Vanoggend se vraag in my hart

Ek het vanoggend met ‘n vraag in my hart wakker geword. Dalk het ek ‘n punt beet? Dalk het ek eerder die kat aan die stert beet. Wie weet? Dalk kan jy vir my help dink!

My vraag is:

Sal ons nou vir die res van ons lewens in afsondering moet bly, bang dat ons die virus sal opdoen? Want ons het geen weerstand teen die virus nie. Selfs met die beste pogings in die wêreld sal hulle mos nie die virus heeltemal kan hokslaan nie, of sal hulle kan? Sal ons in afsondering moet bly totdat elke moontlike geval gediagnoseer is?

En wat van soveel mense wat nooit gediagnoseer raak nie, wat net liggies geraak word deur Corona en sonder dat hulle dit besef, die virus versprei? Of gaan ons op ‘n punt kom wat ons fatalisties begin dink, nou lewe ek en kom wat wou? Sal ons op ‘n punt kom wat ons sal sê, my saak met die Here is reg, kry ek die virus en gaan dood, is dit reg? Die probleem is dan weer die ander mense wat jy sal aansteek met so ‘n houding, wat dalk nie soos jy daaroor voel nie.

Want, gestel daar is net EEN persoon wat steeds die virus het wanneer die inperking opgeskort word, gaan dieselfde mos maar weer gebeur wat nou gebeur het toe net EEN persoon in die wêreld die siekte gekry het, wat ander aangesteek het, wat dit een vir een na die res van die wêreldlande oorgedra het, een vir een na verskillende provinsies, verskillende stede, verskillende dorpe oorgedra het. As elke liewe persoon wat ‘n draer van die siekte nie gevind word nie, wat dan?

Ek is dankbaar dat ek nie die mense is wat in die warm stoele moet sit en nou oplossings moet uitdink vir die hele land en ook sommer vir die hele wêreld nie, want ek dink nie daar ís oplossings nie. Ek dink nie íemand weet wat die antwoord is nie, want daar was nog nooit in die geskiedenis só ‘n vraag nie.

Wat dink jy? Het jy al daaroor gedink? Gaan ons vir die res van ons lewe in vrees lewe, of gaan ons dalk ‘n nuwe lewensuitkyk kry?

Wat mos wel waar is, is dat ons die verspreiding van die die virus verstadig deur die proses. Dat ons die hospitale kans gee om minder mense op ‘n slag te behandel.

Ek het nie die antwoord nie. Intussen is ek dankbaar dat ek nog nie die virus het nie. Dankbaar dat ek in ‘n ruim huis die inperking kan beleef. Dankbaar dat hier ‘n kleine stukkie oprit is waarin ek kan op en af en op en af en op en af stap. Dankbaar dat ek nie in ‘n kleine sinkhok sonder die heel basiese geriewe vasgedruk hoef te sit saam met ses of tien ander mense nie. Intussen vertrou ek dat die medici teen rekordspoed navorsing doen en antwoorde soek, dalk ‘n teenmiddel, dank ‘n entstof wat kan werk. Dankbaar vir elke mens wat die virus opdoen en gesond raak. Dankbaar vir my Hemelse Vader wat saam met my hier is.

Toortsie

23 thoughts on “Vanoggend se vraag in my hart

  1. Daar is baie vir ons om dankbaar te wees. Ek wonder ook oor party van hierdie probleme, maar glo dat as ons almal saam speel gaan ons van hierdie virus ontslae raak. Die groot probleem is dat 21 dae nie genoeg gaan wees nie. Sterkte vir jy en jou familie – ons moet almal versigtig wees gedurende hierdie moeilike dae.

    Liked by 1 person

  2. Die slim mense sê ons behoort ‘n goeie entstof te hê teen die corona virus binne die volgende 12 – 18 maande. Die virus gaan dus dieselfde pad stap as pokke. Dit wat eens op ‘n tyd ‘n reuse vrees en dodelike siekte was het amper verdwyn omdat kinders daarteen ingeënt word.

    Liked by 2 people

  3. Ek het ook al gewonder hoe lank hierdie isolasie nog gaan voortduur. Ek dink nie in my geval, persoonlik, kan ek eerlik sê dat self-isolasie my nie so vreeslik gaan pla in die winter nie. Ons is gewoond aan huisarres daardie tyd van die jaar – maar die somer is ‘n anderstorie.

    Like

  4. Daar word nou ook beweer dat daar mense is wat virus het maar geen simtome wys nie. Ons het hier n ruk terug n uitbreek van masels gehad net omdat kinders nie almal ingeënt word hier nie. 21 dae kan genoeg wees as almal saamwerk wat onmoontlik is. Ons het 4 weke isolasie wat heel moontlik verleng gaan word. Dan gaan daar dele wees waar geen virus gevind is nie kan hul n stap terug werk na wel gaan werk. Dis maar alles oor hoe alles ontwikkel. Groetnis daar en bly tuis.

    Like

    1. Ongeveer 35% van die mense wat positief is, is simptoom vry, soos met ander siektes. Dis juis daar waar die gevaar lê. Maar dat dit gaan ophou is verseker, dit moet ons glo met ons hele hart en siel

      Liked by 1 person

  5. Ek dink hulle glo dat ons mettertyd ‘n weerstand sal opbou en dan hoop hulle natuurlik vir intentingstowwe daarteen. My bekommernis is dat as hierdie eenmaal kon gebeur, kan dit weer gebeur. Volgende keer net ‘n ander virus. Ek dink die mensdom sal wel moet besin oor sy leefstyl en hoe ons omgaan met die natuur, veral met diere. Tevore was dit varkgriep en toe voëlgriep en wie weet wat nog kan kom?

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!