‘n Bos blomme

Ek is nie ‘n goeie tuinier nie. Tog het ek ‘n groot tuin op die plaas gehad wat ek saam met die huis gekry het. En ou Klok, die tuinman.

Die vorige vrou wat in daardie huis gewoon het, was ‘n kranige tuinier. Die tuin was goed beplan en uitgelê volgens die reëls van daardie tyd. Pragtig. Geel blomme bymekaar, wittes bymekaar. Daar was orde, struktuur, proporsie en al die ander regte woorde wat by ‘n goed beplande plaastuin hoort. ‘n Lushof.

Soos reeds gesê, het ek vir Klok saam met die tuin gekry. Of hy voorheen in die tuin gewerk het, weet ek nie. Ook nie of die drie ganse op die dam syne was, of nie. Dit maak nie saak nie, ou Klok het aangehou in die tuin en alles netjies gehou tot sy dood.

Aanvanklik het ek probeer om die kleure mooi bymekaar te hou soos dit was, maar soos daar openinge gekom het, het Klok plantjies begin verplant. Deurmekaar. En ek het nie eintlik geweet hoe om dit anders te doen nie.

Toe begin ek ook steggies maak en oral indruk, pakkies saad die wêreldvol strooi en voor ons ons kom kry, was dit ‘n deurmekaar mengelmoes van kleure wat niemand geweet het hoe om reg te stel nie.

Ek was mal oor Inka-lelies en het een keer ‘n klomp kleure per pos bestel. Mettertyd het die Inkas al hoe meer geword. Oral in die tuin waar daar plek was, het die Inkas gestaan. Iemand het een keer gesê dis ‘n slordige plant, maar ek het nie omgegee nie. Vir ‘n groot deel van die jaar het hulle vreugdevol geblom en kon ek bosse vol blomme vir mense gee.

Dit was my grootste vreugde om ‘n bos blomme saam met iemand te stuur as hulle vir ons kom kuier het.

Soggens voor ek weekliks dorp toe is, moes die tuinman of -vrou vir my bossies Inkas maak. 20 stele in ‘n bossie, blare afgemaak, netjies bymekaar gebind met ‘n rekkie. So tien bosse word in ‘n emmer wat net ‘n klein bietjie water inhet, gesit. Waar ek dan in die dorp iemand raakloop, deel ek dan blomme uit. Ook in die ouetehuis.

Dit was só lekker. En hierdie onthou is as gevolg van ‘n foto wat Pete op sy Instagram gesit het. Dankie, Pete, dit was nou regtig ‘n lekker onthou.

Toortsie

19 thoughts on “‘n Bos blomme

      1. Goeie benaming. Hier is ook n tuin waar ek elke oggend verby loop wat alle kleure in die tuin het. Die vrou doen regtig moeite om die blomme op te volg met ander soos die seisoen verander. Sy koop maar haar plantjies maar steeds sy doen moeite. Sy het ook hangmandjies met die mooiste begonias.

        Like

        1. Ekbewonder sulke mense. My gied het sommer net opgekom wanneer hulle wou. Ek het een keer ‘n pakkie daisies gekoop. Saad. Wanneer hulle klaar geblom het, het ek en die plaaskinders die knoppies afgepluk wn die hele werf vol gestrooi. Elke jaar het ons dit net verder versprei. Elke jaar in die lente het daardie hele werf wit staan van al die daisieblommetjies. Dit sal nou nog daar wees. 😁

          Like

  1. My broer het vir drie jaar lank sy hele tuin vol inkas geplant. Hy het bossies gemaak en verkoop by die tuisnywerheid (arts & crafts winkel) waar sy vrou gewerk het. Later plantjies ook verkoop. Toe word hy seker moeg daarvan, want een jaar toe ek weer gaan kuier het, was sy hele erf vol potte met rose. Die jaar daarop was dit aalwyne. Ek weet nie wat hy nou kweek nie, want ek moes my voorgenome Johannesburg kuiertjie vir April uitstel.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s