Wonderlike toerusting in die hand

‘n Vriendin het een keer vir my hierdie prentjie geskets van ‘n jagter met ‘n sak pyle op sy rug. Sy het vertel dat wanneer jy die Here aanneem as jou Verlosser, Hy jou ‘n sak vol toerusting gee. Dadelik. Dis die sak pyle op jou rug, wat jy onmiddellik mag begin gebruik. Ek dink sommer nou dadelik aan die wapenrusting wat in Efesiërs 6 beskryf word: die waarheid, die vryspraak, die bereidheid om die evangelie van vrede te verkondig, geloof, verlossing, die Woord van God, gebed. Hy rus ons onmiddellik daarmee toe en ons mag dit met vrymoedigheid gebruik.

Sy vertel toe egter verder, dat, deur bybelstudie te doen, gemeenskap met gelowiges te hê, boeke te lees, die Woord te bestudeer, tyd met God te spandeer, kry jy oor tyd nóg pyle by om te gebruik, raak jou kennis van God meer, kry jy vrymoedigheid, raak jy opgeskerp, vaardiger.

Ek was altyd skaam om vir iemand te bid. Soos vir hom terwyl hy luister. Ek sou sê: ‘Ek bid vir jou,’ en dan sou ek dit beslis doen op my eie. Met tyd het ek geleer om my arm om die persoon se skouer te sit en vir hom te bid, gewoonlik het ek dan trane in my oë, dit kom sommer net vanself.

Oor tyd het ek ook geleer om vir iemand ‘n gebed te stuur via whattsapp of sms. Ek tik die gebed uit asof ek dit in woorde bid, of ek neem die stemboodskap op en stuur dit. Ek doen dit nie elke dag nie, net wanneer ek hierdie drang in my kry om dit te doen. Soms is ek skaam om dit te doen. Soms dink ek, wat sal hierdie persoon dink? Gaan sy nie ongemaklik wees nie?

Maar keer op keer kom die antwoord terug, baie dankie, dankie vir jou omgee, of dankie vir die gebed, ek het dit so nodig gehad.

En net soos wat ek die stuurder van ‘n gebed is, was ek ook al telkemale die ontvanger van ‘n gebed. Of van ‘n opregte ‘hoe gaan dit met jou?’ van iemand wat ek weet, omgee. Of ‘n ‘Toortsie ek dink aan jou.’ ‘Toortsie, is jy okay?’ Elke keer op presies die regte tyd, die presiese woorde wat ek op daardie oomblik nodig het.

En dít is NIE toevallig nie. Vir party mense mag dit vreemd klink, ek verstaan dit, maar ek weet dat dit elke keer ‘n direkte opdrag van God is en dat daardie persoon wat die boodskap aanstuur, maar net gehoorsaam was en die pyl tot haar beskikking gebruik het.

Dankie vir elke pyl wat iemand vir my stuur. Ek wil jou aanmoedig, gebruik daardie pyle in die koker (is dit die regte woord, koker?), dis tot jou beskikking daargestel en hoe meer jy dit gebruik, hoe vaardiger raak jy en begin jy dit met al hoe meer gemak gebruik.

Hê ‘n mooi dag.

Toortsie

15 thoughts on “Wonderlike toerusting in die hand

  1. Dankie Toortsie…hierdie blog is baie spesiaal omdat dit mense aanspoor om n journey aan te pak wat nuut is vir hulle ook. Sterkte. Mag Sy Gees jou vandag vul.

    Liked by 1 person

    1. I danced in the morning when the world was begun
      And I danced i the moon and the stars and the sun …
      Dance then, whenever you may be
      I am the Lord of the dance, said He
      And I’ll lead you all wherever you may be
      And I’ll lead you all in the dance, said He.
      ❤️

      Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!