Beveilig ons kinders

‘n Wonderlike boek het in my skoot beland: Protecting your child from predators. How to recognize and respond to sexual danger. Beth Robinson, EdD and Latayne C. Scott, Phd.

‘n Wonderlike boek oor ‘n nare onderwerp. Ongelukkig is hierdie onderwerp ‘n realiteit. ‘n Nare realiteit. Of ons dit wil erken of nie. Die persentasie seuntjies én dogtertjies wat gemolesteer word, is angswekkend. En dit gebeur op alle vlakke van die samelewing: van die rykstes tot die armstes, van die slimstes tot die ongeletterdstes. En nog ‘n ding, die meeste van die kere word dit deur iemand gedoen wat bekend is aan die slagoffer. Iemand wat jy eintlik veronderstel is om te vertrou.

Hierdie boek help ons om ons as ouers, volwassenes, toe te rus om ons kinders te help sodat ons ons kinders kan toerus sonder om paranoïes te wees. Sodat ons kinders kan leer om ‘nee’ te sê. Sodat ons kinders kan weet dat hulle ons as hulle naby volwassenes kan vertrou om vir ons te kom inlig as iemand met hulle lol. Sodat ons kinders kan weet wat om vir die persoon te sê as hy/sy kom met dat dit ‘n geheim is, dat hulle nie vir hulle ouers mag vertel nie. Sodat ons ‘n bietjie beter kan weet hoe om te reageer as so iets wel een van ons kinders oorkom.

Hierdie boek leer ons om ‘n ‘warrior’ te wees, ‘n ‘warrior heart’ te hê. Om te veg teen hierdie duiwelse mag. Om ons en ons kinders toe te rus sodat ons weerstand kan bied in die dag van onheil. Sodat ons ons kinders toegerus die wêreld kan instuur. ‘n Toegeruste kind is ‘n baie veiliger kind as een wat totaal op sy eie moet staan sonder die nodige toerusting. Dit verg tyd. Dit verg onderrig. Dit verg liefde.

Die boek is opgedeel in drie afdelings: Kinders onder vyf jaar, kinders ses tot elf jaar, Twaalf jaar en ouer. Want kinders van verskillende ouderdomsgroepe verskil. Die manier wat ons met hulle werk verskil. Die manier waarop hulle reageer verskil.

‘n Vriendin wat hierdie boek reeds gelees het, voel dat elke persoon dit moet lees: Pa, ma, oupa, ouma, kinderversorger, onderwyseres. Enige persoon wat iewers met kinders te doen kry.

Toortsie

Vir nog boekbesprekings, kliek HIER, of volg my by Pinterest.

8 thoughts on “Beveilig ons kinders

  1. As mens so nou met kinders werk leer mens die tekens makliker raak. Probleem nou is dat alles so dig gehou word is dit nie maklik om dinge oop te maak wat mens is nie in n posisie om te kan inmeng nie. Juis die afgelope 2 jaar gebeur en ek het probeer maar niks bereik nie.

    Liked by 1 person

      1. Beslis. Hier is juis n 4 jarige seuntjie wat aangerand is en met breinskade en amper dood opgeneem is in die hospitaal. Hy lewe nog maar hy is vir sy lewe gebreek. Die familie en vriende wat weet wat gebeur het praat nie want dis glo in tradisie dat jy jou familie beskerm. Die pa het al n vorige klag gehad. Kind is weggeneem en is onlangs terug aan ouers gegee. Tragies.

        Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!