

    Liked by 1 person

  2. Toortsie, ek lag liewer net, want as ek moet begin weeklaag … My hare is ook nou hopeloos te lank vir die styl waarin hulle gesny is (so ‘n baster-outydse pageboy styl) en hang van bo en van die kante af in my oë. My hare is swaar en as ek dit nie ten minste elke tweede dag was nie, voel dit soos ‘n valhelm op my kop. Boonop is hierdie die seisoen waarin oortollige hare uitval – I’m shedding like a dog. Ek gaan hierdie aanhaak by InLinkz as jy nie omgee nie.

    Liked by 3 people

  3. 😂 Wel, ek het maar nou die dag my hare net so effentjies self bygedam met ‘n naelskêrtjie van alle dinge. Dit lyk darem nog heel aanvaarbaar, maar iewers sal ek ‘n kenner se hande in my hare nodig hê. Ek is nie grys nie, maar my sonstrepies is uit en die silversjampoo beteken ook nie juis iets nie. Sterkte vir die volgende ruk van ‘inhokkering’! 👍🏻🤣

    Liked by 2 people

  4. Ek voel so bitter jammer vir mense wat bloot hulle besighede moes sluit en nie eers van die huis af kan werk om ‘n geldjie te maak nie! Soos skoonheids terapeute en haarkappers. Die wereld se vroue gaan met kopdoeke en lang hemde en lang broeke tou staan wanneer daardie besighede weer oopmaak!

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!