Innoverendheid

Dit is mos so dat wanneer daar een deur toegaan, ‘n ander een gewoonlik oopgaan. Dat, wanneer dinge die onmoontlikste lyk, mense die beste nuwe planne uitdink. In die laaste paar dae het ek ‘n paar sulke nuwe dinge beleef. Dalk was die meeste van hulle reeds daar en ek het dalk net nie daarvan geweet nie. Dalk was dit dinge wat reeds daar was wat nou ‘n trappie verder ontwikkel het, of dalk is dit nuwe uitvindsels.

Om mee te begin, maskers. Met die tekort aan maskers en die onuitputlike behoefte daaraan, maak mense allerhande planne. Sommiges vou handdoekrol met rekkies wat om die ore kom. Sies tog, ek het nou die dag ‘n vrou so jammer gekry by Diskem. Sy was behoorlik angstig. Ek moet sê, ek was ook maar grillerig. Sy sukkel toe met so ‘n handdoekrolmasker wat aanmekaar van haar oor afspring. Terselfdertyd het sy al haar dae met die ander klante wat te naby aan haar staan. Sy kon net nie klaarkry en uit die winkel kom nie, want as die masker nie afspring nie, stap iemand te naby aan haar verby.

‘n Baie vindingryke vriendin wat die inperking stokalleen in ‘n groot gastehuis deurbring, het begin materiaalmaskers maak, ewe met ‘n gleuf tussen die twee lae waar jy nóg ‘n beskermingslagie kan inskuif as jy sou wou. Sy kan nie voorbly nie.

Chantelle, van Slaai sonder Blare, het ‘n probleem: Mense steel haar woorde, haar bloginskrywings en maak of dit hulle eie is. Plagiaat. Daardie bloginskrywings wat sy uit die liefde van haar hart doen. Nou het sy ‘n baie innoverende plan uitgedink waar sy steeds haar liefde vir woorde kan uitleef, maar op ‘n ander manier. Sy skryf dit en dan neem hulle ‘n youtube video op waar sy haar geskrewe stuk voorlees. Oulik, né?

In hierdie tyd van afsondering het ek beleef hoe besighede wat moet voortgaan met uiters belangrike werk, hul kantore na hulle huise skuif. Ja, ek het al die jare my kantoor in my huis gehad en dit het goed gewerk. Ook glo ek dat baie mense baie effektief so kan werk terwyl dit nie vir ander sal werk nie. Hulle hou spanvergaderings oor die internet, hou bybelstudiesamekomste oor die internet, speel speletjies oor die internet. Ek dink dat dit iets is wat nou baie stewig gevestig sal raak in hierdie tyd en dat daar nuut gedink sal word oor kantoorspasie, raadsaalspasie en dies meer.

Skype is al jare in gebruik, maar jy kan selfs ‘n belangrike afspraak wat jy in die verlede in persoon sou doen, per skype doen. En ek stap 3,5 km net in die erf heen en weer en weer. Kerke stuur videoboodskappe uit.

Om hulleself besig te hou, leer mense nuwe stokperdjies aan. Hulle doen die dinge waarvoor hulle net nooit tyd kry nie. Ek het al soveel keer gelees dat ons as ouers so bang is dat ons kinders verveeld sal wees, maar dat dit juis in tye van verveling is wat nuwe, innoverende idees uitgedink word! Kyk maar net al die video’s wat die rondte doen. Al die planne wat mense uitdink!

Maar musieklesse? Hoe maak die musiekjuffrouens? Musiekles is tog iets wat ‘n mens met die persoon self moet werk? Ek praat nou nie van leer jouself kitaar oor die internet nie. Martjie Snyman gee haar kinders afstandsonderrig deur middel van Whattsapp Video call. Is dit nou nie oulik nie? Op dié manier kry die kinders steeds hulle lesse sonder die gevaar dat hulle die virus kan opdoen.

Toortsie

9 thoughts on “Innoverendheid

  1. Baie vindingryke mense. Selfs die you tube tannie wat ek volg met haar kwiltmakery het besluit om spesiaal te wys hoe om maklik die lagies materiaal te sny, op mekaar te sit en rekkies in te sit. En sie daar, jou eie masker. Hier doen die onderwyseresse nou almal aanlyn hul klasse. Dis darem uitkoms wat ons vandag het met die tegnologie saam.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!