Gooi-gooi so!

Hoe koop die boere gooi-gooi so, gooi-gooi so, gooi-gooi so, hoe koop die boere gooi-gooi so, gooi-gooi so hoera! Die Kaapse nooi gooi tingelingeling, tingelingeling hoera! Die Kaapse nooi gooi tingelingeling, tingelingeling hoera!

Blykbaar, om die nodige afstand te behou tydens die tye van isolasie wat ons tans beleef, moet ‘n mens blykbaar nou by sekere winkels omtrent ‘n myl van die kassier af staan en dan jou kruideniersware vir die kassier gooi. Ai, jai, jai! Kameel is mos ‘n baasgooier, so sy sal met vlieënde vaandels deur hierdie kopery gaan.

Toortsie, en Seegogga is egter ‘n ander verhaal. Húlle sal met vlieënde kruideniersware die ding doen. Kruideniersware wat in enige rigting vlieg, behalwe na die regte kassier. Wel, ek kan nou nie heeltemal namens Seegogga praat nie, maar ek weet vir ‘n feit my kruideniersware sal op énige plek beland, behalwe die regte toonbank! Ander kassiere en klante sal moet koes vir al wat hulle het.

Dit laat my dink aan die keer wat ons by vriende gekuier het en hulle so ‘n balspeletjie gehad wat jy ‘n ander bal moet raakgooi terwyl jy agter ‘n lyn staan. Jy moes die bal ook so van onder af gooi. Wat die speletjie se naam is, weet ek nie, name is mos nie my sterkpunt nie. En gooi mos nou ook nie.

Wanneer dit my beurt is, gooi ek sommer net. Ek weet nie wanneer om die bal te los nie. Ook nie waar om te kyk nie. As dit hoe is, staan ek sommer met die ander en gesels terwyl ek gooi terwyl ek glad nie konsentreer nie. Asof konsentreer enigsins ‘n faktor is as Toortsie gooi!

Wel, van almal het Toortsie en haar vriendin daardie dag die heel meeste balle raakgegooi! Hoe, weet sy self nie! Gelukkig het ‘n bal in die regte rigting gerol. Of dalk het die engele gehelp bal skuif. Geen vaardigheid teenwoordig nie. En dan wil ek byvoeg: Dit was slegs een keer. Dit sal nie weer so werk nie.

Mag julle veilig en gesond bly.

Toortsie

14 thoughts on “Gooi-gooi so!

  1. Ek kan baie goed vang. Het dit as klein dogtertjie by my pa se bricklayers geleer. Die baksteen word daar van die grond af opgegegooi (soos in opgewerp) en jy wat bo-op die halfklaar muur staan, moet jou vang ken. My gooi is egter nie so akkuraat nie.

    Liked by 1 person

  2. Ballsense het ek ook nie. Daai inkopietog gaan heerlik wees.
    Ek wonder of mens by die bottelstoor ook die drank moet gooi? En wie betaal vir al die gebreekte bottels? (Vra namens ‘n vriend) Papsak gaan weer mode raak

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!