Op ‘n ligter noot

Ek is nie heeltemal so seker of dit op Rebusfontein is of by my eie huis nie, Rebus en my huis is so met mekaar vervleg en ek hét ‘n klavier op Rebusfontein én by die huis. By die see ook, maar dit was nie daar nie.

Skielik roep my klavier my. En wanneer hy roep, móét ek gehoor gee. Uit die hoop boeke haal ek 50 Geestelike Treffers Volume 2, ‘n ou gunsteling waaruit ek lanklaas gespeel het. In hom het ek nog ander mooi geestelike liedjies ook geplak, bo-oor liedjies wat ek nie eintlik sommer sal speel nie.

Ek begin met Ek soek U, o God, my God, ek dors na U God. Soos ‘n land sonder water wil ek tot U nader om by U te wees … Ek speel dit peinsend. Elke woord drink in. Want U liefde is meer werd as die lewe, daarom sal ek U vir altyd prys; my hande ophef om U Naam te eer, want U is die Heer vir wie ons lewe, lewe, lewe …

Met ‘n bietjie meer ywer speel ek My pa is die koning van die heelal, jy weet, en kom wat wil ek sal dit nooit vergeet nie die wind kan maar waai die berge kan val Hy’t gesê hy voorsien en Hy sal … my Pa is die Koning onthou, my Pa is die Koning onthou!

En dan kom Koos du Plessis se gebed, diep uit my hart. Laat my nooit die grond verlaat nie. Laat my in U skadu bly. Gee dat elke aardse vreugde en vrees eindlik nietig word vir my. Elke afdraaipaadjie ken ek. Elke keer het ek gedwaal. Elke keer het U my iewers kom haal, maak dit Heer die laaste maal.

En dan begin ek sweef soos ‘n arend want Sy liefde dra ons so hoog, hoog bo die son. En ek sweef. Ek sweef regtig soos ‘n arend in die Here se krag.

Dan stap ek langs die Via Dolorosa, en besef dat elke hou wat Hy kry het ons vir Hom gegee en die bloed wat uit Hom vloei het ons skuld weggevee. Langs die Via Dolorosa die weg van smart en pyn soos ‘n lam stap ons Koning en ons Heer.

My hart raak al ligter. Ek speel met meer oorgawe. Met geesdrif. Ek is besig met my klavier, my musiek, my Here. Net ons twee. Dit raak tyd vir klaarspeel, hier is baie werk om te doen.

Ek sluit af met Halleluja. Ek begin sag met min begeleiding. Ingetoë. Halleluja halleluja halleluja … Met die eerste herhaling ‘n bietjie meer ondersteuning in die linkerhand. ‘n bietjie meer volume. Dan nog ‘n bietjie harder met die regterhand ‘n oktaaf hoër. Dan voluit met beide hande. Jubelend.

My musiek is lig. My hart is lig. Halleluja. Ek stap daar weg met ‘n ligter tred. Lig. Jubelend. Halleluja!

Toortsie

14 thoughts on “Op ‘n ligter noot

Gesels saam, asseblief!