
‘n Lig van Hoop is die eerste boek van Connilyn Cossette wat ek lees en wat ‘n lekkerte was dit nie! Die boek het my aandag gegryp van die eerste bladsy af en dit behou tot die end.
Dis ‘n pragtige liefdesverhaal wat afspeel in die tyd van Josua. Op daardie stadium het die Israeliete al ‘n groot deel van Kanaän verower en die grond was verdeel tussen die stamme. Daar was egter nog ‘n groot gebied wat verower moes word. Gevaarlike tye.
Moriyah was ‘n Israeliese dogter, haar pa was ‘n Egiptenaar. Sy is gebore tydens die tyd van die Eksodus terwyl die Israeliete nog in die woestyn was. Sy moes al ‘n paar uitdagings in haar lewe oorkom en soos haar lewenspad verloop, het daar ook nuwes gekom. Het sy besef dat haar manier van oplossings dalk op daardie stadium die regtes gevoel, maar dat dit nie noodwendig altyd so reg was nie.
In hierdie boek lees ek verwerping, haat, woede, skaamte, maar ook opregtheid, liefde, getrouheid, lojaliteit. Moed. Waagmoed.
Connilyn Coseete kry dit reg om die spanningslyn tot aan die einde van die storie te behou. Sy hou die storie interessant en vol verrassings wat ‘n mens nie vooraf voorspel nie. Sy verlig die Israelitiese gebruik van asielstede, hoe dit werk, die reëls daaromtrent, die genade daaromtrent. Ons kry ook ‘n kykie oor gebruike van die Kanaäniete. Sonder dat dit in jou keel opgedruk word, sien jy ook Moriyah se verhouding met God raak, haar twyfel soms, die tye wanneer sy meer verwyderd is van Hom, maar ook hoe ‘n innige en diep verhouding met Hom groei.
Die boek is vertaal uit Engels, A Light on the Hill. Dis ‘n uitstekende vertaling.
Ek sal graag nog boeke van Connilyn Cossette wil lees. Ek beveel hierdie boek met ‘n oop gemoed aan.
Toortsie
Vir nog boekbesprekings, kliek HIER, of volg my by Pinterest.
Klink soos n boek wat ek sal geniet..
LikeLike
Ek het die boek regtig baie geniet.
LikeLike